Pous ondergaan operasie

Argieffoto van pous Francis (Foto: Andrew Medichini)

Pous Franciscus sterk goed aan nadat hy ’n operasie weens ’n ontsteekte dikderm by ’n hospitaal in Rome ondergaan het. Die 84-jarige sal volgens die Vatikaan wel nog ’n week in die hospitaal moet aanbly.

Die pous is Sondag in die Gemelli-hospitaal opgeneem waar hy ’n geskeduleerde operasie ondergaan het vir simptomatiese divertikulêre stenose van die dikderm.

Dié toestand veroorsaak glo pynlike ontsteking van die divertikulum – ’n sak wat op die dikdermwande kan vorm en wat geneig is om met ouderdom te vererger.

Die operasie het sowat drie ure geduur waartydens ’n gedeelte van die pous se dikderm verwyder is.

Pous Franciskus is sedertdien in ’n stabiele toestand, wakker en haal self asem, sê Matteo Bruni, woordvoerder van die Vatikaan.

Dit lyk of pous Franciscus sowat ’n week gelede op die vooraand van die Fees van die Heilige Petrus en Paulus op sy komende hospitalisasie gesinspeel het toe hy gelowiges versoek het om vir hom te bid. “Ek vra u om vir die pous te bid, op ’n spesiale manier te bid. Die pous het u gebede nodig,” was sy versoek.

Pous Franciscus word in dieselfde suite op die tiende verdieping van die Gemelli-hospitaal in die Italiaanse hoofstad behandel waar pous Johannes Paulus II ook behandeling ontvang het. Dié ontslape pous is sewe keer hier geopereer, onder andere ná ‘n poging tot moord op sy lewe in 1981 en ’n gewas wat in 1992 in die dikderm verwyder is.

Dié suite het ’n bed, televisie, sy eie private badkamer asook ’n klein sitkamer met ’n klein altaar. Die gang na die suite word bewaak deur die Italiaanse en die Vatikaan-polisie.

Johannes Paulus II was glo so gereeld in dié suite dat hy die suite “Vatikaan 3” gedoop het naas die Vatikaanstad en die pouslike somerpaleis by Castel Gandolfo buite Rome.

Pous Franciscus het op 21-jarige ouderdom ’n deel van sy regterlong verloor. Hy sukkel ook met sy heup en ly aan iskias, ’n siektetoestand waar ’n pasiënt pyn van die lae rug, deur die heup en agterlyf tot in die been beleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.