Pragfoto’s: Kate keer terug werk toe ná kort gesinsvakansie

Kate Middleton, die prinses van Wallis, tydens ‘n onlangse openbare verskyning in Scarborough. (Foto: Charlotte Graham/POOL/AFP)

Kate Middleton, die nuwe prinses van Wallis, het Donderdag ʼn stylvolle terugkeer werk toe gemaak ná ʼn twee weke lange skoolvakansie saam met haar drie kinders – prins George (9), prinses Charlotte (7) en prins Louis (4).

Die prinses en haar man, prins William, het twee welsynsorganisasies wat gedeeltelik deur die Britse koninklikes se Royal Foundation befonds word, in Scarborough, Yorkshire in Engeland, besoek.

Dié organisasies fokus onderskeidelik op jongmense se geestesgesondheid en om Britse gesinne te midde van dié land se stygende lewenskostekrisis te ondersteun.

Kate het ʼn stylvolle beige rolhalswintersrok en bypassende woljas gedra. (Foto: Chris Jackson/POOL/AFP)

Die voormalige hertogin van Cambridge het ʼn stylvolle beige rolhalswintersrok en bypassende woljas tydens dié besoek gedra. Haar uitrusting is met ʼn bruin gordel van die Britse aanlyn modewinkel Boden afgerond, terwyl haar kenmerkende donker lokke los oor haar skouers gehang het.

Kate se laaste amptelike openbare verpligting was aan die begin van Oktober toe sy die Copper Box Arena in die Queen Elizabeth Olympic Park-sportsentrum besoek het.

Die prinses se onlangse besoek aan Scarborough volg ook te midde van bespiegelings dat sy tans swanger is met haar en prins William se vierde kind.

Dié nuus is egter nog nie deur ʼn betroubare nuusbron of die koninklike familie bevestig nie, maar die prinses sê dikwels tergend tydens amptelike besoeke dat sy nie sal omgee om nog ʼn pienkvoet in die gesin te verwelkom nie.

Maroela Media het vroeër berig dat Kate en William vroeër vanjaar aangekondig het dat hulle besluit het om van hul Londense woonstel by Kensington-paleis na Adelaide Cottage naby Windsor-kasteel te verhuis om hul kroos ʼn “normale gesinslewe” te probeer gee.

Die Cambridge-gesin se nuwe woning is glo ʼn klipgooi van Kate se ouers, Michael en Carol Middleton, af en die Daily Mail het berig dat die hertogin se suster, Pippa, ook saam met haar gesin binnekort na dié deel van die Britse platteland wil verhuis.

Luidens koninklike bronne sal Kate en William uiteindelik van Adelaide Cottage na Windsor-kasteel toe trek, waar daar meer as genoeg spasie vir ʼn vierde kleinding sal wees.

Bronne: BBC, AFP, Hello! Magazine.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Ek verstaan toe hulle eers uit gegaan het het hulle vir soe rukkie op gebreuk. Maar William ek dink het gou besef wat ‘n formidabele vrou die is. Sy het meer “style” in haar pinkie as Megan Markle in haar hele liggaam!

Bugsby ·

Sy is nie die voormige hertogin nie, haar titel is HRH Catherine, Princess of Wales, Duchess of Cornwall and Cambridge. Pragtige sterk vrou met goeie waardes en fantastiese styl.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.