Priester doop dekades lank verkeerd

(Foto bloot ter illustrasie: Unsplash / Josh Applegate)

Duisende Rooms-Katolieke in die VSA sal dalk weer gedoop moet word aangesien ’n priester dekades lank ’n verkeerde woord in die doopformule gebruik het wat die hele sakrament ongeldig maak.

Priester Andres Arango het 26 jaar lank die eerste sakrament in die lewe van die Rooms-Katolieke bedien met die woorde “ons doop jou” in plaas van die Vatikaan-gesanksioneerde “ek doop jou”.

“Dit is nie die gemeenskap wat ’n persoon doop en hulle inlyf in die kerk van Christus nie, maar eerder Christus, en Christus alleen, wat die leiding neem in alle sakramente . Daarom is dit Christus wat doop,” het biskop Thomas J Olmsted van Phoenix gesê.

Arango se flater is verlede jaar vir die eerste keer opgemerk – ’n kwarteeu nadat hy as priester begin werk het.

“Priester Arango gebruik sedert die begin van sy priesterskap al die verkeerde formule.

“Dit is nie presies duidelik hoeveel mense tussen 1995 en 2021 deur hom gedoop is nie, maar ek glo dit is duisende,” het Katie Burke, woordvoerder van die bisdom, Dinsdag aan AFP gesê.

Arango het intussen sy gewone werk bedank om sy “voltydse bediening te wy om die mense te help en te genees wat deur hierdie fout geraak is”.

Volgens Burke werk die bisdom nou saam met Arango en die gemeentes waar hy voorheen aangestel was om mense op te spoor wat moontlik ongeldig gedoop is. Die doel is om dié mense dan moontlik te herdoop.

ʼn Webwerf is ook sedertdien op die been gebring om bekommerde gemeentelede se vrae te beantwoord, insluitend of dit hul huwelik beïnvloed en of hulle moet gaan bieg.

Die doop in die Rooms-Katolieke Kerk is ʼn toelatingsritueel wat volgens die kerkleer nodig is vir ʼn gelowige om toegang tot ander seëninge te verkry.

Soortgelyk aan ander Christelike denominasies behels dit gewoonlik dat water op die kop gesprinkel of gegiet word, of dat ʼn persoon heeltemal onderdompel word.

Rooms-Katolieke glo dat slegs mense wat gedoop is, ná hul dood die hemel kan binnegaan.

Arango se fout is nie die eerste van sy soort nie. In 2020 het ʼn priester in die deelstaat Michigan ontdek dat hy herdoop moes word nadat hy na ’n familievideo van sy doop gekyk het. In dié video het die doper ook “ons” in plaas van “ek” gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

55 Kommentare

Jenny ·

In die eerste plek is hulle doop teenstrydig met die Bybel. Hulle moet eerder gaan kyk wat sê die Bybel en nie die mens omtent die doop.
So almal in die Katolieke kerk moet oorgedoop word.

Estelle ·

Die belydenis kan mens nie red nie. Slegs wedergebooete kan.

Andries ·

Alvorens hulle gedoop kan word, moet hulle die misleiding van die mis bely en versaak, moet hulle die aanbidding van Maria as afgodery bely asook alle tradisie wat indruis teen die Bybelse waarheid. Die Hervorming is allesbehalwe voltooi, maar kerke begewe hulle in die ekumeniese samewerking met die groot Verdraaier van die Waarheid.

Dixi ·

Andries gaan doen bietjie navorsing , jy is so verkeerd my vriend

DieKriek ·

Heng, maar julle is soooo verkeerd. Hoorsê is nie altyd akkuraat nie. Katolieke is Christene en aanbid nie vir Maria nie. Ek dink julle is n regte klomp huigelaars.

Pietertjie ·

O gaats! Wat van die gedooptes wat intussen al oorlede is?

Johan D ·

Moenie oor hulle bekkommerd wees nie, diw meeste van hulle is Ok!

JohanR ·

Hulle sit in vagevuur(purgatory) en kan nie nou verder gaan!

