Prins Harry beklee nuwe pos

Prins Harry. (Foto: Instagram via @sussexroyal)

Die Britse prins Harry is Dinsdag aangestel as strategiese hoof van die internasionale maatskappy BetterUp, wat afrigting, berading en mentorskap op selfoonplatforms aanbied. Hy is in San Francisco, Kalifornië, in die VSA gevestig.

Harry en sy vrou, die Amerikaanse aktrise Meghan Markle, is in Februarie amptelik van hulle koninklike pligte onthef. Hulle woon tans in Kalifornië te midde van ʼn openbare geskil met die Britse koninklike familie.

BetterUp se platform kombineer gedragswetenskap, kunsmatige intelligensie en menslike afrigting om persoonlike groei en professionele ontwikkeling te optimaliseer. Die maatskappy het verlede maand aangekondig dat hy $125 miljoen (sowat R1,9 miljard) aan finansiering ingesamel het teen ʼn waardasie van $1,73 miljard (sowat R25 miljard).

Die maatskappy is in 2013 gestig en het meer as 270 personeellede en ʼn netwerk van sowat 2 000 afrigters. ʼn Lys van sy kliënte sluit NASA, Chevron, Mars, Genentech, Snap en Warner Media in.

Volgens Alexi Robichaux, uitvoerende hoof van BetterUp, sal prins Harry hom in sy nuwe rol daarvoor beywer om menslike potensiaal wêreldwyd te bevorder en die belangrikheid daarvan te benadruk.

“Ek glo vas dat potensiaal en geleenthede wat sonder ons wete in ons opgesluit lê, ontgin word wanneer ons daarop fokus om ons geestesgesondheid te prioritiseer,” het prins Harry in ʼn bloginskrywing op BetterUp se webwerf gesê.

“Soos die Koninklike Marinekommando’s sal sê: ‘Dit is ʼn denkwyse.’ Ons almal het dit in ons.”

Volgens die Wall Street Journal sal die prins in sy nuwe hoedanigheid nie personeel bestuur nie en geen personeel sal aan hom rapporteer nie.

Die aanvraag vir afrigting wat gefokus is op werknemers se welstand en persoonlike groei het in die afgelope jaar “beduidend” gegroei, sê BetterUp.

“Selfoptimalisering gaan nie daaroor om iets reg te maak wat gebreek is nie. Dit gaan daaroor om die beste weergawe van onsself te word, wat ook al die lewe na ons kant toe gooi – iemand wat gereed is vir die volgende uitdaging kan terugslae met moed, vertroue en selfbewussyn die hoof bied,” het prins Harry geskryf.

ʼn Onderhoud met Oprah Winfrey vroeër vandeesmaand, waarin prins Harry en Meghan onder meer beweer het ʼn onbekende koninklike het bespiegel oor wat die gelaatskleur van die egpaar se seun, Archie, sou wees, het die Britse monargie in die grootste krisis sedert die dood van prinses Diana, prins Harry se ma, in 1997 gedompel.

Sedert Harry en Meghan finaal die tuig as werkende koninklikes neergelê het, het hulle winsgewende ooreenkomste met digitale mediamaatskappye gesluit om hulle bekendheid te ontgin – een om inhoud vir Netflix te skep en een om podsendings vir Spotify aan te bied.

Hulle het voorheen gesê hulle het “die begeerte om iets betekenisvols, iets wat saak maak” in Kalifornië, waar hulle ʼn niewinsgewende organisasie genaamd Archewell van stapel gestuur het, te doen.

Die egpaar het saam met ʼn liefdadigheidsorganisasie gewerk om etes vir kroniese siek mense in Los Angeles uit te deel. Meghan was ook verlede jaar uitgesproke oor die dood van George Floyd, ʼn onbewapende man wat glo weens polisiegeweld dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Karlahari ·

As hy homself van sy koninklike pligte onthef het, hoekom word daar nog na hom verwys as prins Harry?
Hy is nou net “plain” Harry.

Misky ·

Ek is bly vir hom en hoop dit word die begin van n nuwe hoofstuk en hy kan al die onaangenaamdhede agter hom sit.

Anoniem ·

Hy is absoluut self verantwoordelik vir die posisie waarin hy hom bevind Misky.

Zacahara ·

Ek is nou gladnie ‘n koninklike ondersteuner nie & volg gladnie hulle lief & leed nie. Tog net dievolgende rakende die berig:

1. Dis dalk hoog tyd dat die “ex”-prins nie net “leeglê & niksdoen” nie, maar dat hy bietjie sweet in sy aangesig om sy brood te verdien!!

2. BetterUp kon nie op ‘n beter bemarkingstrategie besluit het as om die ex-prins ‘n jobbie aan te bied nie: eweskielik weet ‘n klomp mense van hulle!! Ek gaan hulle ook nou sommer summier opsoek.

Strekte aan Harry & Meghan – dalk is hulle beter af sonder die koninklike kabaal….!!!!

JohanR ·

Is hy nog ‘n prins? Nie Meneer, of Sir. Hy is nou soe ver weg in alle opsigte van die konilike familie dat prins nie meer reg klink nie. Ek dink daar moet wyf voor hom dood gaan voordat hy in aanspraak kom vie koning…Charles, William, George, Charlotte, Louis en dan Harry. As William en Kate nog ‘n baba he dan val hy weer een plek terug.

Dries ·

Meghan moet haar groot mond uit die politiek hou. Floyd het nie eers respek gehad vir n verwagtende vrou nie.

LANA is ELANè ·

Goeie “PR~move” vd mpy. Baie gratis publisiteit kom saam met ene Harry se naam, openbare beeld al die media aanhang en en.
Wys jou net alle aanstellings het nie altyd noodwendig met jou kwalifikasie te doene nie. Daai spreekwoordelike “met die silwerlepel in die mond gebore” is presies net dit in die aanstelling. Seker maar ‘n wen~wen vir beide partye.

koos10 ·

Wou ek ook mos sê. Hulle gaan hom gebruik en melk en dan uitspoeg. Wat anders kan hy doen as koniklike wees en soldaat wees?

Vrijburger ·

Toe ek die opskrif lees sien, dog ek Harry gaan nou ook begin werk. Toe ek die artikel lees kom ek agter dit is net ‘n bemarkingsfoefie.

Robert ·

Die maatskappy is deel van die NWO en Great Reset se planne.

KB ·

Het Harry ‘n van? Want hy’s mos nie meer ‘n prins nie. Noem hom dan op sy naam en van, soos enige ander siviele persoon.
(Sover ek weet is dit Mountbatten-Windsor…so praat asb. van Harry Mountbatten-Windsor in die vervolg)

Andrew ·

En nee hulle gaan nie werk nie. Hulle gaan betaal word om hulle (Harry) invloed onder die ryk elite te gebruik om geld in te samel vir allerhande sake. En dan genoeg betaal word vir die “insamel werk” om op die selfde luukse vlak as die mense van wie hulle die geld gaan bedel te kan leef. Die tiepiese blm mentaliteit almal moet deel, behalwe as jy Lewis Hamilton en kie is , dan deel jy , maar met ander mense se geld en nie jou eie , behalwe as jy n taks voordeel kry.

Mallie ·

Ja hy kan maar bietjie werk. Hy is mos nie meer n prins nie. Hy is nou ne Harry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.