Pous ‘skaam’ oor Franse seksskandaal

Pous Franciskus. (Foto: Andrew Medichini)

Pous Franciskus het Dinsdag sy medelye met die duisende slagoffers betoon wat oor die afgelope 70 jaar as minderjariges seksueel misbruik is deur pedofiele in die Franse Katolieke Kerk.

ʼn Skrikwekkende verslag deur ʼn onafhanklike kommissie het vandeesweek onthul dat daar minstens 216 000 slagoffers tussen 1950 en verlede jaar was.

Benewens die verklaring wat die pous Dinsdag uitgereik het, het hy Woensdag tydens sy weeklikse oudiënsie in die Vatikaan selfs verder gegaan.

“Ek wil my hartseer en pyn aan slagoffers te kenne gee oor die trauma wat hulle ondervind het.

“Ek skaam my, ons skaam ons oor die Kerk se jare lange onvermoë om slagoffers eerste te stel.”

Die verdoemende verslag spruit uit die kommissie se navorsing na bewerings van seksuele misbruik wat oor sewe dekades deur minderjariges teen Franse Katolieke priesters, diakens en ander lidmate gemaak is.

Die kommissie het vroeër reeds onthul dat sowat 3 200 pedofiele in dié tydperk in die binnekringe van die Kerk bedrywig was.

Die kommissie het twee en ʼn half jaar gelede met sy navorsing begin nadat pous Franciskus in Mei 2019 beloof het om mishandeling deur priesters onder ʼn soeklig te plaas.

Die verslag het grootskaalse woede ontlok terwyl toenemende bewerings van seksuele misbruik en vervolging die Katolieke Kerk wêreldwyd in die gesig staar.

AFP berig die magdom onthullings van seksuele misbruik deur priesters en lidmate is een van die grootste uitdagings wat die pous sedert sy verkiesing in 2013 moes hanteer.

Pous Franciskus het ʼn einde aan straffeloosheid gemaak en die wet van die Vatikaan verander om die aanmelding van mishandeling verpligtend te maak. Slagoffers het egter gewaarsku dat dit nie genoeg is nie.

Die pous het geestelikes Woensdag aangemoedig om toe te sien dat die gebeure nooit weer herhaal word nie. Hy het sy steun aan Franse priesters toegesê om die kwessie as ʼn “moeilike maar genesende” proses te aanvaar en die waarheid onder die oë te sien.

Hy het ook ʼn beroep op Franse Katolieke gedoen om hul verantwoordelikheid te aanvaar om te verseker dat die Kerk ʼn “veilige tuiste vir almal” is.

Biskop Eric de Moulins-Beaufort, die president van die Biskopkonferensie van Frankryk, het ook sy “skok en afgryse” oor die bevindings in die verslag uitgespreek.

“My wens vandag is om vergifnis van elkeen van julle te vra,” het De Moulins-Beaufort tydens ʼn nuuskonferensie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

Ek glo nie die Franse priesters is die enigstes nie. Ek glo alle lande se katolieke priesters, nie al die priesters nie, is betrokke.
En moennie die nonne weggooi nie! Katedrale het dubbel mure, en baie babatjies is daar gegooi. Priesters en nonne se buite egtelike babas. Dit is nie ‘n storie nie. Met my eie oë gesien. So priesters in nie so hoog heilig as wat hulle uit gemaak word nie. En dit is defnitief nie net die afgelope 70 jaar nie!

Pietertjie

Is hy skaam dat hulle uitgevang is? Anders sou hy al lankal opgetree het teen die oortreders, want die storie is eintlik al lank in die tand.

Johanna

In Suid Afrika, naby Rustenburg was n roomse priester wat van n ander land hoerheen gepos is om sy seksdade met kinders toe te smeer. Wat gebeur…… hy het hoeveel.kinders hier mollesteer en toe hy gevang word toe pos hulle hom wéér na n ander land toe..
Alles was toegesmeer.
Ek.voel die Roomse Kerk moet groot somme skade vergoeding uit betaal aan daardie mense. En aan die lande waar dut grbeur het.
Die skade is on-,,rekenbaar

Pieter

Dis hoekom ek na hulle verwys as die Rooms Pedofiele Kerk.

sopbeen

Gaan kyk gerus die dokumentêr “Who killed sister Cathy Cesnik” op Netflix