Prins Andrew vir beweerde verkragting gedagvaar

Prins Andrew is Maandag vir beweerde verkragting gedagvaar. (Foto: John Thys / AFP)

Prins Andrew (61), die hertog van York, is Maandag vir beweerde verkragting gedagvaar.

Virginia Giuffre voer aan dat sy sowat 20 jaar gelede deur die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein aan prins Andrew “uitgeleen” is, wat haar glo by drie geleenthede seksueel aangerand het.

Sy was tóé 17 jaar oud.

Giuffre het voorheen reeds in die openbaar gesê dat sy destyds gereeld deur wyle Epstein misbruik is en dat dié voormalige sakeman haar aan verskeie invloedryke mans, van wie prins Andrew een was, vir seksuele doeleindes uitgeleen het.

Sy was een van vele vroue wat dié miljardêr se jare lange sekshandel en seksmisbruik van minderjariges in die Netflix-dokumentêr, Jeffrey Epstein: Filthy Rich, opnuut onder die soeklig geplaas het.

Epstein se vriendin, Ghislaine Maxwell, word ook daarvan beskuldig dat sy by dié sekshandel en seksmisbruik betrokke was.

Die dagvaardiging teen prins Andrew is Maandag ingevolge die Kinderslagofferwet by die distrikshof in Manhattan in die VSA ingedien. Die prins is nog nooit strafregtelik vir die klagte vervolg nie.

Luidens die hofstukke het die beweerde verkragting glo by Maxwell se huis in Londen plaasgevind.

“Epstein, Maxwell en prins Andrew het die klaer, ’n minderjarige meisie, gedwing om seksuele omgang teen haar wil met prins Andrew te hê.”

Hy word ook daarvan beskuldig dat hy Giuffre by Epstein se luukse huis in New York en op sy private eiland in die Virgin-eilande in die VSA verkrag het.

Die hertog het die aantygings ten sterkste ontken en ook aangedui dat hy glad nie ’n ontmoeting met Giuffre kan onthou nie.

’n Destydse foto van prins Andrew saam met die jong Giuffre het egter bewys dat hy haar inderdaad voorheen ontmoet het.

Hy het reeds in 2019 van sy koninklike pligte afstand gedoen toe sy vriendskap met Epstein aan die groot klok gehang is.

“Ek hou prins Andrew verantwoordbaar vir wat hy aan my gedoen het. Die rykes en invloedrykes word nie van verantwoordbaarheid gevrywaar nie,” het Giuffre in ’n mediaverklaring gesê.

Giuffre, ’n eggenote en ma, sê sy het dié besluit nie ligtelik geneem nie aangesien sy weet dit kan haar aan openbare aanvalle deur onder andere prins Andrew en sy ondersteuners onderwerp.

Epstein het in 2019 in die tronk selfmoord gepleeg terwyl hy gewag het om op aanklagte van sekshandel verhoor te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

Sny af en sluit toe.

Aai

Jou beurt is jou beurt.Die elite maak soos hulle wil met die wereld,van hulle se speelplek.Na Fergi hom gelos het in 1996 het hy begin speel kry vir jou .

Elinette

Ek wonder ……………. Waarom neem dit 20 jaar (of meer) vir meisies (vroue) om “uit te kom” met klagtes m.b.t. verkragting of seksuele aanranding? Daar is nóú nie meer kans vir enige forensiese toetsing (DNS) om dit te kan bewys nie, of hoe? Klink meer vir my na iets soos ‘n sug na vergelding …

Sarel

My vraag.is hoekom.na soveel.jare…

Tipper

Mense is maar bang om na vore te kom,skielik is jy nie meer daar nie.