Andries ·

Alleenlik ‘n gelowige kan homself laat doop nadat hy tot geloof gekom het – sien Hand 8:37, Mark 16:16, Rom 6 – hele hoofstuk.

Johan D ·

Nou hoe moet ek dit vertolk waar daar gepraat word van “hy/sy en hul hele gesin”? Daar word geen melding gemaak van ouderdomme nie!

Phil ·

Dit is nou ‘n sprekende en belaglike voorbeeld van die verskil tussen godsdiens (“religion”) en ware geloof. Godsdiens word deur menslike reëls en/of familie-tradisies van buite ingegee, terwyl geloof van binne af buitentoe kom deur die Heilige Gees. As mense tog net die Bybel onder Sy leiding wil raadpleeg oor wat die Outeur sê oor kwessies soos die doop, sou daar in die eerste plek nie onskriftuurlike praktyke soos die doop van babatjies plaasvind nie – wat nog van sulke twak oor “verkeerde woorde” soos in hierdie artikel.

Andre ·

Waar staan dit in die BYBEL dat n kind gedoop moet word??Hierdiebkatolieke leerstellings is besig om die mensdom dooderyk toe te sleep

Gert ·

Dis nie net die Katolieke wat babas doop nie menigte Kerke doen dit

Phil ·

Dis reg, maar dit het in die middeleeue by die Katolieke begin. Kindersterftes was op daardie stadium baie hoog en omdat hulle geglo het jy kan nie hemel toe gaan as jy nie gedoop is nie, het hulle “net vir ingeval” die kinders begin doop. Dit is ongelukkig een van die praktyke wat Martin Luther en die reformasie nie uitgesorteer het nie en dit het in die meeste hoofstroom-kerke oorgebly.

Gerhardus ·

Hand 2:38 & 39
38: En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
39: Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

Phil ·

Die “kinders” in daardie skrifgedeelte verwys primer na geestelike kinders – die wat deur die gelowige ge-dissipel is. En selfs al sou dit na natuurlike kinders verwys, geld die volgende nogtans vir hulle:

Handelinge 8:36-37
En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word? Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is.

Wanneer mag jy gedoop word? Wanneer jy glo met jou hele hart (in Jesus, natuurlik).

Gerhardus ·

Hoe kom jy nou skielik by “geestelike” kinders uit. Daar staan uitdruklik “en laat ELKEEN van julle gedoop word (vers 38)” en “Want die belofte kom julle toe EN JULLE KINDERS (vers 39)”

Phil ·

Soos ek se, verwys dit PRIMER na geestelike kinders. Paulus verwys byvoorbeeld in Galasiërs 4 na die Galasiërs as “kinders” nie omdat hulle klein kindertjies of sy eie kinders is nie, maar omdat hulle sy geestelike kinders is wat onder hom tot bekering gekom het en deur hom dissipel is. Handelinge 2:39 kan na beide geestelike sowel as natuurlike kinders verwys, mits die natuurlike kinders waarna verwys word ook die aanhoorders se geestelike kinders is. WANT, die tweede helfte van vers 39 lees: “die wat die Here onse God na Hom sal roep.” Dit wys duidelik op mense met kognitiewe vermoëns wat in hul gees die roepstem van die Here hoor en self ‘n besluit kan neem.

Galasiërs 3, net voordat Paulus die mense “kindertjies” noem, verwys na Christene as nakomelinge en erfgename van Abraham – beteken dit dat ons almal natuurlike afstammelinge van Abraham is? Glad nie. Ons is geestelike kinders van Abraham omdat hy gesien word as die vader van ons geloof.

Marius ·

Die hebreuse woorde Baptisto – Doop deur onderdompeling en dan is daar Rantitso wat besprinkeling beteken.

Die enigste stap tot die korrekte doop, wat Jesus self geneem het, is deur onderdompeling. As jy nie die stap geneem het nie is jy nie gedoop nie.

Gaan lees jou Bybel.

