Prins Harry en Meghan trou dán

Prins Harry en sy verloofde, Meghan Markle (Foto: KensingtonRoyal, Twitter)

Die troue van Engeland se prins Harry en sy verloofde, Meghan Markle, sal volgende jaar in Mei by die St George-katedraal by Windsor-kasteel plaasvind, ʼn venue met ʼn eeue lange koninklike geskiedenis.

Prins Harry (33) en die 36-jarige Amerikaanse aktrise, veral bekend vir haar rol in die TV-drama Suits, het Maandag hul verlowing amptelik bekend gemaak.

Die egpaar het besluit om in Windsor, wes van Londen, te trou “omdat dit vir hulle ʼn spesiale plek is”, het Harry se woordvoerder aan verslaggewers gesê. Koningin Elizabeth, die prins se 91-jarige ouma, sal ook die seremonie bywoon.

“Die troue gaan pret en vreugdevol wees en die karakter van die bruid en bruidegom weerspieël,” het hy gesê.

Die egpaar se eerste amptelike geleentheid saam vind Vrydag plaas in Nottingham, waar hulle bewusmaking sal doen oor liefdadigheidsorganisasies wat MIV/Vigs en jeugmisdaad wil voorkom.

“Prins Harry het ʼn beduidende hoeveelheid tyd privaat en openbaar in Nottingham spandeer en hy sien uit daarna om me. Markle voor te stel aan ʼn gemeenskap wat vir hom baie spesiaal is,” het Kensington-paleis, Harry se amptelike woning, in ʼn verklaring gesê.

Markle was in ʼn Katolieke skool, maar identifiseer as ʼn Protestant. Sy sal voor die troue gedoop word en in die Kerk van Engeland bevestig word, het Harry se woordvoerder bygevoeg. Sy is van voornemens om ʼn Britse burger te word, maar sy sal haar Amerikaanse burgerskap behou terwyl die proses voortduur. “Sy sal voldoen aan alle immigrasie-vereistes.”

St George-katedraal is geleë op die gronde van Windsor-kasteel, die familietuiste van Engelse konings en koninginne vir byna 1 000 jaar. Tien konings is in die katedraal begrawe, insluitend Henry VIII en sy derde vrou Jane Seymour en Charles I.

Harry se oom, prins Edward, het ook hier in 1999 met Sophie Rhys-Jones getrou en daar was ook ʼn gebed- en toewydingsdiens om die huwelik van Harry se pa, prins Charles, met Camilla Parker Bowles in 2005 te gedenk.

2018 sal ʼn besige jaar vir die koninklike gesin wees: Harry se ouer broer, prins William, en sy vrou Catherine, beter bekend as Kate, verwag hul derde kind in April.

Kate het Dinsdag gesê sy en William is “absoluut gaande” oor Harry se verlowing. “Dit is opwindende nuus. Dis regtig ʼn vrolike tyd vir enige paartjie en ons wens hulle alles van die beste toe en hoop dat hulle hierdie vreugdevolle oomblik sal geniet,” het sy gesê.

Harry se stiefma Camilla, nou bekend as die hertogin van Cornwall, is ook entoesiasties. “Amerika se verlies is ons gewin,” het sy van Markle gesê.

-Reuters

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

CB ·

Sjoe maar ons is prettig positief vandag. Helder op, dis wonderlik om ander lande se nuus te hoor en te volg.

etienne ·

Ja Bantam hulle is tradisie op die hoogste vlak en jy vergelyk hulle seker met jou leier Jacob Zuma.

Jack ·

Die Britse volk het agting vir die koninklikes – kyk op na hulle.
Kyk nou na “ons” koninklikes – wat ook lekker skep uit die staatskoffers – ook ons leiers, en ons het boggerol agting vir hulle… Dis ‘n grap…

Marianne ·

EK IS ROYAL FAMILY MAL!!
Harry is sweet en baie soos sy ma, ek is bly by het iemand gekry wat hom komplimenteer, hulle “rock” die familie. EK is mal oor die I MET MY PRINCE, LIVE HAPPILY EVER AFTER LOVE STORY.
Diana sou dol oor Megan gewees het, hulle is baie eenders.
Net jammer die arme mens word letterlik uitmaar getrek en ge-analisseer.

LL ·

Sjoe, Marianne. Dit klink amper asof jy hulle persoonlik ken :) Daar is niks aan hierdie ‘arme mense’ wat siestog is nie. Hulle is bekend en moet maar als wat daarmee saamgaan verdra. Ek kry eintlik so lag as ek artikels sien van hulle, want hulle kan letterlik in die oggend hulself gaan google en sien wie het nou weer wat gaan sê oor hulle.

troukoors ·

Hoe bome kry die meeste wind en hulle moet dit kan weerstaan net soos arme Diana moes.
Ek hoop net nie die aanstaande skoonfamilie wil by Elizabeth intrek nie!!!

Penelope ·

Ek haal my hoed af vir Prins Harry en William, want hul probeer sover moontlik soos ons doodgewone mense leef. Hulle is nie vol streke en dring aan op spesiale behandeling nie.
Hierdie 2 bring so baie van oorlede Diana terug na die wereld. En hul gaan voort met hul eie tradisies en gebruik hul eie stemme…. dit wil gedoen wees!
Hulle lyk na goeie mense met omgee harte. Mag julle almal al die geluk kry wat jul verdien. Prinses Diana sou so trots gewees het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.