Pikkewyne wat mekaar ‘troos’ wen fotokompetisie

Foto: Tobias Baumgaertner (tobiasvisuals/Instagram)

ʼn Foto van twee pikkewyne wat lyk of hulle mekaar troos, het met die eerste prys weggestap in Oceanographic-tydsrif se fotokompetisie.

Die foto, wat die tydskrif se Community Choice-toekenning gewen het, is deur Tobias Baumgaertner by die St Kilda Pier in Melbourne, Australië, geneem. Hy is in kennis gestel dat albei pikkewyne hul maats verloor het en mekaar gereeld ontmoet om mekaar te troos.

“Hierdie twee kleinpikkewyne het ure lank op die rots gestaan en oor die Melbourne-kimlyn en oseaan uitgestaar,” het die Duitse fotograaf in Maart op Instagram geskryf toe hy die foto aanvanklik gedeel het. Die foto het baie lof ontvang op dié sosialemediaplatform. “ʼn Vrywilliger het my genader en gesê die wit een is ʼn bejaarde wyfie wat haar maat verloor het en die jonger mannetjie, links, het glo ook sy maat verloor. Sedertdien ontmoet hulle mekaar gereeld en staan ure lank saam om na die dansende liggies van die nabygeleë stad te kyk.”

Die foto is wyd gedeel terwyl die wêreld op soek was van ʼn greintjie hoop en vreugde te midde van die wêreldwye Covid-19-pandemie.

“Ek het die foto van dié twee kleinpikkewyne bietjie meer as ʼn halfjaar gelede gedeel en dit het sedertdien wêreldwyd versprei. Miljoene mense het dit al gesien en ek het duisende boodskappe en kommentare ontvang van hoe dié twee pikkewyne mense se hartsnare geroer het en vreugde, hoop en liefde in hul lewe gebring het,” het Baumgaertner verlede maand bygevoeg.

St Kilda Pier in Melbourne is die tuiste van sowat 1 400 kleinpikkewyne. Kleinpikkewyne is die wêreld se kleinste spesie pikkewyne en word aangetref op die kuslyn van suidelike Australië en Nieu-Seeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.