Polisieman red veldwagters van ‘gewisse dood’

WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig is grafies van aard en nie geskik vir sensitiewe lesers of kinders nie.

Die Groter Lebombo-bewaringsgebied dien as ʼn buffer-area aangrensend aan die Krugerwildtuin se intensiewe beskermingsone. Foto: http://www.iapf.org/

Die Groter Lebombo-bewaringsgebied dien as ʼn buffer-area aangrensend aan die Krugerwildtuin se intensiewe beskermingsone. Foto: http://www.iapf.org/

Twee veldwagters wat vermeende renosterstropers in die Groter Lebombo-bewaringsgebied in Mosambiek gevang en na hul basis vervoer het, het ernstige beserings opgedoen toe hulle deur ʼn groot groep plaaslike inwoners aangeval en erg aangerand is.

Damien Mander, stigter van International Anti-poaching Foundation (IAPF) het die besonderhede van die gebeure en foto’s van die veldwagters se beserings op Facebook gedeel en gesê dit is danksy ʼn polisieman, wat ten tyde van die voorval van diens af was, se optrede dat die twee veldwagters die aanval oorleef het.

“Die twee veldwagters werk in die Groter Lebombo-bewaringsgebied, ʼn buffer-area aangrensend aan die Krugerwildtuin se intensiewe beskermingsone. Ongeveer 9 000 renosters word in hierdie bewaringsgebied beskerm en dit is een van die belangrikste stukke grond op die planeet in terme van renosterbewaring,” het Mander gesê.

Volgens Mander het die veldwagters twee gewapende mans wat vermeende renosterstropers is in die bewaringsgebied aangekeer en is hulle deur ʼn polisiemotor vergesel om hulle terug te neem na die basis toe. Mander het gesê hulle het deur ʼn informele nedersetting beweeg wat daarvoor bekend is dat renosterstropingsindikate daar skuil en hulle is deur ʼn groep van ongeveer 60 mense aangeval.

“Die polisiebeamptes wat saam met hulle was, het gevlug en tydens die struweling is een van die veldwagters bewusteloos geslaan en vir die dood agtergelaat. Die ander een is met ʼn byl oor die kop geslaan en het ʼn skedelfraktuur en bloeding op die brein opgedoen. Hy is daarna met ʼn gebreekte bottel in die nek gesteek,” het Mander gesê. Die groep het ook die veldwagters se vragmotor beskadig en belangrike patrollietoerusting, onder meer radiotoerusting, gesteel.

Mander het gesê ʼn polisiebeampte wat van diens af was en die voorval sien gebeur het, het tot die veldwagters se redding gekom. “Hy het met sy vuurwapen in die middel van die groep aanvallers bo-oor die veldwagters gaan staan om hulle teen verdere aanranding te beskerm. Ons helikopter het kort daarna geland en die mans uit die gebied gekry. Hulle is by die basis gestabiliseer voordat hulle per helikopter na ʼn hospitaal geneem is.”

Mander het gesê die optrede van die polisiebeampte, saam met die onmiddellike reaksie van die helikopter en noodbehandeling het ongetwyfeld die veldwagters se lewens gered. Die polisiebeampte is sedertdien vir ʼn toekenning vir dapperheid benoem.

“Ons kan bevestig dat die beseerde mans nou buite gevaar is, maar dit sal ʼn hele ruk neem vir hulle om volkome te herstel,” het hy gesê. Die Mosambiekse owerhede ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

siela ·

Twee DAPPER manne hierxie. Ons bid vir julle spoedige herstel en vir jul polisieman redder n Wolraadt Woltemade toekennung!! Mag die Here julle en julle harde werk seën!

Hannes ·

As ek dit reg het…word die gebied nou word dit n bufferzone genoem wat voorheen n oorgrens park genoem was. Sy edele Marthinus van Schalkwyk en andere het ons grenslyne afgehaal en ons dier daarheen laat verhuis. Nou moet ons ons eie renosters (en baie ander wild soos olifante) in die zone wat eintlik maar in Mosambiek is, gaan beskerm teen stropers en ander bevolking wat in die zone bly.
Swak besluitneming deur ons kamtige leiers.
Kry ons diere terug en sit elektriese heining op.
Geen verskoning vir patetiese besluitneming deur owerheid nie.
Jammer dat ons veldwagters daaronder moet ly. Haal my hoed af vir die polisieman.

KP ·

Wys net tot hoe n mate die gemeenskap daar ook betrokke is. Waar was die veldwagters se vuurwapens, hoekom het hulle nie hulself verdedig nie.

Jean ·

Janee dit is hoekom daar so gesukkel word om die renosterhoringstropers vas te trek, omdat die hele gemeenskap hulle beskerm, kry seker weer ook ‘n geldjie daaruit. Deur 60 mense aangeval? Goeie genade, ons is bly julle het oorleef.

Bewapen die veldwagters dat hulle hulleself volgende keer kan verdedig teen die barbaarse aanvalle. Baie dankie aan julle vir julle toegewydheid en ook aan die Polisieman wat hulle gered het.

phillip ·

julle praat net van twee veld wagters volgens die fotos is daar vier dapper mense

AJ Smit ·

phillip, as jy mooi kyk, sal jy sien 3 van die foto’s is van die een veldwagter (‘n blanke man) en 1 van die fotos is van die ander veldwagter (‘n swart man), dus in totaal, net 2 veldwagters, waarvan die berig praat. Sterkte en beterskap aan die 2 helde en ook aan die ander een wat hulle gehelp het, jy is ten minste die woord “polisie” werd. Raak ontslae van die ander wat gevlug het toe dit hul plig was om die manne te beskerm.

Maria van Dieweeck ·

Dankie Kortbroek, so neem swape besluite oor ons erfenis. Dankie aan die dapper mans, jul is ware helde!

Leonie ·

Wat se tipie Polisiemanne het ons deesdae wat so pateties is en weghardloop!!! Dis darem pateties. Dankie vir die beampte wat van diens af was wat die veldwagters gehelp het. Jy is nou ‘n ware Polisieman in murg en been. Hou so aan!

tewes ·

Dis nou baie goed nou weet almal hoeveel renosters is daar rn waar

Asmain ·

Maak ons grense weer toe en laat die weermag patrolleer soos van ouds…dit gee hulle in elk geval iets om te doen!

Asmain ·

Maak ons grense toe en laat die weermag patrolleer soos van ouds…dit gee hulle in elk geval iets om te doen!

Boerin ·

Wat het van die twee “VERMEENDE” stropers geword? Op plase gaan dit net so erg. Gister in Alldays omgewing n hele dag gesoek (met chopper en al) teen baie hoë koste, na 4 stropers en sowat 10 honde wat op plaas gejag het. Dis n verlore stryd met die gereg wat aan hulle kant is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.