Praag-hospitaal voer aborsie op verkeerde vrou uit

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Hospitaal in Praag vra om verskoning nadat medici ’n ongevraagde aborsie op ʼn pasiënt uitgevoer het nadat personeel haar met ʼn ander vrou verwar het.

Personeel het deurmekaar geraak met die twee pasiënte en die aborsie op die verkeerde pasiënt gedoen.

Een van die vroue het na die hospitaal gekom vir ʼn roetineondersoek tydens haar swangerskap, terwyl die ander vrou aangemeld het vir ʼn baarmoederskraap wat ook ʼn metode is om ʼn swangerskap te beëindig.

Albei is Asiese vroue met permanente verblyfreg in die Tsjeggiese Republiek, aldus plaaslike media.

“Ongelukkig was dit ’n menslike fout,” het Jan Kvacek, hoof van die Bulovka-hospitaal in Praag, Donderdag aan verslaggewers gesê.

Volgens Kvacek het ’n taalmisverstand tussen die vrou en hospitaalpersoneel moontlik tot die voorval gelei.

Michal Zikan, hoof van die hospitaal se departement van verloskunde en ginekologie, het verduidelik dat die pasiënt ʼn dokument in Tsjeggies onderteken het wat egter aan die ander pasiënt behoort het.

“Drie dae vroeër is die pasiënt in fyn besonderhede, in die teenwoordigheid van ’n tolk, verduidelik watter prosedure sy sou ondergaan en dat dit net ’n ondersoek is,” het Zikan aan joernaliste gesê.

Zikan sê chirurge het dus “geen rede gehad om te glo dat hulle met ʼn ander pasiënt besig is nie”.

Een werknemer is nietemin geskors ná die voorval terwyl ʼn ander een voortaan onder deskundige toesig moet werk.

Kvacek het gesê die hospitaal is “diep jammer” oor die “tragiese” verwarring. Die instelling bied tans sielkundige en regshulp aan die pasiënt op wie die aborsie uitgevoer is.

“Sy is ongetwyfeld geregtig op vergoeding.”

Die voorval herinner aan dié van Thi-Nho Vo, ’n Franse vrou van Viëtnamese oorsprong, wat weens ’n soortgelyke verwarring haar baba in 1991 verloor het.

Thi-Nho het destyds ʼn klag by die Europese Hof vir Menseregte ingedien en beweer die hospitaal het moord gepleeg. Die hof het egter in 2003 beslis dat die onwillekeurige aborsie van ʼn fetus nie op manslag neerkom nie. Dié saak sou eindelik ʼn presedent oor die wetlike status van ongebore babas skep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Papsak ·

Kla aan dit is moord daarom gaan ek nie na n hospitaal toe nie want jou lewe nie verseker daar nie hulle haal sommer verkeerde goed uit nee o tyd gevaarlik !!!!

Oros Soros ·

Verskoning is hier duidelik ongepas en ‘n nikseggende gebaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.