Pitt dagvaar Jolie oor verkope van Franse wingerd

Angelina Jolie en Brad Pitt. Foto: Charles Sykes/Invision/AP, File

Brad Pitt dagvaar Angelina Jolie omdat sy haar deel van die Franse wingerd, waar hulle getrou het, verkoop het.

Die twee supersterre, wat in ʼn stadium Hollywood se bekendste paartjie was, het in 2008 ʼn beherende aandeel van die Chateau Miraval in die suide van Frankryk gekoop. Hulle het ses jaar later daar trou aan mekaar beloof.

Hulle huwelik het egter in 2016 skipbreuk gelei en die twee is sedertdien in verskeie hofsake gewikkel, insluitend toesigregte oor hul ses kinders.

Volgens hofdokumente wat Pitt Donderdag in Kalifornië ingedien het, het die egpaar “ingestem dat hulle nooit hul onderskeie aandele in Miraval sal verkoop sonder die ander een se goedkeuring nie”.

Jolie het egter verlede jaar in Oktober haar aandeel verkoop “aan ʼn alkoholvervaardiger gebaseer in Luxemburg wat deur die Russiese oligarg Yuri Shefler beheer word”, aldus die regsdokument wat AFP bekom het.

Pitt voer aan Jolie het die bepalings van hul oorspronklike ooreenkoms verbreek deur nie die aandeel eerste aan hom beskikbaar te maak nie en dat sy “onverdiende meevallerwins vir haarself wil bekom terwyl sy onnodige skade aan Pitt berokken”.

Foto: Miraval/Facebook

“Jolie het al lank gelede opgehou om ʼn bydrae te lewer aan Miraval, terwyl Pitt geld en harde werk ingestoot het en dit opgebou het tot die vooruitstrewende maatskappy wat dit vandag is,” lui die dokument.

Pitt se saak vereis dat die saak deur ʼn jurie aangehoor moet word.

In die saak word die wingerd beskryf as “ʼn klein wynonderneming wat nie enige wins getoon het nie” en “desperaat opknapping benodig het” voor die egpaar in 2008 betrokke geraak het.

Die twee het “ongeveer $28 miljoen (sowat R423,2 miljoen)” betaal, met Pitt wat 60% bygedra het en Jolie die oorblywende 40%.

Pitt het egter intussen vir opknappings betaal “tot so mate dat dit heeltemal buite verhouding is met sy eienaarskap-aandeel” – met begrip dat Jolie nie uit die belegging sal onttrek sonder sy goedkeuring nie.

Pitt het ook Marc Perrin, een van Frankryk se top-wynmakers, betrek om die onderneming om te draai en daarvan ʼn vooraanstaande rosé-wynvervaardiger te maak, maar “Jolie was hoegenaamd nie betrokke by dié pogings nie”.

Inkomste uit die wingerd het na raming toegeneem van $3 miljoen in 2013 tot meer as $50 miljoen (R755,8 miljoen) verlede jaar. Miraval het onlangs ʼn nuwe reeks rosé-vonkelwyne bekendgestel.

ʼn Bron met kennis oor die saak het aan AFP gesê Jolie “wil opbrengs verdien uit ʼn belegging wat sy nie gemaak het nie en winste wat sy nie verdien het nie”.

Jolie se prokureurs sê die dagvaarding is nog nie op die aktrise bedien nie en haar verteenwoordigers “het in die media van die saak te hore gekom”.

“Ek verstaan dat mnr. Pitt daarvan bewus is dat me. Jolie op ʼn langafstand kommersiële internasionale vlug is saam met haar kinders. Sy is nie bereikbaar nie en nie in staat om te reageer nie,” het Robert Olson in ʼn verklaring aan AFP gesê.

Tenute del Mondo, die maatskappy wat Jolie se aandeel gekoop het, sê in ʼn verklaring hy het “besluit om in Miraval te belê omdat dit ʼn besonderse wyn en handelsmerk is wat sy bestaande portefeulje komplementeer”. “Ons het dié vennootskap aangegaan omdat ons die talent, vaardighede en verspreidingskanale kan bring wat die Miraval-aanbod selfs verder sal vergroot en van Miraval die mees suksesvolle handelsmerk sal maak vir rosé-wyn en vonkelwyn.”

Pitt en Jolie se verhouding het begin toe hulle saam as getroude sluipmoordenaars in die 2004-fliek Mr. and Mrs. Smith gespeel het. Pitt was in daardie stadium met Jennifer Aniston getroud.

Pitt (nou 58 jaar oud) is daarvan beskuldig dat hy een van sy kinders geslaan het op ʼn vlug van Frankryk na Los Angeles. Hy is onskuldig bevind deur die FBI en maatskaplike werkers. Die egskeiding het kort daarna gevolg. Hulle het in 2018 aangekondig hulle het ʼn vriendskaplike ooreenkoms bereik oor die kinders – drie biologies en drie aangeneem.

Jolie het egter in Julie verlede jaar sukses behaal in die saak om toesig oor die kinders toe ʼn privaat regter, wat die egskeiding en toesig hanteer het, van die saak gediskwalifiseer is. Regter John Ouderkirk, wat ook hul troue by die wingerd behartig het, het voordeel getrek uit afsonderlike werk met Pitt se prokureurs. Hy is dus van die saak gediskwalifiseer deur ʼn appèlhof in Kalifornië. Die uitspraak beteken die saak om toesig oor die kinders moet van voor af voor ʼn nuwe regter begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MrMagic ·

En nou kan hulle nie eers weer skei nie. Siestog, dit is wat gebeur as mens nie vir ware liefde trou nie.

Barney ·

Die FBI raak betrokke omdat sy kind pak kry. Het hulle nie belangriker werk nie?

SlinkseKoljander ·

Wow, duidelik het sy niks gevoel oor vir hom nie. Alles gaan oor geld vir vroue.
Sterkte Mr Pitt

Chantel ·

Kyk, dis jammer dat sy dit so doen. Tonne ander maniere om die gedeelte te verkoop, MAAR, soos die spreekwoord lui, “die wiel draai, elke hond kry sy dag”. Skiesie neh Mnr Pitt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.