Polio-virus in NY, Londen se rioolwater gekry

Polio-entstof (Foto: European Pharmaceutical Review/EPR)

Groot kommer heers oor die poliovirus wat in rioolwater in New York in Amerika en Londen, Engeland, gekry is.

Daar is reeds verlede maand ’n polio-geval in Rockland County, sowat 50 kilometer noordwes van Manhattan, aangemeld. Dit is die eerste geval wat in byna ’n dekade in Amerika aangemeld is.

Daar is in Junie ook reeds spore van die virus in Londense rioolmonsters gevind, waarna gesondheidsowerhede inentingspogings verskerp het.

Britse gesondheidsowerhede sê hulle sal ’n opvolgdosis van die polio-entstof aan kinders tussen een en nege jaar oud in Londen aanbied. Die meeste mense reg oor Brittanje word in hul kinderjare teen polio ingeënt.

In New York het 86% van kinders tussen ses maande tot vyf jaar oud drie dosisse entstof teen polio ontvang, het gesondheidsamptenare in New York gesê. Dit beteken dat 14% van die kinders in hierdie ouderdomsgroep nie ten volle teen die virus beskerm is nie.

Inentingsentrums, waar kinders gratis die inenting kan ontvang, is reg oor die stad opgestel.

Kenners van die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) is na New York gestuur om te help om toets- en inentingspogings te lei.

“Die gevolge van polio is verwoestend en onomkeerbaar, en hierdie jongste bevindings is rede tot kommer,” het die CDC gesê.

Polio raak veral kinders onder vyf jaar oud en kan permanente verlamming van die arms en bene, en selfs die dood veroorsaak. Diegene wat die virus opdoen, maar nie simptome ontwikkel nie, kan die hoogs aansteeklike siekte aan ander oordra.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) lei slegs een uit 200 polio-infeksies tot verlamming; die meeste mense toon geen simptome nie.

Aanvanklike simptome van die virus sluit in koors, moegheid, hoofpyn, braking en spierstyfheid.

Bronne: CBS News, AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anel ·

Al die onwettige immigrante wat si die westerse wêreld binne stroom. My opinie!

Nie Verbaas ·

COVID-19, aappokke, polio en net een inenting op die ander. Alles ewe skielik. Rooi liggies gaan orals aan. Wat is die volgende siekte?

annie ·

Ouers hier moet die inligting ter harte neem. Vlugte vanuit die VSA bring ook siektes saam. Wanneer siektes hier uitbreek is daar soveel druk dat entstof-tekorte gou in krisisse ontaard.

Chris ·

Gebrek aan entings het dalk niks met dit te doen nie. Doen maar ‘n Google soek op die volgende “More polio cases now caused by vaccine than by wild virus”. Die beste manier om polio te voorkom is om jou immuniteit op te bou deur ‘n gesonde en gebalansseerde dieet!

annie ·

Outo-immuunsiekte hou verband met die oor-aktivering van die stelsel. Om mense nou aan te raai om ‘beet en knoffel’ en dit en dat te gebruik ipv bewese entstowwe is dwaas. Sommige mense se immuunstelsels kort opknapping en ander word erg deur hul eie stelsel benadeel wanneer oorgeaktiveer. Ons moet gebalanseerd kyk na entstowwe wat ná baie navorsing ontwikkel is, soos vir polio. Covid-entstof is oorhaastig gefabriseer.

VaalDonkie ·

Interessant genoeg is outo-immuun siekte iets wat die covid tjappie jou gee. Soos vir my ma.

Chris ·

Annie, solank mense bewus is dat daar ook risiko’s is aan die entstof. Na ‘n kennis van my se kind aan een kant verlam was na polio ent, het die dokters gese hy het ‘n Entero Virus opgedoen – dit is opmerklik dat Entero Virus ‘n versamelnaam is vir ‘n groep virusse waaronder polio een is. Doen maar ‘n soek “Oral polio vaccine causing paralysis in kids: Study”. Die New Indian Express het daaroor berig. Daar is egter nog baie kundiges wat die entstof bevraagteken. Mense moet net volledig ingelig word – die polio wat die wereld gesien het in die verlede het gewoonlik gepaard gegaan met wanvoeding onder oorlogs-omstandighede.

Chris ·

Doen maar ook ‘n soek op die volgende “Mutant Strains Of Polio Vaccine Now Cause More Paralysis Than Wild Polio”. Mense moet maar net ingelig word oor die risiko’s. Ek het geen probleem met die vrywillige aanvaarding van risiko nie, maar moet mense darm bewus wees van die risiko!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.