Polisiebeampte skuldig ná sokkerster se dood

Voormalige Aston Villa-sokkerspeler Dalian Atkinson (Foto: Dalian Atkinson/Facebook)

ʼn Britse polisiebeampte wat die voormalige Aston Villa-sokkerspeler Dalian Atkinson met ʼn skokmasjien bygedam en toe twee keer teen die kop geskop het, is Woensdag skuldig bevind op aanklag van strafbare manslag. Hy is vrygespreek op aanklag van moord in ʼn uitspraak wat as “geskiedkundig” beskryf word.

Jurielede by Birmingham Crown-hof het byna 19 uur lank gesukkel om ʼn eenparige uitspraak te kry vir Benjamin Monk, wat sê hy het op 15 Augustus 2016 vir sy lewe gevrees weens die optrede van die voormalige sokkerspeler.

Jurielede debatteer steeds oor die aanklag van aanranding vir Monk se kollega en eksmeisie, polisiekonstabel Mary Ellen Bettley-Smith.

Atkinson was ʼn hoëprofiel-speler vir Aston Villa in die vroeë 1990’s en hy het ook vir Sheffield Wednesday, Ipswich en Real Sociedad gespeel.

Monk het aan die hof gesê hy het uit vrees agter Atkinson aangehardloop wat gelyk het of hy ʼn geestesgesondheidkrisis beleef, doodsdreigemente uitgedeel en ʼn glasdeur gebreek het by sy kinderhuis in Telford, sowat 48 km van Birmingham in Engeland.

Die 43-jarige beampte van West Mercia-polisie het gesê die sokkerspeler wou opstaan toe hy, as ʼn laaste opsie, na sy skouer geskop het uit regmatige selfverdediging. Die 48-jarige Atkinson het egter ʼn hartstilstand beleef toe hy van die toneel in ʼn ambulans weggeneem is. Hy is ʼn uur ná hy met die skokmasjien bygedam is, dood verklaar by die hospitaal.

Rekords van die skokmasjien wys Monk het die wapen ʼn paar keer geaktiveer. Die hof het gehoor Monk het twee keer tevergeefs die skokmasjien gebruik. Die derde keer het hy die sneller ingehou vir 33 sekondes – ses keer langer as wat standaard is.

Die hof het gehoor Monk en Bettley-Smith was in ʼn verhouding ten tyde van die voorval.

Die liefdadigheidsorganisasie Inquest het ná die uitspraak gesê sedert 1986 is nog geen Britse polisiebeampte skuldig bevind op aanklag van moord of strafbare manslag ná ʼn sterfte in aanhouding of ná polisiekontak in Engeland of Wallis nie. Direkteur Deborah Coles het gesê die “geskiedkundige uitspraak” stuur ʼn sterk boodskap dat beamptes nie bo die reg verhewe is nie. “Dalian se afsterwe is nie ʼn geïsoleerde geval nie; dit is deel van ʼn sistemiese probleem,” het sy gesê. “Vir dekades al sterf swart mans, veral diegene wat met geestesgesondheid sukkel, buite verhouding meer as gevolg van magsgebruik deur die polisie. Werklike geregtigheid vereis strukturele verandering in ons samelewing en sy instansies om rassisme te takel en beter te reageer op geestesgesondheidsprobleme en staatsgeweld.”

Atkinson se familie het in ʼn verklaring gesê die voormalige sokkerspeler “word baie gemis”. “Ons is verlig dat die hele land nou die waarheid weet oor hoe Dalian gesterf het.”

Volgens Atkinson se meisie, Karen Wright, het hy die Sondagaand buite karakter opgetree deur te praat oor sy eie afsterwe en na homself as die Messias te verwys. Hy is die Maandagoggend omstreeks 01:00 na sy pa, Ernest, se huis in Meadow Close. Sy pa was 85 in daardie stadium en is intussen oorlede. Ernest het gesê Dalian het hom aan die keel gegryp en hom en sy familie daarvan beskuldig dat hulle beplan om hom dood te maak. Hy het gesê sy seun “was in daardie stadium nie reg in sy kop nie”. Bure het die polisie ontbied uit vrees vir Ernest se lewe.

Monk, ʼn beampte met meer as 15 jaar ervaring in daardie stadium, was eerste op die toneel saam met Bettley-Smith, wat in daardie stadium 18 maande lank ʼn polisiebeampte was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
pestilensie

Moeilik om n regsbeampte te wees

Realis Thailand

Ek hoop hy kry n opgeskorte vonnis
Het hy kennis gehad van hoe die skok masjien werk of het hy in onkunde opgetree