Polisiebeamptes jare ná man se dood van moord aangekla  

Alexander Monson

Vier polisiebeamptes van Kenia word van die moord op ’n Britse aristokraat se seun aangekla.

Alexander Monson (28), seun van Nicholas Monson, 12de Baron Monson van Burton, is in Mei 2012 in Diani, Kenia, dood. Monson is op 19 Mei dood, ure nadat hy in hegtenis geneem is op bewering dat hy dagga gerook het.

Vriende van Monson het hom die oggend bewusteloos in ’n polisiesel aangetref. Hy is sowat ses uur later in ’n hospitaal in Diani dood. Die polisie het beweer hy is aan ’n oordosis dwelms dood. ’n Geregtelike ondersoek na Monson se dood het egter intussen bevind dat Monson nie aan natuurlike oorsake óf ’n oordosis dwelms gesterf het nie.

Die ondersoek het bevind Monson is erg aangerand terwyl hy in aanhouding was en dat sy dood veroorsaak is deur houe met ’n stomp voorwerp teen sy kop wat intrakraniale druk veroorsaak het.

Senior landdros Richard Odenyo, wat die voorsitter van die ondersoek na Monson se dood was, het Donderdag gesê vier polisiebeamptes sal nou aangekla word in verband met Monson se dood.

Odenyo het bevind daar was teenstrydighede in die getuienis wat tydens die ondersoek gelewer is, insluitend in dié van die polisiebeamptes. Ooggetuies wat Monson gesien het kort voor hy in hegtenis geneem is, het gesê dit het gelyk of hy in goeie gesondheid was. ’n Totaal van 39 getuies het tydens die ondersoek, wat drie jaar geduur het, getuig.

Monson het ten tyde van sy dood by sy ma, Hilary, gekuier wat in Diani woon. Sy ouers is geskei en sy pa woon in Londen. Monson se pa het ’n paar jaar gelede ’n stigting op die been gebring om ander mense te help wat polisiebrutaliteit ervaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Moenie doen wat jy nie bereid is om te erken nie.

HPV ·

Afrika en sy regimes is derde wêreldse selfgemaakte armoede en ellende, bly liewer weg uit die hool wat by die dag versleg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.