Polisie krap kop oor miljardêr-egpaar se raaiseldood

Polisielint rondom die huis van Barrey en Honey Sherman in die noorde van Toronto, Kanada (16 Desember 2017). Foto: AP Photo/Robert Gillies

Die Kanadese miljardêr Barry Sherman en sy vrou, Honey, het onlangs hul luukse huis in Toronto in Kanada vir ongeveer $5,4 miljoen (sowat R70 miljoen) op die mark gesit. Vrydag is die egpaar onder raaiselagtige omstandighede dood in hul huis aangetref.

Barry Sherman (75) is die stigter van Apotex, ʼn reuse- farmaseutiese maatskappy wat hy in 1974 begin het deur ʼn groot hoeveelheid laekoste generiese medisyne die mark in te stoot. Hy het in 2012 uitgetree as uitvoerende hoof, maar was steeds uitvoerende voorsitter van die maatskappy.

Forbes het Sherman se fortuin op $3,2 miljard beraam.

Die Toronto Globe and Mail berig ʼn eiendomsagent het Vrydag op die egpaar se liggame afgekom toe sy na die huis gegaan het om vir ʼn skoudag voor te berei. Owerhede het gesê hulle hanteer die egpaar se dood as verdag en nadoodse ondersoeke sou Saterdag gedoen word.

ʼn Woordvoerder vir die Toronto-polisie het gesê alle moontlike leidrade met betrekking tot die egpaar se dood word in dié stadium ondersoek.

Intussen het twee Kanadese koerante berig die polisie ondersoek die Shermans se dood as ʼn moontlike moord-selfmoord voorval. Die liggame is gevind waar dit aan ʼn reling aan die kant van ʼn binnenshuise swembad gehang het, het die Globe and Mail en die Toronto Sun berig.

Die koerante berig polisiebeamptes oorweeg die moontlikheid dat Barry sy vrou vermoor en daarna homself by die swembad gehang het.

Polisievoertuie staan voor die huis van Barrey en Honey Sherman in die noorde van Toronto, Kanada (16 Desember 2017). Foto: AP Photo/Robert Gillies

Apotex het Saterdag ʼn verklaring uitgereik waarin gesê word die Sherman-gesin is ontsteld oor dié berigte. “Ons is geskok en dink dit is onverantwoordelik dat polisiebronne na bewering die media ingelig het oor ʼn teorie wat nie die gesin, [die egpaar se] vriende of hul kollegas glo waar is nie,” het die verklaring gelui.

“Ons doen ʼn beroep op die Toronto-polisiediens om ʼn deeglike, intensiewe en objektiewe strafregtelike ondersoek te doen en doen ʼn beroep op die media om hulle te weerhou om verder te berig oor die oorsaak van die tragiese sterftes totdat die ondersoek afgehandel is.”

Konst. David Hopkinson van die Toronto-polisie het gesê die polisie wag op die uitslae van die nadoodse ondersoeke oor die oorsaak en aard van die egpaar se dood. “Daar is ʼn hele klomp verskillende scenario’s hier. Ons sluit niks uit nie,” het hy gesê.

Die egpaar se dood het skokgolwe deur die Kanadese politieke, filantropiese en sakekringe gestuur met talle sakeleiers en politici, insluitend eerste minister Justin Trudeau wat hul medelye betuig het. Barry Sherman was ʼn prominente donateur van Kanada se regerende Liberale Party. Die Shermans was ook groot donateurs vir hospitale, universiteite en Joodse organisasies.

Honey het op die raad van verskeie hospitale, liefdadigheids- en Joodse stigtings gedien en het verlede maand die senaatmedalje vir gemeenskapsdiens ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Genoeg oorsee ·

Ons het genoeg moordnuus van ons eie, moet ons asseblief nie nog emosioneel opsaal met die van oorsee nie.

Kies wat jy lees ·

Genoeg oorsee as jy nie ‘n berig wil lees nie moet dit nie oopmaak nie. Party van ons het dalk familie of vriende in die buiteland en sal graag alle nuus wil lees. So dit bly jou keuse om te lees of nie hoor. En net jy kan jouself emosioneel opsaal. Dalk moet jy nie nuus lees nie maar eerder Teletubbies gaan kyk.

Carlos ·

Genoeg is reg. Maroela is gestigmatiseerd in my kringe ten minste as n medium wat te veel slegte nuus gee. Tog moet iemand slegte nuus deurgee maar dit moet nie nog aangeblaas word deur slegte nuus van oorsee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.