Planne vertraag vir grootste mariene reservaat in Antarktika

Keiserpikkewyne in Antarktika (Foto: MemoryCatcher, Pixabay)

ʼn Internasionale poging om die wêreld se grootste mariene reservaat in Antarktika, ongeveer 1.55 miljoen km² (vyf keer so groot as Duitsland), op te rig, het ʼn terugslag beleef toe China en Rusland dit teengestaan het.

Planne vir die mariene reservaat is voorgestel deur die Europese Unie en Duitsland en word deur talle lande, insluitend Indië, ondersteun.

Dié planne is nou opgeskort ná onderhandelings van twee weke by ʼn vergadering van die Kommissie vir die Bewaring van Antarktiese Lewende Hulpbronne (CCAMLR) in Hobart, Australië.

“Ek is tot ʼn mate teleurgesteld. Ons kon dalk ʼn ooreenkoms bereik het, maar ongelukkig het dit ná dae lange gesprekke nie gebeur nie,” het Maruthadu Sudhakar, ʼn afgevaardigde van Indië, Vrydag aan Al Jazeera gesê.

Die planne sal waarskynlik vir ʼn jaar lank vertraag word.

Afgevaardigdes by die vergadering beskuldig Rusland en China dat hulle die planne in die wiele gery het. Noorweë het ook teenkanting gebied.

Altesaam 24 lande en die Europese Unie het in 2016 ooreengekom om 1,55 miljoen km² van die Ross-see in Antarktika te oormerk vir ʼn mariene bewaringsgebied.

Die Weddel-see, die grootste van ongeveer 12 seë in die Suidelike Oseaan is een van die laaste ongeskonde mariene ekostelsels in die wêreld en ʼn tuiste vir meer as 300 000 keiserpikkewyne, blouwalvisse, olifantrobbe, pelsrobbe en seldsame seevoëls.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

IK ·

Daar moet seker nog verder ge-oes word? Tans besig om RSA te plunder.

Basjan ·

IK, ek stem 100% saam met jou! China en Rusland wil die gebied benut vir hul eie gewin en nie tot voordeel van almal nie!

Cherokee ·

When the last tree has been cut down, the last fish caught, the last river poisoned, only then will we realize that one cannot eat money.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.