Prins Andrew wéér in sop, nou oor ‘bedrog’

Prins Andrew. (Foto: John Thys / AFP)

Prins Andrew, die hertog van York, het glo aansienlike bedrae geld ontvang van ʼn Turkse sakeman wat van bedrog aangekla word.

Dít is onlangs in hofstukke in die saak teen Selman Turk onthul. Hoewel Andrew nie self van ʼn oortreding beskuldig word nie, bring dit onwelkome publisiteit vir koningin Elizabeth se seun wat onlangs ʼn geldelike skikking in ʼn siviele saak oor seksuele aanranding betaal het.

Dié saak is in New York aanhangig gemaak deur Virginia Giuffre, wat hom al jare lank van wandade beskuldig, maar dit is ná die skikking formeel van die rol geskrap.

Nebahat Isbilen, ʼn Turkse vrou wat die bedrogsaak teen Turk aanhangig gemaak het, beweer dat hy in November 2019 vir haar gesê het om ʼn skenking van £750 000 (meer as R14 miljoen) te maak vir Andrew se hulp om ’n Britse paspoort te bekom.

Hofdokumente in ʼn siviele eis deur Isbilen, dui egter daarop dat die sogenaamde paspoortaanbod bloot ʼn slenter deur Turk was. Luidens berigte op The Telegraph en Daily Mail het Andrew, wat wel die geld ontvang het, die bedrag ten volle terugbetaal.

Hy het egter geweier om kommentaar oor die saak te lewer of die aard van sy verhouding met Turk aan Isbilen se prokureurs te verduidelik.

Andrew se gewese vrou, Sarah, is ook by die saak ingesleep.

Luidens hofdokumente het sy minstens £225 000 (meer as R4,3 miljoen) ontvang om as ’n handelsmerk‑ambassadeur vir een van Turk se maatskappye op te tree, het The Telegraph berig.

’n Woordvoerder van Sarah het gesê sy is “totaal onbewus” van die bewerings teen Turk wat sedertdien aan die lig gekom het.

Andrew en Sarah word lank reeds van “swak oordeel” in hul finansiële handelinge en verhoudings met welgestelde kennisse beskuldig.

Isbilen, wat in haar 70’s is, sê sy het haar tot Turk gewend vir hulp om haar fortuin uit Turkye te kry nadat haar man in 2015 tronk toe gestuur is – glo op polities gedrewe aanklagte.

Sy beweer dat Turk sowat $50 miljoen (meer as R730 miljoen) van haar geld wanbestee het. Hy ontken dit.

Die saak moet nog aangehoor word, maar die regter het voorlopige uitsprake bekend gemaak waarin Andrew en Sarah se betrokkenheid onthul is.

Andrew is onlangs vir die eerste keer in ʼn lang tyd in die openbaar gesien toe hy sy ma na ʼn televisiegedenkdiens vir sy oorlede pa, prins Philip, vergesel het.

Die koningin het Andrew in Januarie van sy militêre ererolle gestroop, wat hom in praktyk van enige amptelike rol onthef het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.