Prins Andrew kry nie sy sin in hof

Prins Andrew (Foto: Lindsey Parnaby / AFP)

Die regsgeding vir seksuele aanranding teen Brittanje se prins Andrew gaan voort.

’n New Yorkse regter het die koninklike se aansoek dat die siviele saak laat vaar word, Woensdag
“in alle opsigte” van die hand gewys.

Dít nadat die koninklike se prokureurs verlede week aangevoer het dat hy beskerm word deur ʼn skikking wat sy beskuldiger, Virginia Giuffre, meer as ’n dekade gelede onderteken het.

Regter Lewis Kaplan was egter nie daarvoor te vinde nie aangesien die skikkingsooreenkoms volgens hom “deurspek is met opstelprobleme en onduidelikhede”.

“Die partye het minstens twee redelike interpretasies van die kritiese taal verwoord. Die ooreenkoms is dus dubbelsinnig,” het Kaplan beslis.

Giuffre het in 2009 ingestem om ʼn siviele eis teen die Amerikaanse finansier wyle Jeffrey Epstein vir $500 000 (nou sowat R8 miljoen) te laat vaar.

Die skikking, wat verlede week vir die eerste keer in ’n hof bekend gemaak is, bevat ’n bepaling wat “ander potensiële beskuldigdes” teen dagvaarding beskerm, wat verband hou met beweerde seksuele misbruik gepleeg deur Epstein.

Die koninklike se regspan het aangevoer dat Giuffre “van haar regte afstand gedoen” het om sy kliënt te dagvaar toe sy die ooreenkoms aangegaan en die geld van Epstein aanvaar het.

‘n Foto van prins Andrew en Virginia Giuffre in die 90’s. Ghislaine Maxwell kan in die agtergrond gesien word. (Foto: Verskaf deur AFP)

Die verdediging het ook volgehou die skikking is “ondubbelsinnig” en dat dit die prins teen litigasie beskerm.

Kaplan het egter nou beslis dat daar nie vasgestel kan word of die ooreenkoms bedoel was om “prins Andrew” of “ander vergelykbaar met hom” te bevoordeel nie. Hy het ook daarop gewys dat Andrew “nie ’n party tot die ooreenkoms tussen Epstein en Giuffre was nie”.

“Die enigste persone wat ’n bepaling van ’n kontrak kan afdwing, is die partye tot daardie kontrak – die mense wat daartoe ingestem het.”

Giuffre beweer sy is as minderjarige deur Epstein vir seks “uitgeleen”. Hy het in 2019 sy eie lewe in ʼn tronk in New York geneem terwyl hy verhoorafwagtend op aanklagte van mensehandel was.

Giuffre voer aan Andrew het haar 20 jaar gelede seksueel mishandel by die sosiale vlinder Ghislaine Maxwell se huis in Londen, asook by Epstein se huis in New York en op Little St. James, Epstein se private eiland in die Amerikaanse Maagde-eilande.

Maxwell is onlangs skuldig bevind op aanklagte van mensehandel en dat sy jong meisies vir Jeffrey Epstein voorberei het om seksueel misbruik te word.

Andrew, koningin Elizabeth se tweede seun, ontken ten sterkste bewerings dat hy met Giuffre omgang gehad het en sê hy kan glad nie onthou dat hy haar ooit ontmoet het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jr

Bel vir Zumpie Stortkop hy en Dhali Mphoofi sal jou tips gee hoe om uit die tronk te bly. Hy sal jou help al wat jy moet doen is sy hof fooie te betaal. Seker dit sal goedkope as joune wees.

Marius

Foto’s lieg nie. Hy moes haar geken het en aan die glimlag lyk dit nie of sy daar onder dwang was nie maar dalk om ‘n paar dollars te verdien. Alle sake het twee kante. Hoe word seksuele mishandeling of konsensiële omgang van 20 jaar gelede bewys? Sal enige persoon nadat hy of sy eenkeer deur iemand seksueel mishandel is later weer teruggaan vir nog? Ek kom nie op vir Andrew nie, verkeerd bly verkeerd, die meisies was immers minderjarig en hy moet boet vir sy dade. Bekende en welaf mense dink hul is geregtig tot sekere voorregte, en kan… Lees meer »

Maggies

Dit is niks minder as reg dat die prins veranthoudelik gehou word vir sy gedrag.
As daar een tiener is, was daar heel moontlik ook ander.
Om dit te ontken maak dit laakbaar.
Die wêreld sou meer respek vir hom hê as hy dit erken het en sy straf soos ‘n man vat.

Mallie

Gaan sy nou die geld terug gee wat sy so gewillig was om te aanvaar? Watter man gaan vra vir n ID om te bepaal dat sy nie midderjarig is nie. Sy het haarself verkoop en nou wil sy onskuldig pleit.

JM

Andrew ontken dat hy die klaagster ooit geken het, maar pryk saam met haar op die foto!