Lood ·

Marius, ek wou jou eers los in jou onkunde, maar toe besluit ek ek sal jou maar antwoord. Jou eerste fout – Baptizo is nie ‘n Hebreeuse woord nie, maar ‘n Griekse woord. Volgens Proff Louw en Nida (beide professors in Grieks) se semantiese woordeboek beteken dit om water op ‘n simboliese wyse aan te wend in ‘n godsdienstige seremonie/ritueel. Hulle skryf duidelik (bl 538) dat die uitdrukking nie impliseer hoeveel water gebruik moet word nie en ook nie die manier waarop dit aangewend word nie.

Marius ·

Jy is reg ja dis griekse woorde en ‘n fout maar nie onkunde nie. Die Bybel is baie duidelik. Dalk moet die twee professors ook eers die Bybel lees. Ditto.

Lood ·

Marius, ek het toe gaan Bybel lees en besef ek het ‘n fout gemaak om jou te antwoord. Gaan lees van my fout in Spreuke 23:9 en Spreuke 26:4. Daarom sal ek jou ook nie verder antwoord nie.

Phil ·

Lood, die rede waarom onderdompeling die regte manier van doop is, is omdat ons deur die doop onsself vereenselwig met Jesus in sy sterwe, begrafnis en opstanding. Lees Romeine 6:4-5 en 1 Petrus 3:21. Wanneer ons iemand begrawe is dit onder die grond, binne-in die aarde. Ons laat hulle nie bo-op die grond le en gooi net ‘n paar stoffies op hulle nie.

kaplyn ·

Nerens in die Bybel staan daar dat jy net gered kan word as jy gedoop is nie. Of die doop nou deur besprenkeling of deur onderdompeling gedoen is of wat ookal. Jy kan net gered word deur geloof in Jesus Christus. Dus deur geloof alleen. Gaan lees ROM 1:17. Hierdie vers het Martin Luther tot die besef laat kom dat die Roomse kerk verkeerd is en die vers was die ruggraat van die hele Hervorming.

Marius ·

Jy het dit reg. Die doop is ‘n sakrament, ‘n geloofs stap wat geneem móét word. Lees: Lev 4 v 6, Matt 3 v 18, Matt 28 v19, Mark 16 v 16, Luk 7 v 29, Rom 6 v 3 – 4, Joh 3 v 3 – 5, Hand 19 v 5, Kol 2 v 12, Heb 10 v 22, 1 Pet 3 v 21, Mark 1 v 4 – 5, Matt 3 v 6, Joh 3 v 23, Hand 2 v 38, 8 v 38, 16 v 33, 18 v 8, 22 v 16, Efes 4 v 5, Tit 3 v 5, Efes 5 v 26, Open 22 v 18 – 19, 1 Sam 14 v 27 en Joh 13 v 26. :-)

kaplyn ·

So is ook die Heilige Nagmaal ‘n sakrament. Jy word ook nie gered deur die Nagmaal te gebruik nie. Sakramente kan jou nie red nie net die geloof in Jesus Christus kan jou red. Die hervorming het gehandel oor Sola Fide = Net Geloof, Sola Gratia = Net Genade, Sola Scriptura = Net die Bybel, Solus Christus = Net Christus en Soli Deo Gloria = Net aan God die eer.

Marius ·

Daar is 27 teksverse in die Bybel wat handel oor die doop. Moet dit nie afmaak as niks nie.

anniekiewiet ·

Vir die ware gelowiges onder daardie duisende “verkeerdelike gedopenes” maak sy verkeerde woordjie geen verskil nie, so ook nie aan die lot van die wat nie in Christus se Verlossing glo nie.

Swerwer ·

Blyk dit nou dat die mense wat gedoop was en reeds oorlede is, nie hemel toe is nie, nie deur God gered is nie? Glo nie in my dommigheid nie want God weet dat die doop uitgevoer is met die regte bedoeling en optrede.

