Politikus pleeg selfmoord ná molestering-bewerings

Dan Johnson tydens Dinsdag se mediakonferensie (12 Desember 2017). Foto: AP Photo/Timothy D. Easley

Dan Johnson, ʼn politikus van die Amerikaanse deelstaat Kentucky, het Woensdag oënskynlik selfmoord gepleeg te midde van bewerings dat hy ʼn tienermeisie in die kelder van sy huis seksueel aangerand het.

Dave Billings, die plaaslike lykskouer, het gesê Johnson het weens ʼn enkele skietwond in sy kop gesterf. Hy was 57 jaar oud.

Sy liggaam is Woensdag gevind aan die einde van ʼn brug in ʼn afgeleë gebied in Mount Washington, Kentucky. ʼn Vuurwapen is ook op die toneel gevind. ʼn Nadoodse ondersoek sal Donderdag gedoen word, maar Billings het gesê dit is waarskynlik dat Johnson selfmoord gepleeg het.

Johnson is in 2016 tot die staatswetgewer verkies en was deel van ʼn reeks oorwinnings vir die Republikeine wat die party beheer van die Kentucky House of Representatives gegee het vir die eerste keer in byna 100 jaar. Hy het sy verkiesing gewen ten spyte daarvan dat Republikeinse leiers hom aangemoedig het om te onttrek nadat plaaslike media berig het dat hy Barack en Michelle Obama op sy Facebook-inskrywings met ape vergelyk het.

Johnson was die pastoor van ʼn kerk in Louisville en het ʼn aantal wetsontwerpe onderskryf wat te doen het met godsdienstige vryheid en Bybelstudie in openbare skole. Hy was egter grootliks uit die kollig tot Maandag toe die Kentucky Center for Investigative Reporting berig het oor bewerings dat Johnson ʼn 17-jarige vriendin van sy dogter tydens ʼn Oujaarsaandpartytjie in 2012 molesteer het.

Die vrou het destyds die polisie van die voorval ingelig wat dit ondersoek het, maar die saak later gesluit het en nie enige aanklagte gebring het nie.

Johnson het Dinsdag ʼn nuuskonferensie in sy kerk gehou wat hy begin het deur sy vriende en familie ʼn Kerslied te laat sing. Hy het toe gesê die bewerings teen hom is “heeltemal onwaar” en deel van ʼn landswye strategie om konserwatiewe Republikeine te oorwin. Hy het verwys na Roy Moore, ʼn Republikeinse politikus van Alabama, wat ook bewerings van seksuele oortredings in die gesig staar.

Woensdag kort voor 17:00 het Johnson ʼn boodskap op sy Facebook-blad geplaas waarin hy mense vra om na sy vrou om te sien. Hy het geskryf post-traumatiese stresversteuring “is ʼn siekte wat my lewe sal neem. Ek kan dit nie langer hanteer nie. Dit het hierdie lewe oorwin, maar die hemel is my tuiste”. Die inskrywing is intussen verwyder.

Dié inskrywing het daartoe gelei dat daar na hom gesoek is en sy liggaam is later gevind.

Michael Skoler, die president van Louisville Public Media wat die Kentucky Center for Investigative Reporting besit, het gesê almal by die organisasie is baie hartseer om van Johnson se dood te verneem. “Ons doelwit is om altyd feite-gebaseerde en onbevooroordeelde verslaggewing aan die publiek te bied en staatsamptenare aanspreeklik te hou vir hul aksies,” het Skoler gesê.

“As deel van ons proses het ons verskeie kere na Johnson uitgereik deur die loop van ons sewe maande lange ondersoek. Hy het al ons versoeke om oor ons bevindinge te praat geweier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.