President van Mali bedank midde staatsgreep

Soldate Dinsdag buite Keita se amptelike woning in Bamako, Mali. (AP Photo)

Ibrahim Boubacar Keita, president van Mali, het bedank nadat hy as deel van ʼn staatsgreep deur soldate by ʼn militêre basis in dié land aangehou is.

Keita het sy bedanking en die ontbinding van sy kabinet laat Dinsdagaand op staatstelevisie aangekondig.

“Ek het besluit om van hierdie oomblik af afstand van my funksies te doen… Ek verklaar die ontbinding van die Nasionale Vergadering en die regering.

“My wens is dat geen bloed vergiet word om my aan bewind te hou nie,” het Keita bygevoeg.

Dit volg ure nadat soldate die president Dinsdagoggend saam met premier Bounpi Cisse en ander staatsamptenare in hegtenis geneem en naby die hoofstad Bamako aangehou het.

Kol. Ismael Wague, adjunkpersoneelhoof van die lugmag in Mali, het intussen op staatstelevisie die stigting van die National Committee for the Salvation of the People (CNSP) aangekondig.

Ibrahim Boubacar Keita (Foto: AP Photo/Frank Franklin II, File)

Volgens Wague was ʼn militêre staatsgreep nodig omdat Keita se regering Mali in “chaos, anargie en onsekerheid” gedompel het.

Die CNSP het intussen alle landsgrense gesluit en ʼn aandklokreël van 21:00 tot 05:00 tot verdere kennisgewing in Mali ingestel.

Dit is in dié stadium onduidelik presies wie die staatsgreep lei, hoeveel soldate daaraan deelneem of wie nou by Keita sal oorneem tot die volgende verkiesing. Daar word wel vermoed dat CNSP agter die staatsgreep sit.

“Die burgerlike samelewing en sosiopolitieke bewegings word uitgenooi om by ons aan te sluit om saam die beste voorwaardes te beding vir ’n politieke oorgang wat sal lei tot geloofwaardige streekverkiesings. Dit moet gedoen word deur middel van ’n padkaart wat die grondslag sal lê vir ’n nuwe Mali,” het Wague gesê.

Die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-state, die Afrika-unie, die Europese Unie en die Verenigde Nasies het Keita se inhegtenisneming veroordeel en die herstel van die grondwetlike bestel in Mali geëis.

Keita is in 2013 tot president verkies en vyf jaar later herverkies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.