Pragfoto’s: Diana steeds ‘koningin van harte’ 25 jaar later

Diana, prinses van Wallis, tydens ʼn besoek aan Melbourne, Australië (Foto: Patrick Riviere/AFP)

Daar word gereeld gesê dat almal wat destyds oud genoeg was presies kan onthou waar hulle op 31 Augustus 1997 was toe die nuus gebreek het dat Diana, prinses van Wallis, gesterf het weens beserings wat sy opgedoen het in ʼn motorongeluk in die Pont de l’Alma-tonnel in Parys, Frankryk.

Diana se onstuimige lewe vanaf haar verlowing as ʼn skaam en onbekende tiener aan die Britse troonopvolger, tot haar rol as ma en mode- en liefdadigheidsikoon, boei mense steeds oor die hele wêreld 25 jaar ná haar dood.

Daar word berig dat haar seuns, prins William en prins Harry, hul ma se afsterwe privaat maar afsonderlik sal herdenk, gegewe die vete wat steeds tussen die broers broei sedert Harry en sy vrou, Meghan Markle, die hertogin van Sussex, se uittrede as werkende koninklikes in 2020.

Die broers het vyf jaar terug ʼn reeks openbare herdenkings van haar lewe bygewoon en gepraat van die blywende uitwerking van haar dood op hul lewe. Hulle het egter verlede jaar hul verskille eenkant toe geskuif om ʼn nuwe standbeeld van hul ma te onthul op die dag dat sy haar 60ste verjaarsdag sou vier.

Diana se broer, graaf Charles Spencer, het egter ʼn foto op sosiale media gedeel waarop die Britse landsvlag halfmas by Althorp – die Spencers se tuiste en Diana se kinderhuis – hang.

Die mees gefotografeerde vrou van die 1980’s en 90’s is vir baie steeds die “koningin van harte” en haar gewildheid leef voort in die eindelose beelde waarin sy byna elke dag van haar lewe vasgevang is. Hier is ʼn terugblik op die minder bekende foto’s deur prinses Diana se lewe voor haar tragiese dood.

(1964) Lady Diana Spencer en haar broer, graaf Charles Spencer.

(Foto: Charles Spencer/Instagram)

 

(Datum onbekend) Diana was as tiener ʼn kranige balletdanseres.

(Foto: Charles Spencer/Instagram)

 

(1982) Diana groet die aktrise Elizabeth Taylor aan die einde van die vertoning van The Little Foxes in Londen.

(Foto: Douglas E. Curran/AFP)

 

(1988) Diana tydens ʼn besoek aan Footscray Park in Melbourne, Australië.

(Foto: Patrick Riviere/AFP)

 

(1988) ʼn Nabye skoot van die prinses by Orly, naby Parys, aan die einde van haar amptelike besoek aan Frankryk.

(Foto: Jean-Loup Gautreau/AFP)

 

(1992) Diana gesels met ʼn pasiënt by Moeder Teresa se Sendelinge van Liefdadigheid, die orde wat Moeder Teresa in Kolkata tot stand gebring het.

(Foto: Aloke Mitra/ AFP)

 

(1993) Die prinses baljaar in die branders by die Indian Castle-strand tydens ʼn vakansie op die eiland Nevis.

(Foto: Paul J. Richards/AFP)

 

(1993) In hierdie foto gesels die prinses met Nepalese kinders terwyl sy ʼn Rooi Kruis-projek in die Himalaja-voetheuwels besoek.

(Foto: AFP/POOL)

 

(1996) Diana staan stil by die bed van ʼn beseerde man terwyl sy die Cook County-hospitaal se traumasaal in Chicago in die VSA besoek.

(Foto: AFP/POOL)

 

(1996) Die Amerikaanse presidentsvrou, Hillary Clinton, ontmoet Diana by die Withuis in Washington, DC. Diana het die Withuis besoek om ʼn wêreldwye verbod op die gebruik van landmyne te bevorder.

