Prins Harry, Megan Markle se troue gaan ponde glo laat inrol

Prins Harry en Meghan Markle (Foto: Xinhua)

Prins Harry en die Amerikaanse aktrise Meghan Markle se troue gaan die Britse ekonomie glo ʼn hupstoot van sowat £500 miljoen gee.

Prins Harry (33) en Markle (36), veral bekend vir haar rol in die televisiedrama Suits, het einde November verlede jaar hul verlowing amptelik bekend gemaak en gaan op 19 Mei in Windsor, wes van Londen, trou.

Volgens ʼn skatting van David Haigh, uitvoerende hoof van die Britse nasionale statistiekekantoor, sal £200 miljoen hiervan deur toeristeinkomste soos onder meer hotelle gegenereer word.

Haigh sê toeriste sal meer as £150 miljoen aan partytjies spandeer voor en ná die koninklike troue en sowat £50 miljoen aan memorabilia soos T-hemde.

“Die koninklike troue is verder ʼn advertensie van sowat £100 miljoen vir die hele Brittanje reg oor die wêreld,” sê Haigh.

Andrew Lee, bestuurder van die Harte and Garter-hotel oorkant die Windsor-kasteel, sê toerismemaatskappye voorspel al sedert die begin van Prins Harry en Markle se verhouding dat hul troue die ekonomie waarskynlik ʼn hupstoot sal gee soos die land nog nooit vantevore gesien het nie.

“Dit gaan wonderlik wees om so baie mense hier te sien en om die troue hier te hou,” het hy bygevoeg.

Haigh sê prins Harry, wat baie gewild onder die Britte is, se troue gaan waarskynlik dubbel soveel vir die ekonomie beteken as die troue van sy broer, Prins William, aan Kate Middleton. Toeristebesoeke in April 2011 het met sowat 350 000 vermeerder in vergelyking met besoeke die vorige maand voordat Prins William en Kate op 29 April getrou het.

VisitBritain, die land se nasionale toerisme-agentskap, voorspel dat meer as 41 miljoen toeriste dié land in 2018 sal besoek.

Lees meer oor die koninklike troue op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.