Polisieman doodgeskiet by Pentagon

Die Pentagon in Amerika (Foto: AFP)

Volgens die Amerikaanse departement van verdediging is ’n polisiebeampte Dinsdag tydens ’n skietvoorval by hul hoofkwartier, bekend as die Pentagon, doodgeskiet.

Maroela Media het Dinsdag berig ’n skietery het die oggend op ʼn busplatform by dié gebou in Arlington in die Amerikaanse deelstaat Virginië uitgebreek. Die busplatform waar die skietery plaasgevind het, is ’n belangrike ingang van die Pentagon wat daagliks deur duisende personeellede gebruik word om die gebou binne te gaan en te verlaat.

Polisie is nadat die eerste skote begin klap het na die gebou ontbied.

Die betrokke beampte is tydens die skietery gewond. Hy is per ambulans na die George Washington University-hospitaal geneem waar hy aan sy skietwonde beswyk het.

“’Hierdie beampte het gesterf terwyl hy sy plig as polisieman uitgevoer het om mense te beskerm,” het Lloyd Austin, minister van verdediging, gesê.

“Hy en sy kollegas wat op die toneel was, is lede van die Pentagon-familie. Hulle is almal bekend vir hul professionaliteit, vaardigheid en dapperheid.”

Maroela Media het vroeër berig personeellede is tydens die skietvoorval opdrag gegee om in die gebou skuiling te vind. Die skietery het langer as ʼn uur lank geduur.

Die polisie het 90 minute ná die voorval die toneel veilig verklaar. Hulle het egter nie meer besonderhede oor die presiese gebeure verskaf nie.

Volgens nooddienswerkers is heelwat mense beseer, hoewel besonderhede oor die beserings nog nie bekend gemaak is nie.

Metrodienste is Dinsdag tydelik opgeskort en busse onderweg na die stasie is na ander bushaltes herlei.

Die departement het Woensdagoggend op Twitter gesê die Pentagon is intussen weer oopgestel. Gang no. 2 van die metro-ingang sal gesluit bly, terwyl gang no. 3 oop is vir voetgangerverkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anton ·

Hoe is dit moontlik met al Sleepy se “gun control” wette?
Dit was verseker nie ‘n wit “shooter” nie, anders was Pelosi en Kie al daar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.