Misky ·

Ek stem. Selfs die moordenaar wat langs Jesus aan die kruis gehang het, het hy gesê hy sal saam met Hom daai aand in die Hemel wees as hy bely. Twyfel of hy gedoop was.

Rudolph ·

Beteken dit almal wat hy gedoop het is oppad na die hel toe?

kaplyn ·

Nee, want die doop bepaal nie of jy hemel of hel toe gaan nie.

Wynand ·

Dank die Here vir die reformasie en die herontdekking van die ware Bybelse evangelie. Hoe wonderlik om hierop te kan antwoord dat mens deur die GELOOF ALLEEN gered word en nie deur die werk van die doop nie!

Gerhardus ·

Hand 2:38 & 39
38: En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
39: Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

kaplyn ·

Dit is reg, gelowiges (maw. kinders van God) moet hulle laat doop, en gelowiges moet die Nagmaal gebruik. Maar jy kan alleenlik gered word deur geloof in Jesus Christus. Die doop en nagmaal is bloot sakramente wat as tekens ingestel is vir die gemeenskap van die gelowiges tot versterking van hulle geloof. Gaan lees eers ROM 1:17 en daarna JOH 1:12-13.

Jaco ·

Ek het in die godsdiensklas in die staatskool in die ou SA geleer dat net babadoop reg is en dat groot doop/onderdompelingsdoop verkeerd/sonde (?) is.

Gerhardus ·

Jesus/Christus het niemand gedoop nie.

Joh 4:1 tot 3
1: Toe die Here dan verneem dat die Fariseërs gehoor het dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes —
2: alhoewel Jesus self nie gedoop het nie, maar sy dissipels —
3: het Hy Judéa verlaat en weer na Galiléa gegaan.

Die Katolieke kerk plaas homself in die plek van Jeaus/Christus hier op aarde.

Willem ·

Maak een woordjie regtig soveel saak? Die bela grikste is dat mens gedoop word in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees. Laastens, om tot geloof te kom is n persoonlike keuse en nie n gevolg van die doop nie.

JohanR ·

Agh rerig…..in Engels se mens “get a life!” Soos Jacob Zuma moet duisende priester en nonne eintlik tronk toe gaan vir die verkragting van seuns en dogters en self in 2022 is ek seker dit gaan nog aan iewers in die Ktolieke wereld?

Lood ·

Ek lees die kommentare en ek weet: Die Rooms-Katolieke kerk is dalk belaglik oor die een woordjie wat verkeerd gesê is, maar ‘n klomp van die wat hier kommentaar lewer praat uit onkunde nog meer nonsens as die Katolieke kerk.

Herman ·

Om gedoop te word, moet jou saak tussen God en jouself reg wees. Jy gaan nie hemel of hel toe nie omrede daar verkeerde woord gebruik is nie. Jou saak moet reg wees.

Hendrik ·

Dit begin moeilik raak in n samelewing met him/her/we/us/they/them. Kan nie meer mooi byhou nie.

Frank John ·

Elkeen moet sy eie saak uitwerk. Gaan na die Here en in jou persoonlike verhouding met Hom en leiding van Sy Heilige Gees met die woord van God kry jy self die regte antwoord. Dat doop reg is ja want dit wys jy is saam met Hom begrawe en staan saam Hom op in die nuwe lew in Christus. Doop van babas wat nie weet wat gebeur nie moet in elk geval geskrap word. Na al die jare se studie van die rooms katolieke kan hulle nou nog nie die regte goed lees in die bybel nie. Hulle verwerp die ware woord vir hul ingewortelde rituals. Tradisies van mense. Jesus praat teen dit maar hulle weier om dit te sien. Blind is hulle deur hul eie agendas. Blinde leiers van blindes.

Susann ·

Ag siestog. Geen doop of die “regte” woorde gaan jou in of uit die hemel kry nie. As dit nou nie hare kloof is nie, dan weet ek wraggies nie.

Waarnemer ·

Die vraag is net of jy as GELOWIGE,as GEREDDE gedoop is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.