Pienk diamant vir rekordbedrag verkoop

Die Pienk Ster-diamant Foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth

Die “Pienk Ster”-diamant is Dinsdagaand vir ʼn rekordbedrag by ʼn veiling van die Britse afslaers Sotheby’s in Hongkong verkoop.

Drie kliënte het in die diamant belanggestel voordat ʼn koper op die telefoon die bod gewen het met $71,17 miljoen (ongeveer R967 miljoen). “Die bieër was op die telefoon met Kevin Ching, ons uitvoerende hoof in Asië,” het Sotheby’s op Twitter gesê.

Die 59.6 karaat pienk diamant was deel van die maatskappy se Manjifieke Juwele-veiling. Dit is ovaalvormig en het die hoogs moontlike kleur- en helderheidgradering van die Amerikaanse instituut vir edelsteenkunde (GIA) verwerf.

De Beers het dit in 1999 gemyn en die ongeslypte diamant het 132,5 karaat geweeg voor Steinmetz Diamonds twee jaar lank daaraan geslyp en poleer het.

“Die besonderse grootte en rykheid van kleur is verhewe bo enige ander pienk diamant wat in die geskiedenis opgeteken is,” het David Bennett, wêreldwye voorsitter van Sotheby’s se juwele-afdeling, gesê.

Die vorige rekord vir ʼn pienk diamant was die “Graff Pienk”, ʼn 24.78 karaat diamant wat in November 2010 vir $46,16 miljoen in Genève deur Sotheby’s verkoop is.

Die “Pienk Ster” is aanvanklik in 2013 vir meer as $83 miljoen verkoop, maar die bieër het nie die betalings volgehou nie. Die koper, Isaac Wolf, ʼn diamantslyper in New York, het in daardie stadium aan media gesê ʼn konsortium beleggers het hom gehuur om op die edelsteen te bie.

Die huidige prys-per-karaat-afslaersrekord vir diamante is “Die Blou Maan van Josephine”, ʼn 12.03 karaat blou diamant wat in 2015 vir $48,5 miljoen aangeskaf is deur Joseph Lau van Hongkong.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

… ja! En uit Suid-Afrika. En nou sien ons weer hoekom die jaloesie en die begeerte om ons land te wil besit. Dis waaroor alles nou hier gaan…

Grassie ·

‘n Diamant is eintlik maar net ‘n saamgeperste stuk koolstof, ek kon nog nooit verstaan waarom dit so ‘n groot bekoring vir die mensdom inhou nie. Die meisie is mooier as die diamant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.