Pretpark-tragedie: Twee van rit geslinger

Nooddienswerkers by die Thunder River Rapids-rit in die Dreamworld-pretpark in Queensland, Australië. Foto: Dan Peled/AAP via AP

Nooddienswerkers by die Thunder River Rapids-rit in die Dreamworld-pretpark in Queensland, Australië. Foto: Dan Peled/AAP via AP

Twee van die mense wat Dinsdag op ʼn rit by die Dreamworld-pretpark in Queensland, Australië, dood is, is glo van die tuig waarop hulle gery het afgeslinger terwyl twee ander in die tuig vasgekeer was.

Maroela Media het vroeër berig vier mense is dood ná ʼn ongeluk op die Thunder River Rapids-rit. Die gewilde Dreamworld-pretpark is ná die voorval gesluit en die toneel rondom die pretrit is afgesper sodat owerhede die oorsaak van die voorval kan ondersoek.

Gavin Fuller, ʼn woordvoerder van die nooddienste in Queensland, het gesê twee mense is van die tuig afgeslinger en twee was in die tuig vasgekeer toe die pretrit weens ʼn tegniese fout onklaar geraak het. Al vier mense het kritieke beserings opgedoen en nooddienspersoneel is na die toneel ontbied. Die polisie het later bevestig dat al vier mense gesterf het, maar wou nie bevestig of die oorledenes mekaar geken het of familie van mekaar was nie.

Volgens Fuller was die oorledenes twee mans en twee vroue tussen die ouderdomme van 32 en 40. Elke rytuig op die Thunder River Rapids-rit kan ses mense akkommodeer. Niemand anders is egter tydens die voorval beseer nie.

Craig Davidson, uitvoerende hoof van Dreamworld, het bevestig dat die park heeltemal gesluit is. “Ons is tans besig om saam met die polisie en die nooddienste die feite rondom die voorval vas te stel,” het hy gesê. “Ons is diep geskok en hartseer oor die tragiese voorval en ons harte en gedagtes gaan uit na die families wat betrokke is en al hul geliefdes.”

Die Dreamworld-pretpark in Queensland, Australië is heeltemal gesluit na vier mense Dinsdag (25 Oktober 2016) daar dood is. Foto: Australian Broadcasting Corporation via AP

Die Dreamworld-pretpark in Queensland, Australië is heeltemal gesluit na vier mense Dinsdag (25 Oktober 2016) daar dood is. Foto: Australian Broadcasting Corporation via AP

Volgens plaaslike media was besoekers wat die park verlaat het baie ontsteld. Een van die ooggetuies, Lia Capes, het aan ABC News gesê sy was op die punt om op die rit te gaan, toe sy gesien het hoe mense huilend uithardloop. “Ek het met een van die mense daar gepraat en hy het gesê dit was die rytuig voor hom wat betrokke was. Die hele ding het net omgekeer en almal het begin skree,” het Capes gesê.

Australië se eerste minister, Malcolm Turnbull, het ook sy medelye aan die families van die oorledenes uitgespreek en gesê hy vertrou dat daar ʼn deeglike ondersoek na die oorsaak van die voorval gedoen sal word.

Die ongeluk volg op ʼn voorval by die pretpark in April vanjaar toe ʼn volwasse man byna tydens ʼn rit op die Rocky Hollow Log Ride verdrink het. Dié rit is ná die voorval beëindig.

Die Dreamworld-pretpark het sy deure in 1981 geopen. Die Rapid River Ride is in 1986 geopen. Sowat 1,8 miljoen mense besoek die pretpark jaarliks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veilig ·

Daar is plek vir 3 pare op een tuig. Die tuig is dus in derdes verdeel. Sou dit wees dat daar 2 pare op die tuig was met een paar sitplekke leeg? Was die tuig dus uit balans en het toe omgeslaan? Ja, ek weet dat dit bloot ‘n bespiegeling is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.