Ponzi-bedrieër Bernie Madoff oorlede

Bernie Madoff (Foto: Amerikaanse departement van justisie via Wikimedia Commons)

Bernie Madoff, wat die grootste Ponzi-skema nóg bedryf het, is Woensdag in die ouderdom van 82 oorlede.

Madoff het duisende kliënte van tot soveel as $63 miljard beroof. Hy sou op 29 April sy 83ste verjaarsdag gevier het.

Die Federale Buro van Gevangenisse het bevestig hy is oorlede in die federale mediese sentrum in Butner, Noord-Carolina. Hy het glo weens natuurlike oorsake gesterf, maar ʼn nadoodse ondersoek sal gedoen word.

Hy is in 2009 tot 150 jaar lank tronkstraf gevonnis. Sy prokureur, Brandon Sample, het in Februarie 2020 gesê sy kliënt is terminaal siek en wil die tronk verlaat om te sterf. “Die gevangenisburo het in September 2019 bepaal dat Madoff minder as 18 maande oor het om te leef weens die aard van sy nierversaking.” Die Washington Post het in daardie stadium berig Madoff benodig ʼn rolstoel en 24-uur versorging. Madoff het aansoek gedoen vir deernisvrylating sodat hy sy verhouding kon herstel met sy kleinkinders en by die huis kan sterf, maar die versoek is afgekeur.

Hy het skuld beken op aanklag dat hy ʼn Ponzi-skema bedryf het wat in die vroeë 1970’s begin is. Hy het oor vier dekades tot soveel as 37 000 mense in 136 lande bedrieg. Hy is op 11 Desember 2008 in hegtenis geneem ná sy twee seuns hom aan owerhede oorgegee het.

Van sy slagoffers sluit in die regisseur Steven Spielberg, akteur Kevin Bacon en Nobel-vredespryswenner Elie Weisel. Gewone beleggers soos Burt Ross het $5 miljoen in die skema verloor.

Die Amerikaanse owerhede het op sowat $4 miljard beslag gelê om dit aan duisende slagoffers wêreldwyd terug te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Francois Le Cochon ·

MM, moet “Federal Bureau of Prisons” nie “Federale Gevangenisburo” wees nie?

Megan Swart ·

Dagsê Francois Le Cochon
Dit moet die Federale Buro van Gevangenisse wees. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Vriendelike Frikkie ·

Goeie besigheid reël om te onthou: As ‘n aanbod te goed is om waar te wees, is dit gewoonlik.
Dis altyd net geldgierigheid wat maak dat mense in sulke skemas belê.

johann ·

Die Amerikaners het hìer iets reg gedoen. Madoff het ‘n ordentlike straf gekry en is nie toegelaat om die tronk te verlaat mediese redes nie

E ·

Ek het geweet van hom en die saak, maar nooit besef dat hy dit al in die 1070’s begin het nie. Verstommend!! 40 jaar, sy arme kinders, om te dink hulle hele lewe was geleef in oorvloed maar ‘n groot klug. Is dit nie sy seun wat selfdood gepleeg het nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.