Pistool gekap wat nes speelgoedwapen lyk

Culper Precision se Block 19-pistool. (Foto: Facebook)

’n Amerikaanse wapenvervaardiger het wyd kritiek ontlok vir sy vervaardiging van ’n regte pistool wat op ’n druppel na ’n Lego-speelgoedwapen vir kinders lyk.

Die ontwerp van die pistool word veral gekap gegewe die feit dat ook kinders die slagoffers is van massaskietery in die VSA en dat talle noodlottige voorvalle reeds aangemeld is waar kinders per ongeluk vuurwapens afgevuur het.

Lego, die Deense vervaardiger van die bekende boublokkies, het onlangs die wapenvervaardiger Culper Precision in die Amerikaanse deelstaat Utah versoek om die vervaardiging van sy vuurwapenomhulsel van rooi, blou en geel te staak.

Brandon Scott, uitvoerende hoof van Culper Precision, het intussen bevestig dat die maatskappy besluit het om die pistool aan die mark te onttrek nadat hy minder as 20 van dié pistole verkoop het.

“Ons organisasie het na Lego uitgereik wat toe ’n brief aan die roekelose wapenvervaardiger gerig het,” sê Shannon Watts, stigter van die groep Moms Demand Action, wat hulle beywer vir strenger wapenbeheer.

Die kleurvolle baksteenontwerp van Culper Precision se semi-outomatiese wapen wat verlede maand as ’n “Block 19” bemark is, stem ooreen met die kleurvolle ontwerp van Lego-boublokkies.

Die Block 19 kos tussen $549 (sowat R8 000) en $765 (sowat R11 000) “en ja, jy kan met Lego daarop bou,” het Culper Precision verlede maand in ’n plasing op Facebook gesê.

“Hier is een van daardie kinderdrome wat bewaarheid word.

“Gewere is lekker. Skiet is lekker. 30 patrone is lekker,” het die maatskappy ook op sy webwerf geskryf. Die Block 19 is sedertdien van Culper Precision se webwerf verwyder.

Watts het intussen aan die Washington Post gesê haar eerste reaksie toe sy diespeelgoedwapen gesien het, was dat dit “siek” is en dat “kinders gaan sterf”.

Sy het ook daarop gewys dat dit volgens die organisasie Everytown vanjaar reeds meer as 165 keer gebeur het dat kinders in die VSA per ongeluk ’n vuurwapen afgevuur het.

Verlede jaar is 142 mense in die VSA dood, nadat kinders of minderjariges per ongeluk ’n vuurwapen afgevuur het.

Die omstredenheid rakende die Block 19 volg te midde van pres. Joe Biden se verbintenis tot die stryd teen die “epidemie” van vuurwapengeweld.

Die Demokraat het in Junie maatreëls voorgestel om die verspreiding van vuurwapens op federale vlak te beperk, maar die Amerikaanse Kongres is diep verdeeld oor die kwessie en die Demokrate sukkel om wetgewing deur te voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Phillip ·

Jakez vrae dit ek het self gedink dis legous tot ek die berug gelees het “‘wat het hulle gedink”‘

Harley Davidson ·

Die wapen is nie ‘n probleem nie die mens in beheer van die wapen is die probleem maak jou kinders met waardes , liefde en respek groot en jy kry ‘n voorbeeldige volwassene.

Toy ·

Jasper ek stem saam, maar daar is kinders wat nie so groot gemaak word nie, die ouers is self ook ‘n probleem.

Elinette ·

Dis nie die vuurwapen wat die probleem is nie. Dit is die MENS in wie se hand die vuurwapen is, wat die probleem is. ‘n Vuurwapen kan homself nie afvuur nie – dit het ‘n vinger op die sneller nodig om af te gaan.

VaalDonkie ·

Ek wil graag een he. Hulle kan maar hierdie kant toe gooi as hulle wil.

ES ·

Ek ook, dit sal darem maar koppe draai op die skietbaan. My gewone Glock 19 lyk maar bra vervelig teenoor hierdie kleurvolle een.

Janine ·

Dis nie vuurwapenvervaardigers se skuld dat kinders ‘per ongeluk’ skiet of geskiet word nie. Dit is die betrokke vuurwapeneienaar se skuld. Jou vuurwapen hoort tog aan jou, of toegesluit in ‘n kluis.

VaalDonkie ·

Dis presies wat in die Vuurwapenbeheer wet geskrywe staan. My geweer le hier langs my op my lessenaar by die huis. Saans is hy daar waar ek (en net ek) hom vinnig kan gryp. Verder slaap hy in die kluis. Dis net die beste so. My vrou het saam met my bevoegdheid gedoen, en ons het vir verdere opleiding en skiet kompetisies gegaan so sy kan hom ook veilig en doeltreffend gebruik. En my kind sal leer sodra sy oud genoeg is. Maar net EK het toegang tot die kluis en net EK het beheer oor my vuurwapen totdat ek iemand toelaat om onder my toesig die ding te hanteer. Alles volgens die wet en regulasies.

ES ·

Wat ‘n klug – speelgoedwapens lyk in elk geval soos die ware Jakob, so nou is daar ‘n probleem omdat dit te veel na ‘n speelgoed geweer lyk?

Verregaande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.