(Foto: The White House/AFP)

Bronne: AFP, USA Today.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Christine ·

Pragtige prinses. Die koningshuis het haar nie verdien nie en jaloesie het haar einde beteken.

Wielspore ·

Diana het ‘n natuurlike aantrekkings krag van skoonheid, sorg, liefde, omgee en respek gehad. So sal ek en baie mense haar onthou. Dit het die Britse koningshuis jaloers en bitter gemaak.

Cindy ·

Sy was darm maar ‘n pragtige vrou, en mens. Ek onthou beslis presies waar ek was, en hoe ek en ‘n paar kollegas gehuil het asof ons ‘n familie lid verloor het.

Frank ·

Die dood van ‘n prinses
wat die wereld verstom,
bring diepe hartseer mee,
stille eerbetoon.

‘n Prinses van ‘n land,
ver, ver hiervandaan,
met steeds ‘n siel wat uitreik,
oor heel die wereld heen.

‘n Toonbeeld van ‘n vrou,
met krag en liefde omring,
en diep verborge ‘n siel,
wat telkens skeur en ween.

O, Prinses van ‘n verre land,
my eer en hulde bring ek jou,
vir u toonbeeld van hoop en krag,
oor heel my eie doodsjordaan.

(Ek was in hospitaal, opgeneem na “selfmoordpoging”, toe van haar dood hoor en hierdie geskryf het)
Kopiereg F Coetzee

007 ·

Ek is bly jy is nog hier om die kommentaar te skryf. Baie mooi en diep gedig.

Catherina ·

Toe albei haar seuns gebore is, het ek elkeen in my klas iets laat teken of skryf en aan haar gestuur……(was leerders met gestremdhede). Elke keer het sy persoonlik vir hulle terug geskryf…..wat n lieflike prinses

Patch ·

Wat ‘n pragtige, uitmuntende vrou! Die foto waar sy die man in die hospitaal besoek het my laat wonder waaraan sy daar gedink het. Minwetend dat sy ‘n jaar en twee maande later die lewe sou verlaat.
Ek wens daar was meer mense soos sy. The Flower of England!

KatjieDeKat ·

Dis So waar! Ek was in die hospitaal, wat nou die Pretoria Akademiese hospitaal is, ek moes n paar dae inbly voor ek geboorte kon gee aan my jongste dogter. Ek was 32 weke swanger, my eerste 2 kinders was altwee preemies. Toe ek daardie gruwelike nuus hoor het ek in trane uitgebars. Ek het gehuil tot ek nie uit my oë kon sien nie. Ek het baie deernis vir arme Diana gehad. So much affection. It was like a hammer blow to my heart. Sal daardie dag nooit vergeet nie, en sal Haar nooit vergeet nie. Arme vrou. Maak my nou nog hartseer en kwaad om aan haar dood te dink.

Sandra ·

Ja die fotos van haar besoeke as ‘n prinses was goed, maar daar was te veel, soos die een in die branders bewys, van haar as ‘n privaatmens ook. En dis waar die probleem ingekom het. Die paparazzi kon later nie tussen die twee onderskei nie, en dit het tot haar tragiese dood gelei. Sy was pragtig.

Swerwer ·

Sy was ‘n mense mens , nederig en altyd uitgereik na ander mense. ‘n Prag van binne en buite.

melaney ·

Met só ‘n hart sal Diana verewig onthou word. Wat ‘n dame! Wat ‘n prinses!

Hannelie ·

Ek sal nooit vergeet toe ons die hartseer nuus gehoor het nie, ek het al wat ‘n koerant was gekoop, want jy wou dit nie glo nie. Mens kan haar net nie vergeet nie, sy was so vol liefde en omgee.

Lillian ·

Syt die wêreld op sy kop kom draai met wie sý was. Gone too soon. Pragtige vrou.

Niklaas ·

Sy was ‘n merkwaardige vrou , besonder geliefd en gewild. Haar optredes in die openbaar was altyd wenners. Sy kon nog soveel aangepak en gedoen het en is net te vroeg dood om verdere goeie dade en pligte uit te voer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.