Polisiebeamptes jare ná jong man se dood gevonnis   

Alexander Monson

Vier polisiebeamptes van Kenia is tronkstraf opgelê vir die moord op ’n Britse aristokraat se seun.

Alexander Monson (28) se gesin veg al nege jaar lank vir geregtigheid nadat hy in Mei 2012 dood in ’n tronksel in Diani, Kenia, aangetref is.

Monson, seun van Nicholas Monson, 12de Baron Monson van Burton, is in hegtenis geneem op bewering dat hy dagga gerook het buite ’n kroeg in Diani.

Sy gesin het volgehou dat Monson in die tronksel doodgeslaan is, terwyl die polisie beweer het dat hy aan ’n oordosis dwelms gesterf het.

Regter Eric Ogola het egter Maandag beslis dat die vier polisiebeamptes aan strafbare manslag skuldig is en hulle tot tussen nege en 15 jaar tronkstraf gevonnis. Volgens Ogola het die verdediging nie genoeg bewyse verskaf om die beamptes aan moord skuldig te bevind nie. Monson se gesin het die hofverrigtinge in Mombasa bygewoon.

“Die hof het vasgestel dat hy [Monson] gemartel is voordat hy omstreeks 05:00 na die sel terugbesorg is,” het Ogola gesê.

“Die vier polisiebeamptes was bewus van die oorledene se toestand terwyl hy in hul aanhouding was, maar hulle het niks gedoen nie,” het hy bygevoeg en gesê die beamptes het ook stilgebly oor die voorval.

Naftali Chege is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis terwyl Charles Munyiri en John Pamba tot 12 jaar tronkstraf elk gevonnis is en Ismael Baraka tot nege jaar tronkstraf.

Alexander Monson se ma, Hilary (tweede van links) praat met die media na die hofverrigtinge. Alexander se pa, Nicholas (heel regs), het gesê hulle het ‘n swaarder straf verwag. (Foto: Dihoff MUKOTO/AFP)

Ogola het gesê dit is belangrik dat die polisie moet verstaan “hul plig is om lewens te beskerm eerder as om dit weg te neem”.

“Al die beskuldigdes verdien om tot tronkstraf gevonnis te word. Dit is die enigste manier hoe ’n duidelike boodskap aan die publiek, veral die polisie, uitgestuur sal word,” het hy gesê.

Die direkteur van openbare vervolging het gesê hy sal teen die vonnisse appelleer en ’n hoër aanklag van moord eis.

Monson se pa het gesê hy is “gelukkig dat geregtigheid uiteindelik geskied”, maar dat die familie ’n swaarder straf verwag het.

“Ons het almal gesterf toe Alexander gesterf het. ’n Boodskap moet aan die polisie gestuur word. Dit moet stop,” het hy aan verslaggewers buite die hof gesê.

Nog ’n Keniaanse hof het in Junie 2018 beslis dat die polisie vir Monson se dood aanspreeklik is en gesê dat die beamptes mekaar tydens die geregtelike ondersoek weerspreek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

So bly geregtigheid het geskied na soveel jare. Mens se verlede haal jou wel in een of ander tyd. Dis duidelik dat polisie brutaliteit nie net in SA plaasvind nie.

Johann ·

So die magsvergrype van die bemagdigdes is dieselfde in die res van Afrika! Nie ‘n verrassing nie, maar net so siek en hartseer as hier by ons aan die hand van n terroriste organisasie wat wegkruip agter n “politieke” party.

Astrain ·

Ek bewonder sulke ouers, ek weet dat ek ook nooit sal rus as ek my in so posisie moet bevind nie! Ek bid dat ek nooit hoef nie! Wel gedaan aan daardie ouers vir geregtigheid – in Afrika – vir julle kind!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.