Pous veroordeel onversadigbare gierigheid

Pous Franciskus. (Foto: Andrew Medichini)

Pous Franciskus het Christene daaraan herinner dat hul Verlosser in armoede gebore is en gesê hulle moet hulle op liefde en weldade toespits, pleks van die verbruikerskultuur. Sowat 10 000 mense het in die Sint Pietersbasilika na sy Kersboodskap kom luister.

Die 82-jarige pous het sy Oukersmis gebruik om die najaag van rykdom te veroordeel en Christene gemaan om Jesus se nederige geboorteverhaal in gedagte te hou, berig Deutsche Welle. Volgens die Nuwe Testament is Christus in ʼn stal in Betlehem gebore en toe in ʼn krip geplaas.

“Wanneer ons voor die krip staan, verstaan ons dat ons lewensvoedsel nie materiële rykdom is nie, maar liefde, nie vraatsug nie, maar liefdadigheid, nie praal nie, maar eenvoud,” het die pous aan die skare in die Vatikaan gesê.

“Onversadigbare gierigheid is die kenmerk van die hele menslike geskiedenis, selfs vandag, waar enkeles weelderig eet, terwyl alte veel moet klaarkom sonder die daaglikse brood wat nodig is om te oorleef,” het hy gesê.

Die 82-jarige het die middernagmis gelei voor sowat 10 000 mense in die Sint Pietersbasilika, die grootste Christenkerk ter wêreld. Vandat hy in 2013 die Katolieke Kerk se leier geword het, spits Franciskus hom toe op vraagstukke soos armoede en ongelykheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.