Polisiemanne red kangaroe uit branders

Die twee sersante kon die kangaroe betyds uit die see suid van Melbourne red. Foto’s: Facebook

Die twee Australiese polisiebeamptes wat ’n kangaroe van verdrinking gered het, sê “elke lewe is die moeite werd om te red. Ons het net gedoen wat ons kon.”

Sersante Christopher Russo en Kirby Tonkin het dié dramatiese reddingspoging laat Saterdagmiddag in die omgewing van die Mornington‑skiereiland, suid van Melbourne, uitgevoer, berig die BBC. Nadat hulle die dier uit die water gered het, het hulle borskasdrukke toegepas om hom by te bring.

Die wetstoepassers is na die strand ontbied nadat berigte ontvang is dat die kangeroe in die water sukkel, berig Japan Times. Toe hulle daar kom, was die dier reeds terug op die strand, waar iemand hom met ʼn kombers toegegooi het.

Maar toe hulle naby kom, het die kangaroe skielik weer die branders ingehop. Hy het begin swem, maar het gestoei in die brekende branders en ʼn paar keer onder die water verdwyn.

Die barmhartige sersante het die water ingegaan en die kangaroe, wat toe reeds sy bewussyn verloor het, na ʼn kolletjie gras gebring waar hulle hom met behulp van borskasdrukke bygebring het.

Nadat die dier na ʼn nabygeleë polisiekantoor gebring is, is hy ondersoek en is vasgestel dat hy gesond was en bly kon wees hy leef nog, gegewe al die soutwater wat hy ingekry het.

Mia Grant, ʼn inwoner van McRae, die kusbuurt waar die redding plaasgevind het, het aan die Melbourne-dagblad Herald Sun vertel sy was op pad dorp toe toe sy sien hoe ʼn kangaroe oor die snelweg tot op die strand hop.

Sy sê sy het die ergste gevrees toe die uitgeputte kangaroe terug in die water spring, tot sy die polisiebeamptes agterna sien hardloop het.

“ʼn Mens sien so baie slegte goed en om te sien hoe iemand spontaan agter ʼn dier aan hardloop, gee jou weer geloof in die mensdom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

jean ·

Wonderlik!!!!!!!!!!….hoop die ouman/vrou het dit oorleef//…..gewoonlik word hulle geskiet vir blikkies hondekos!

christa ·

dankie vir daardie hulp. Diere is vir ons almal op aarde om na te kyk en te waardeer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.