Prins Harry is verloof

Prins Harry en Meghan Markle (Foto: Nathan Denette/The Canadian Press via AP)

Prins Harry en die Amerikaanse aktrise Meghan Markle is verloof.

Clarence House het die nuus in ʼn verklaring bevestig. “Ons is verheug om die verlowing van prins Harry aan mej. Meghan Markle aan te kondig. Die troue sal plaasvind in die lente van 2018. Nadere besonderhede oor die troue sal later aangekondig word,” lui die verklaring.

Volgens die verklaring het die prins en Markle vroeër die maand in Londen verloof geraak. “Prins Harry het die koningin en ander lede van sy familie ingelig. Hy het ook die toestemming van mej. Markle se ouers gevra en ontvang.”

Die verlowing kom ná wye bespiegeling dat die glanspaartjie in die geheim verloof geraak het. Prins Harry het op 8 November 2016 bevestig dat hy en Markle ʼn paartjie is, maar het versoek dat die privaatheid van hul verhouding gerespekteer word.

Meghan Markle, prins Harry se verloofde

Prins Harry het ʼn pleidooi tot die media gerig om op te hou met die “mishandeling en teistering” met stories oor hul verhouding in die media. Hy het ook gevra dat die media Markle se familie se privaatheid sal respekteer.

Markle is in Augustus 2013 geskei van die rolprentvervaardiger Trevor Engelson nadat hulle in 2011 getroud is. Haar en prins Harry se huwelik sal die eerste veelrassige Britse koninklike huwelik in die geskiedenis wees. Markle se pa is wit en haar ma is swart.

ʼn Woordvoerder van die Westminster-abdy het vroeër aan Express gesê die kerk volg die algemene sinode se uitspraak in 2002 dat geskeide mense ook nou in die Anglikaanse Kerk mag trou. Die woordvoerder het ook gesê dat Markle nié verhinder sou kon word om met Harry te trou omdat sy die Joodse geloof beoefen nie.

Die koning van Engeland sal moontlik wel nie die paartjie se huweliksdag kan bywoon nie. Express berig dat die koningin nié die paartjie se troue sou kon bywoon nie weens koninklike protokol en omdat sy die hoof van die Anglikaanse Kerk is. Dit sou egter nie ongewoon wees indien sy nié haar kleinseun se troue bywoon nie. Koningin Elizabeth was ook nie op prins Charles en Camilla Parker Bowles se troue nie.

Die koninklike troue tussen Harry en Markle sal waarskynlik ook nié in die Westminster-abdy plaasvind nie, maar eerder in ʼn kleiner kerk wat ook bande met die koningshuis het.

Clarence House het bevestig die nuwe egpaar sal ná die troue in die Nottingham-kothuis by die Kensington-paleis woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

dolphine ·

veels geluk met prins harry en megan markle en hoop die beste geleentheid vir jul in die toekoms.

Nico ·

Dit sal die eerste gemengde huwelik in die Britse Vorstehuis se geskiedenis wees. Haar ma is swart en haar pa wit.

Linda ·

Moet erken al is Megan se pa wit en haar ma swart, sy is absoluut pragtig. Hoop Harry geniet haar terdee !!!

Houtoog ·

Par.8: ‘Die koning van Engeland’? Wonder wie is hy?
Dit gaan dus ook ‘n kleurryke troue wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.