Pretpark moet miljoene opdok ná seun se dood

Die Verrückt-glybaan (Foto: Schlitterbahn-pretpark)

Hofdokumente wat vandeesweek aan die media bekend gemaak is, het onthul dat die ouers van die tienjarige Amerikaanse seun wat in Augustus verlede jaar op die “wêreld se hoogste waterglybaan” dood is, nagenoeg $20 miljoen (sowat R272 miljoen) in uitbetalings moet ontvang.

Caleb Schwab is verlede jaar in ʼn tragiese voorval by die Schlitterbahn-pretpark in Kansas City dood toe hy saam met twee ander mense teen die 50 m hoë Verrückt-waterglybaan (Duits vir “stapelgek”) afgegly het.

Die Verrückt-glybaan was een van die gewildste ritte van dié pretpark en het ook as toeriste-aantreklikheid gedien. Die glybaan is sedert Schwab se dood gesluit.

Mense wat op dié glybaan gery het, het in ʼn klein bootjie meer as tien verdiepings geval, ʼn snelheid van nagenoeg 110 km/h gehaal, oor ʼn bult gegly en dan 15 m deur die lug tot in ʼn swembad geploeg.

Schwab is tydens dié rit onthoof en die twee vroue wat saam met hom op die rit was, het ernstige gesigbeserings opgedoen. Hulle het buite die hof geskik.

Hoewel nie al die besonderhede wat in die hof bekendgemaak is met die media gedeel mag word nie, berig CBS dat Schwab se veiligheidsgordel losgeskeur het tydens die rit voordat hy onthoof is weens die impak.

In die hofdokumente word ook genoem dat talle ander mense ook al noue ontkomings op dié einste rit by die Schlitterbahn-pretpark gehad het.

Minstens vier maatskappye moet dié bedrag aan die gesin opdok. Die grootste gedeelte van die geld moet uitbetaal word deur SVV 1 en KC Water Park, die grootste aandeelhouers in Schlitterbahn.

Winter Prosapio, Schlitterbahn se woordvoerder, het in ʼn e-pos aan CBS gesê die familie van Schwab sal “vir altyd in ons gedagtes en gebede wees”.

Intussen het die Republikeinse goewerneur Sam Brownback wetgewing met betrekking tot pretparke erg verskerp as ʼn voorsorgmaatreël om te probeer verhoed dat só iets weer gebeur.

Bron: CBS

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marisa ·

Hierdie tipe ‘pret’-parkritte behoort ONWETTIG te wees.

Marianne ·

What???????? Is die ontwerpers van die glyplank sadisties???
Normale mense kan mos nie op sulke goed gaan “speel” nie.
Pay as you die.

Karel ·

Onder 14 jaar mag nie op die ding ry nie, so hoe het die kind daar op beland…of sy ouers het dit nie gelees nie, of die ou wat die toegang doen her hom blind gehou.

Piet Pompies ·

Al was die kind onder die toegelate ouderdom het die oorsaak van die ongeluk niks met ouderdom te doen. Die veiligheidsgordel het geskeur en die eienaar van die toerusting is verantwoordelik vir besoekers se veiligheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.