Planne vir Notre-Dame laat wenkbroue lig

Argieffoto van die herstelwerk aan die Notre-Dame in Parys, Frankryk. (Foto: Martin BUREAU / AFP)

Sowat 20 erfeniskundiges sou vandeesweek vir of teen ’n omstrede herontwerp van die binnekant van die Notre-Dame stem nadat die katedraal in 2019 in ’n brand beskadig is.

Kerkowerhede hou vol die ontwerp, wat moontlike straatkunsinstallasies en sagter beligting insluit, is hoegenaamd nie revolusionêr nie en sal besoekers bloot ʼn warmer verwelkoming bied. ’n Paryse argitek waarsku egter dat die owerhede die gevaar loop om die erfenisbaken in “Disneyland” te verander.

Die voorgestelde veranderings aan die Notre-Dame het vandeesweek wyd kritiek ontlok, met sowat 100 openbare figure wat Woensdag hul name by ʼn meningstuk in die regse koerant Le Figaro gevoeg het. Die besorgdes hou vol die ontwerp gaan die “dekor en godsdienstige ruimte” van die Gotiese katedraal ondermyn.

Só gaan ‘nuwe’ Notre-Dame dalk lyk

Die orrel tydens voorlopige werk by die Notre Dame-katedraal (17 Julie 2019) (Foto: Stephane de Sakutin/Pool via AP, File)

Die Franse kultuurministerie het aan AFP bevestig dat die werk van die straatkuns-baanbreker Ernest Pignon-Ernest en kunstenaars soos Anselm Kiefer en Louise Bourgeois oorweeg word as kunsinstallasies in die Notre-Dame. Die installasies sal die 19de-eeuse bieghokkies in die katedraal vervang.

Die altaar sal behoue bly, maar daar word beoog om ander items soos die tabernakel en doopkapel te skuif. Die meeste van die bieghokkies sal na die eerste verdieping skuif, met slegs vier van dié hokkies wat in die hoofgedeelte van die katedraal sal oorbly.

Die sykapelle, wat selfs voor die brand in ʼn “verskriklike toestand” was, sal heeltemal opgeknap word met ʼn fokus op kunswerke. Die kunswerke sal portrette uit die 16de en 18de eeu insluit, aangevul deur moderne kunswerke.

Van die ander idees sluit in Bybelaanhalings wat in verskeie tale op die mure van die Notre-Dame geprojekteer word en sagter beligting.

Vader Gilles Drouin, wat in beheer is van die opknapping van die katedraal se binneruim, hou vol daar is niks radikaal aan dié beoogde veranderinge nie.

“Die katedraal was nog altyd ten gunste van kontemporêre kuns ,” het Drouin gesê en verwys na die groot goue kruis deur die beeldhouer Marc Couturier wat kardinaal Lustiger in 1994 laat aanbring het.

Daar word beoog om die Notre Dame in 2024 weer oop te stel.

  • Erfeniskundiges sou Donderdag by die Nasionale Erfenis- en Argitektuurkommissie vergader om die voorlegging deur die kerkowerhede aan te hoor voordat hulle hul stem sou plaas. Die uitslag van die stemmery is nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elinette

Hulle krap verdomp op ‘n plek waar dit nie jeuk nie!

Miskruier

Maak wat jul wil, Jesus het nie verniet gesê dat geen steen op n ander sou oorbly van die tempel nie , net so sal kerk geboue in die eind tye nie meer gebruik word vir hul oorspronklike doel nie.

Misky

Ek sou niks verander het nie, net herbou en restoureer. Ek voel altyd dit is deel van die ervaring en wat dit so kosbaar en besonders maak.
Hulle noem van hedendaagse kuns: So jaar of wat voor Covid het ons die kinders na Durban se museum geneem. Op boonste vloer is toe ook kuns uitgestal en daar was foto’s van ‘n gay paartjie wat trou onderandere. Jammer, maar dit is nie kuns nie en verstaan nie wat dit daar soek nie.

Charllas

Hoekom nie net restoreer nie, hoekom vernader?? Ek is serker die kerk sal baie meer betekenis hê in sy oorspronglike vorm