Prins Harry veroordeel media oor nuwe meisie

Prins Harry (Foto: Press Association via The Royal Family, Facebook)

Prins Harry (Foto: Press Association via The Royal Family, Facebook)

Prins Harry van Engeland het Dinsdag ʼn verklaring uitgereik om die media te veroordeel vir die manier waarop hulle in sy privaat lewe en sy verhouding met sy meisie, die aktrise Meghan Markle, ingemeng het.

Volgens hom is Meghan en haar gesin onderwerp aan teistering en mishandeling.

Britse koerante publiseer daagliks berigte oor Meghan sedert die nuus aan die lig gekom het dat die 35-jarige Amerikaner, wat in Toronto bly, in ʼn verhouding betrokke is met die 32-jarige kleinseun van koningin Elizabeth.

Meghan is veral bekend vir haar rol as Rachel Zane in die televisiereeks, Suits. Sy was ook in Horrible Bosses te sien.

“Selfs as klein seuntjie was prins Harry reeds bewus van die gulhartigheid wat hy van die publiek ontvang. Hy is dankbaar dat daar so baie mense is wat hom ondersteun, en hy besef hoe gelukkig hy is en watter bevoorregte lewe hy geniet,” lui die verklaring.

“Hy is ook bewus dat daar ʼn beduidende nuuskierigheid is oor sy privaat lewe. Hy was nog nooit daarmee gemaklik nie, maar het probeer om ʼn dik vel te ontwikkel oor die vlak van mediabelangstelling wat daarmee gepaard gaan. Hy doen selde formeel stappe teen die gereelde publisering van fiktiewe stories wat oor hom geskryf word en hy werk hard om ʼn professionele verhouding met die media te ontwikkel. Hy fokus op sy werk en die kwessies waaroor hy besorg is.

Meghan Markle, prins Harry se meisie

Meghan Markle, prins Harry se meisie

“Die afgelope week het dit egter te ver gegaan. Sy meisie, Meghan Markle, is onderwerp aan ʼn vlaag mishandeling en teistering. Sommige hiervan was baie publiek – die smerige artikel op die voorblad van ʼn nasionale koerant; die rasse-ondertone van rubrieke; en die blote seksisme en rassisme van sosialemediatrolle en webkommentaar.

“Sommige hiervan is weggesteek van die publiek – die nagtelike regstryde om lasterberigte uit die koerante te hou; haar ma wat verby fotograwe moet stoei om by haar voordeur uit te kom; verslaggewers en fotograwe wat onwettige toegang tot haar huis wil bekom en gevolglike polisie-oproepe; beduidende omkoopgeldbedrae wat koerante aan haar ekskêrel wou betaal; en elke vriend of vriendin, kollega en geliefde wat oorval word.

“Prins Harry is besorg oor mej. Markle se veiligheid en hy is uiters teleurgesteld dat hy haar nie kon beskerm nie. Dit is nie reg dat sy onderwerp word aan só storm nadat sy slegs ʼn paar maande lank met hom in ʼn verhouding betrokke is nie. Hy weet kommentators sal sê dit is ‘die prys wat sy moet betaal’, en dat dit ‘alles deel is van die spel’. Hy stem egter glad nie hiermee saam nie. Dit is nie ʼn speletjie nie – dit is haar lewe en syne.

“Hy versoek dat hierdie verklaring gepubliseer moet word sodat diegene in die media, wat die storie dryf, kan nadink voordat enige verdere skade gedoen word. Hy weet dit is ongewoon om só verklaring uit te reik, maar hy hoop dat regdenkende mense sal verstaan waarom dit nodig is om dit publiek te verklaar.”

Harry se ma, prinses Diana, het op 31 Augustus 1997 tydens ʼn hoëspoedjaagtog verongeluk toe paparazzi haar en haar vriend, Dodi Fayed, en die bestuurder, Henri Paul, agternagesit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sarel Strydom ·

Weer bewys dat sensasiesoekende Media en publiek mens se lewe kan verwoes.

TDW ·

Absoluut! Ek is al so moeg vir hierdie smerige “nuus”. Ek sal niks daarvan hou om so gevolg te word en van geskryf te word oor alles wat ek geëet het die dag nie en nog fotos oor hoe ek gekou het ook nie. Ek lees nie hierdie snert van bekendes se persoonlike lewens nie. Tensy hulle dit self aan die media openbaar, het hul doen en late niks met die publiek te doen nie. Respekteer die bekendes se privaatheid en moenie die paparazzi ondersteun nie.

Gits Gert ·

“Die afgelope WEET’… Skuus, Maroela, proefleser-glips. My OCD moes net…

Landi Slatter ·

Dagsê Gits Gert

Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Sus ·

Harry, jy sal heelmoontlik nie hierdie kommentaar lees nie maar wil net sê ek is tróts op jou! Jy staan jou man op ‘n waardige manier. Hoop die paparazzi kry hulle ry!

Francois le Cochon ·

Harry, maak soos Jennifer Lopez, en kom hou vakansie by my vriend se gastehuis in Boston, (Bellville), hier in Kaapstad. Net soos JL, kan jy hier rondloop en niemand sal jou lastig val nie. Moet dit net nie verkondig nie.

sarie van heerden ·

Baie mense smag na bekendheid en publisiteit wanneer hul besluit om bv akteurs en aktrises te word maar die arme Koninklikes is in daardie posisie gebore en hulle het nie daarvoor gevra of gewerk nie. Hulle wil nie die wereld vertel wat hul vir ontbyt of aandete geeet het nie. Gewone mense gebruik twitter of facebook om daarvan aan die wereld uit te basuin en dan wonder ek hoekom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.