Popster sê sy sal sportspan se broekie-boete betaal

Pink in Mei 2021 op die Billboard-musiektoekenningsgeleentheid by die Microsoft-teater in Los Angeles, Kalifornië. (Foto: Rich Fury/Getty Images North America/AFP)

Die Amerikaanse popster Pink het aangebied om ʼn “seksistiese” boete te betaal wat die Noorweegse vrouestrandhandbalspan opgelê is nadat lede geweier het om bikini-broekies te dra tydens die Euro 2021-toernooi.

Die span is ʼn boete van €1 500 (sowat R27 000) opgelê deur die European Handball Federation (EHF) nadat spanlede kortbroekies, in plaas van regulasie-swemdrag, gedra het tydens ʼn bronsmedalje-wedstryd in Varna, Bulgarye, waarin hulle teen Spanje verloor het.

Pink, ʼn driemalige Grammy-wenner, het op Twitter gesê sy sal die boete betaal, en het die EHF oor die kole gehaal terwyl sy die spelers aangemoedig het om steeds hulself te bedek.

“Ek is baie trots op die Noorweegse vrouestrandhandbalspan wat opstaan teen die baie seksistiese reëls oor hulle ‘uniform’,” het die “Get the party started”-sanger op Twitter geskryf.

“Die EHF behoort ʼn boete opgelê te word vir seksisme. Goed vir julle, dames! Ek sal met graagte die boete namens julle betaal. Hou so aan.”

Noorweegse sportbeamptes het reeds hulle ongelukkigheid oor die beslissing uitgespreek. “In 2021 behoort dit nie meer ʼn kwessie te wees nie,” het Eirik Sordahl, president van die Norwegian Volleyball Federation, gesê.

Kleredrag veroorsaak lankal reeds twis in strandsportsoorte, met sommige vrouespelers wat bikini-broekies vernederend en onprakties vind.

Die Noorweegse spanlede het hulle ondersteuners op sosiale media bedank nadat ʼn internasionale herrie oor die boete ontketen is.

Die EHF, wat bewus is van die woedende reaksie op sy besluit, het gesê die boete is geskenk aan ʼn “groot internasionale sportstigting wat gelykheid vir vroue en meisies in sport bevorder”.

Terwyl bikini’s sedert 2012 nie verpligtend is vir strandvlugbalspelers nie, bepaal die reëls van die International Handball Federation (IHF) dat vroueatlete “noupassende bikini-broekies” moet dra wat “teen ʼn opwaartse hoek na die bokant van die been gesny is” en ʼn kantdiepte van nie meer as 10 cm moet hê nie.

Manspelers dra kortbroeke.

“Dit is heeltemal belaglik,” het Abid Raja, Noorweegse minister vir kultuur en sport, op Twitter ná Maandag se beslissing gesê.

“ʼn Verandering van houding is wat skort in die macho en konserwatiewe internasionale wêreld van sport.”

Noorweë het kort voor die toernooi toestemming by die EHF gevra om in kortbroeke te speel, maar is daaraan herinner dat dié oortreding van die reëls strafbaar is met boetes.

Hulle het tot hulle laaste wedstryd by die reëls gehou.

“Die EHF is daartoe verbind om hierdie onderwerp na vore te bring in die belang van sy lidfederasies. Daar moet egter bygevoeg word dat ʼn verandering van die reëls slegs op IHF-vlak gedoen kan word,” het Andrew Barringer, woordvoerder van die EHF, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

Wel mens kan seker maar hulle argument verstaan. Maar dis nou jammer

anniekiewiet

Jy is ‘n ster, Pink. Hoekom moet vroue altyd gedwing word om so min moontlik aan te hê, terwyl mans kortbroeke mag dra? Ek is baie bly my dogter doen nie atletiek nie.

Elmarie

Mooi so meisies, dis julle liggame en as julle nie wil wys nie, vir wat moet julle. Die wat WIL wys, laat hulle, maar daar moet geensins gediskrimineer word of dinge afgedwing word waarmee mense ongemaklik voel nie!

Sarel

Bravo vir die span…

B-Man

Stuur die EHF Noorweë toe en laat hulle daar met hulle baaibroekies speel. Kyk dan hoe lank hulle vat voor hulle vra vir langer klere.