Polisie wag uur lank om skoolskieter te konfronteer

Die Robb Elementary School in Texas ná die skietery. (Foto: CHANDAN KHANNA / AFP)

Beeldmateriaal van die dodelike skoolskietery in die Amerikaanse deelstaat Texas in Mei wys hoe die polisie meer as ʼn uur lank wag voordat hulle eindelik ʼn klaskamer binnegaan en die gewapende man konfronteer wat 19 kinders en twee onderwysers doodgeskiet het. Die beamptes het hiertydens die 18-jarige verdagte doodgeskiet.

Steve McCraw, Texas se hoof van openbare veiligheid, het die polisie se reaksie op die voorval as ʼn “veragtelike mislukking” beskryf.

Hy het bygevoeg dat die beamptes broodnodige tyd gemors het om ʼn sleutel vir een van die Robb Elementary School se klaskamers te soek, “wat toe glad nie nodig was nie” aangesien die deur later afgebreek is.

Beeldmateriaal wat van kringtelevisie verkry is, is Dinsdag deur die Austin American-Statesman-koerant en die plaaslike televisiestasie KVUE gepubliseer.

Daarin kan gesien word hoe die verdagte sy voertuig buite die skool van die pad aftrek. Hy gaan dan om 11:33 die gebou binne, gewapen met ʼn semi-outomatiese geweer. Terwyl hy by ʼn leë gang afstap, sien ʼn jong seun hom om die hoek en hardloop weg terwyl die verdagte in ʼn klaskamer losbrand. Die verdagte vuur dosyne skote af voordat hy die klaskamer binnegaan.

Enkele minute nadat die eerste skote afgevuur is, kom talle polisiebeamptes met vuurwapens die gebou ingehardloop. Van die beamptes nader die klaskamer waarin die skieter verdwyn het, maar trek terug sodra die verdagte weer begin losbrand.

Vir die volgende uur kan gesien word hoe beamptes aan die einde van die gang saamdrom terwyl nog beamptes met semi-outomatiese vuurwapens en skilde opdaag.

Om 12:21, 45 minute nadat die eerste polisielede by die skool aangekom het, word nog skote deur die verdagte afgevuur.

Die beamptes het om 12:50 die klaskamer waarin die skieter was, bestorm en hom doodgeskiet.

Die beeldmateriaal wys nie hoe enige van die leerders of onderwysers geskiet word nie, maar volgens Austin American-Statesman het hy wel die klank van hul gille uit die video verwyder.

Sedert die polisie die beeldmateriaal aan die publiek vrygestel het, het lede van die gemeenskap dit met verontwaardiging begroet. Die beeldmateriaal is eers vrygestel nadat die slagoffers se geliefdes ʼn kans gehad het om daarna te kyk.

Don McLaughlin, burgemeester van Uvalde, het tydens ʼn stadsraadsvergadering gesê die polisie se optrede was “een van die lafhartigste dinge wat ek al ooit gesien het.”

‘Swak besluite is geneem’

McCraw het tydens ʼn senaatverhoor in Junie gesê dat die polisie genoeg beamptes daar gehad het om die skieter binne drie minute nadat hy die skool binnegegaan het, te stop.

Pete Arredondo, die bevelvoerder wat op die toneel was, “het besluit om die lewens van sy beamptes bo dié van die kinders te plaas,” het McCraw gesê.

“Die beamptes het wapens gehad, die kinders het nie. Die beamptes het beskermende klere gedra, die kinders het nie. Die beamptes het opleiding ondergaan, die skieter het nie.”

Arredondo het vroeër beweer dat die klaskamerdeur gesluit was, daarom kon beamptes nie dadelik die skieter konfronteer nie. McCraw het egter aangevoer dat dit nie die geval was nie en dat Arredondo, wat sedertdien geskors is, “swak besluite” geneem het.

“Hy het gewag vir ʼn sleutel wat glad nie nodig was nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Lourens CFG ·

Polisie in Amerika voer ‘n opdraande stryd, almal val hulle aan, dan is hul té gou, dan te stadig, dan dit dan dat.
Moeilik.

Trotse Boervrou ·

Absoluut hartverskeurend en so tragies. Mens kan ‘n hele boek hieroor skryf maar wat help dit? Dit is te laat…

Sandra ·

Terwyl dit ‘n tragiese insident was, weet ek nie of hulle wou he die polisie moet die klaskamer bestorm terwyl hy besig was om te skiet nie. Dit gebeur net in rolprente dat hulle inhardloop. Ek dink hulle het gedoen wat hulle kon deur die klaskamer se deur oop te skop en die gewapende man te skiet. So dit lyk vir my of hulle ook maar nie ooit die regte ding kan doen nie in mense se oe nie, die polisie meen ek.

domheks ·

Hulle het darem op die ou einde die skieter dood geskiet. In SA sal hulle eers ‘n kommitee moet aantel om te besluit wat om te doen!

Robert ·

Die man wat hom geskiet het was nie deel van die taakspan nie, het self besluit om in te gryp.

Pietertjie ·

Die polisie is seker bang hulle maak inbreuk op die skieter se regte.

Jaco ·

Niemand moet nou kla nie. Toe die polisie tydens Trump se bewind meer kragdadig was, het die einste hoogheilige Demokrate wat nou Amerika regeer dan geskree “defund the police”. So dié swak polisie-optrede in Texas is seker maar hoe “defund the police” moet lyk.

Twallie ·

As ek so kyk na die taktiese bewegings van die polisie in die gang, sal ek sê hulle lyk baie swak opgelei. Hulle is veronderstel om soos een te beweeg en na hoeke te kyk vir ingeval daar meer as een aanvaller is. Die ouens hardloop baie “haphazard” daar in.

Skerpskutter op ‘n venster van die klaskamer kon die situasie ook baie vinnig ontlont.

Maar ja, al die verslag gewing het klaar hul onbenulligheid bloot gelê.

Niklaas ·

Die manne lyk maar bangerig , al weet hul daars net een jong skieter. Nou wonder mens net of lewens gered kon wees as hul nie ‘n uur gewag het nie ?

Robert ·

Ek begin al meer die “conspiracy theorists” glo… hierdie was ‘n innsident geskep om die man op straat te ontwapen. Net jammer dat dit juis ‘n man op straat was wat besluit het om in te gryp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.