Polisiehoof kry trekpas ná skoolskietery

Robb Elementary School in Uvalde, Texas. (Foto: Jordan Vonderhaar / Getty Images via AFP)

Die polisiebeampte wat in beheer was van die polisie se trae reaksie op die noodlottige skietery by die Robb Elementary School in Uvalde, Texas, is afgedank.

Die Uvalde-skoolraad het Woensdag eenparig gestem dat die distrikspolisiehoof Pete Arredondo se dienskontrak beëindig moet word.

Dít nadat die staat se hoof van openbare veiligheid vroeër gesê het dat Arredondo “die lewens van beamptes voor die lewens van kinders” geplaas en “verskriklike besluite” geneem het terwyl hy die misdaadtoneel bestuur het.

Maroela Media het vroeër berig polisiebeamptes het op 24 Mei meer as ʼn uur lank gewag voordat hulle eindelik ʼn klaskamer binnegaan en die skieter gekonfronteer het. Altesame 19 kinders en twee onderwysers is op dié noodlottige dag doodgeskiet voordat die polisie eindelik die gewapende man doodgeskiet het.

Die voorval word bestempel as die VSA se ergste skoolskietery in ’n dekade.

Arredondo is in Junie reeds geskors hangende ʼn ondersoek. Hy het Woensdag by monde van sy prokureur gevra dat sy skorsing opgehef word aangesien die klagte teen hom ongegrond is.

“Arredondo sal nie deelneem aan sy eie onwettige en ongrondwetlike openbare veroordeling nie en versoek met respek dat die raad hom onmiddellik heraanstel, met alle terugbetaling en voordele,” het sy prokureur, George Hyde, in ʼn verklaring gesê kort voor die skoolraad se stemming.

Wetgewers van Texas het Arredondo verlede maand in ʼn verslag gekap. Luidens die verslag het Arredondo nie sy “vooraf toegewese verantwoordelikheid van voorvalbevel aanvaar nie” en het hy analitiese foute gemaak omdat hy nie al die nodige inligting gehad het nie.

Die wetgewers het voorts gesê die situasie by die skool op die betrokke dag was “chaoties” weens die 376 beamptes op die toneel se “onbehoorlike benadering”. Volgens die wetgewers het geen ander beamptes boonop aangebied om Arredondo te help of te vervang tydens die slagting nie.

Luidens die verslag het daar 73 minute verloop tussen die eerste beamptes se aankoms op die toneel en die skieter se dood.

“Die leemte van leierskap kon bygedra het tot die lewensverlies,” word daar in die verslag bevind. Daar is ook bevind dat sommige slagoffers moontlik die skietery kon oorleef het as hulle nie 73 minute lank op redding moes gewag het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

miche ·

Ek wonder wat die reaksie-tyd in SA sou wees ingeval so iets hier sou gebeur?

Oosieoos ·

Wat sou hulle gedoen het as hul eie kinders daarbinne was. Hulle moet vervolg word net so ongeskik vir veiligheids dienste soos ons eie

Lillian ·

Iemand moet die scape goat wees so die maklike teikens betaal maar die prys vir die politieke spel van die Biden administrasie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.