Pous het verkoue, nié korona, sê Vatikaan

Pous Franciskus hoes Sondag tydens die tradisionele Sondagseën. (Foto: Andrew Medichini, AP)

Die Vatikaan sê pous Franciskus het ’n slegte verkoue en nié die gevreesde nuwe koronavirus bekend as Covid-19 nie.

Dít volg nadat die pous verlede week twee amptelike afsprake misgeloop het en toe boonop al hoesende tydens die tradisionele Sondagseën aangekondig het dat hy nie meer gaan deelneem aan ʼn beplande week lange geestelike afsondering buite Rome nie. Hierna het talle bewerings oor die 83-jarige pous se gesondheid vandeesweek die ronde begin doen.

Matteo Bruni, woordvoerder van die Vatikaan, hou egter vol dat pous Franciskus nét ’n verkoue het en daarom ’n effense blaaskans van sy pligte neem. Die pous het egter nog nooit voorheen soveel amptelike afsprake in sy hoedanigheid as pous die sewe jaar gekanselleer nie.

Die Italiaanse dagblad Il Messaggero het Dinsdag berig dat die pous negatief vir Covid-19 getoets het. Bruni het nie kommentaar op dié berig gelewer nie, maar gesê pous Franciskus het nie enige simptome wat met ander patologie verband hou nie.

Gelowiges dra maskers terwyl hulle Sondag na die pous op St. Pietersplein luister. (Foto: Andrew Medichini, AP)

Die pous is ’n relatief gesonde man hoewel hy as jong man ’n gedeelte van sy long verloor het weens ’n asemhalingsiekte.

Meer as 2 500 bevestigde gevalle Covid-19 is reeds in die noorde van Italië aangemeld. Altesaam 27 mense is die afgelope 24 uur in dié land weens die virus dood. Die sterftes is meestal in die Veneto- en Lombardië-streek meer as 500 km van die Vatikaan aangemeld.

Teen Woensdagoggend is altesaam 93 062 bevestigde gevalle van Covid-19 in 76 lande aangemeld.

China (80 422), Suid-Korea (5 328), Italië (2 502) en Iran (2 336) gaan die ergste gebuk onder dié dodelike virus. Die dodetal staan tans op 3 198.

Bronne: ABC, TIME, WHO

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

Tyd het gewoonlik ‘n manier om die waarheid te ontbloot.

Wonder net ·

Ja en ‘n week terug het hy links en regs soene uitgedeel en mense se hande gevat, en mense op die voorkop gesoen, nadat daar alkaar reeds ‘n groot aantal positiewe gevalle was…..Mmmmm…

marius ·

En sy volgelinge het soveel vertroue in hom hulle da maskers …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.