Polisieman sterf ná chaos by VSA-kongresgebou

‘n Skild van die Capitol-polisie staan by ‘n oopgebreekte ingang van die Amerikaanse Kongresgebou in Washington D.C. (Foto: Brendan Smialowski / AFP)

’n Polisiebeampte het beswyk aan beserings wat hy opgedoen het toe betogers Woensdag die Kongresgebou (Capitol) in Washington D.C. bestorm het.

Beampte Brian Sicknick, ’n militêre veteraan, is tydens ’n struweling met die betogers beseer waarna hy na sy afdeling se kantoor teruggekeer en inmekaargesak het. Hy is na ’n hospitaal gehaas waar hy intussen aan sy beserings beswyk het.

Vier betogers is Woensdag by die Kongresgebou dood, onder wie ’n vrou wat deur die polisie geskiet is. Die omstandighede rakende die ander drie sterftes is in dié stadium onduidelik.

Pres. Donald Trump het intussen ’n gladde oorgang na Joe Biden se presidentskap beloof. Dít te midde van Demokrate se oproepe dat hy uit sy amp verwyder moet word ná die gebeure wat by die Kongresgebou afgespeel het.

Trump het die geweld waarmee die opstande by die Kongresgebou gepaardgegaan het, veroordeel. “Hierdie oomblik vra vir genesing en versoening.

“Ons het sopas ’n intense verkiesing deurgemaak en die emosies loop hoog, maar nou moet die gemoedere kalmeer en kalmte herstel word.

“’n Nuwe administrasie word op 20 Januarie ingehuldig. My fokus is nou daarop om ’n gladde en ordelike oorgang van mag te verseker.

“Om as u president te dien, was die eer van my leeftyd,” het die uittredende president gesê. Trump se toespraak volg kort nadat twee van sy kabinetslede bedank het.

Nancy Pelosi, speaker in die Amerikaanse huis van verteenwoordigers, en die leier van die Demokrate in die senaat, Chuck Schumer, het daarop aangedring dat Trump onmiddellik uit sy amp verwyder word uit vrees oor hoe hy in die volgende twee weke kan optree.

Biden het geweier om hom uit te laat oor versoeke vir Trump se verwydering uit die amp, maar hom wel beskuldig van ’n “algehele aanval op die instellings van [Amerika] se demokrasie”.

“[Woensdag] was volgens my een van die donkerste dae in die geskiedenis van ons land,” het Biden Donderdag tydens ’n geleentheid gesê waar hy regter Merrick Garland as prokureur-generaal benoem het.

“Hulle was nie betogers nie. Hulle was ’n oproerige skare, opstandelinge, binnelandse terroriste,” het Biden verder gesê.

“Ek wens ons kon sê dat ons dit nie sien kom het nie, maar dit is nie waar nie. Ons het dit sien kom. Ons het die afgelope vier jaar ’n president gehad wat sy minagting vir ons demokrasie, ons grondwet en die oppergesag van die reg duidelik gemaak het in alles wat hy gedoen het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.