Poolse vrou beweer sy is vermiste Madeleine McCann

Julie Wendell [Foto: Twitter]

ʼn Vrou van Pole het oor die naweek aangevoer sy is die vermiste Madeleine McCann. Sy het ingestem om ʼn DNS-toets te laat doen om haar identiteit te bewys.

The Mirror en The Daily Express berig Julie Wendell het op haar Instagram-blad, genaamd @iammadeleinemcann, gesê sy het ʼn paar maande gelede begin wonder of sy nie die vermiste Madeleine is nie. Dit volg nadat mense die afgelope paar maande foto’s op sosiale media gedeel het van hoe dié Britse meisie sou lyk indien sy steeds sou leef.

Nou beweer Wendell dat sy dieselfde spikkel in haar oog en ʼn sproet op haar been het as wat Madeleine gehad het.

Op die blad het sy video’s geplaas waarin sy verduidelik waarom sy dink dat sy Madeleine is. Wendell het meer as 25 000 volgers op Instagram gekry.

Ondersoekers dink egter sy waag ʼn kans met haar bewerings.

Wendell wil bewys dat sy “Maddie” is en het hulp gevra om ʼn DNS-toets te laat doen. Sy het op haar Instagram-blad geskryf: “Help my, ek moet met Kate en Gerry McCann praat, ek dink ek kan Madeleine wees. Ek het ʼn DNS-toets nodig.”

Die Britse kleuter het in 2007 by ʼn vakansieoord in die omgewing van Praia da Luz in Portugal verdwyn.

Ná 15 jaar is dit steeds nie duidelik wat van haar geword het nie, hoewel ondersoekers vermoed sy is vermoor. Indien sy wel nog leef, sal sy nou 19 jaar oud wees. Die polisie ondersoek in dié stadium steeds ʼn saak van ʼn vermiste persoon.

Wendell is egter 21 jaar oud, maar sy glo haar ouderdom kan verkeerd wees.

Julie Wendell beweer sy is Madeleine McCann [Foto: Twitter]

The Daily Star berig ʼn TikTok-gebruiker, genaamd Maddie, het in 2021 ook ʼn video gedeel waarin sy vertel dat haar familie en vriende vir haar sê sy lyk soos Madeleine.

Sy het ʼn paspoortfoto van haarself as ʼn jongeling gedeel, met dieselfde haarstyl, groen oë en ovaalvormige gesig as Madeleine sʼn. Sy het die foto langs ʼn foto van Madeleine s’n geplaas.

Die polisie het egter ook nie haar bewerings ernstig opgeneem nie.

Maroela Media het vroeër berig Christian Brückner –  ʼn veroordeelde verkragter en kindermishandelaar – is in April verlede jaar formeel geïdentifiseer as die verdagte in die verdwyning van Madeleine.

Brückner is in Oktober verlede jaar van vyf onverwante seksuele misdrywe aangekla. Duitse aanklaers sê die ondersoek na Madeleine se verdwyning is steeds afsonderlik aan die gang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sarel ·

Die Ouers moet vir eers beskerm word tot sekerheid verkry is
.jy kan nie met mense se gevoelens speel nie

Renier ·

As ek na die merkie kyk,dink ek nie dat dit sy is nie. My opinie.

Vanessa ·

Maddie se ogies is groot. Dit lyk nie vir my soos sy nie.

Maritza ·

Wonder wat se die mense wat haar groot gemaak het hiervan

Aai ·

Ek dink die polisie moet haar beskerm nou as daar wel ‘n sindikaat betokke was kan haar lewe in gevaar wees as dit wel Madelein is.

Aai ·

Sou jy nie as daar ‘n kans is en daar niks fotos van jou geboorte tot op 3?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.