Prins Philip: Die krag agter die kroon

Britte rou oor die dood van prins Pililp. (Foto: Glyn Kirk/AFP)

Hy het dikwels die hoofopskrifte gehaal vir sy onvanpaste uitlatings, maar prins Philip is in talle huldeblyke uitgebeeld as die stille staatmaker wat sy persoonlike ambisie opsy geskuif het om koningin Elizabeth II meer as sewe dekades lank te ondersteun.

Die prins is Vrydag in die ouderdom van 99 dood.

Gebore in die Griekse koninklike familie – hoewel hy verkies om as Deense prins beskou te word – het die hertog van Edinburg nooit self ʼn kroon gedra nie. Tog was hy altyd ʼn openbare teenwoordigheid aan die koningin se sy – en ʼn man na wie sy verwys het as haar krag en behoud.

Later in sy lewe het plig en tradisie eerste gekom en Philip was ʼn groot dryfveer agter talle welsynsorganisasies. Daarby het hy sedert Elizabeth in 1952 gekroon is by 22 219 geleenthede alleen opgetree.

Philip was egter gereeld in die sop oor uitlatings wat as “polities onkorrek” bestempel is, maar in ander gevalle waarskynlik as niks anders as rassisties bestempel sou word nie.

“Jy is toe nie opgeëet nie?” het hy gesê aan ʼn Britse student wat in 1998 na Papa Nieu-Guinee gereis het.

En op ʼn geskiedkundige staatsbesoek aan China in 1986 het die prins ʼn groep Britse studente gewaarsku: “As julle veel langer hier bly, gaan julle almal skrefiesoë hê.”

Dan was daar ook sy reputasie as ʼn man met ʼn oog vir ander vrou, iets waaroor die koninklike familie bekommerd was selfs voordat hy met Elizabeth getroud is. Hulle was glo bekommerd dat die jong vlootoffisier “rof, swak gemanierd en onopgevoed” is en “waarskynlik nie getrou gaan wees nie”.

Daar was gou agterdog oor ʼn vlaag affairs, maar Philip het net gelag oor praatjies oor sy beweerde rondlopery. “Vir die laaste 40 jaar kon ek nie roer sonder dat ʼn polisieman my vergesel nie. Hoe de joos sou ek kon wegkom met so iets?” het hy gesê.

Tuis het die hertog ʼn reputasie gehad as dat hy kil teenoor sy vier kinders, Charles, Anne, Andrew en Edward sou wees. Maar baie waarnemers het gesê Philip was die gom wat die koninklike familie aanmekaar hou.

Philip, die wêreld se langs dienende gemaal, was lewenslank uiters gesond en het in Augustus 2017, in die ouderdom van 96, sy laaste openbare verpligting nagekom. Hy is daarna egter gehospitaliseer vir ʼn hartoperasie.

In Januarie 2019 was hy betrokke in ʼn motorongeluk op die koninklike landgoed Sandringham, maar die prins was ongedeerd. Die Land Rover wat hy bestuur het, het omgeslaan en die prins het daarna sy rybewys prysgegee.

Verlede jaar het hy ʼn groot deel van die jaar weens die Covid-19-pandemie in isolasie saam met die koningin in die Windsor-kasteel in die weste van Londen deurgebring.

Philip is in die laaste jaar nietemin verskeie kere in die openbaar gesien, insluitend by die troue van sy kleindogter, prinses Beatrice, in Julie.

Die hertog het nie sommer oor sy eie gevoelens gepraat nie en het in ʼn seldsame onderhoud in 2011 gesê hy het vir hom ʼn rol in die koninklike familie deur verskeie probeerslae en foute uitgekerf. Gevra of hy suksesvol was, het hy aan die BBC op sy kenmerklik reguit manier gesê: “Ek kan minder omgee. Wie gee om wat ek dink. Ek bedoel dit is belaglik.”

Die koningin het veel meer oor sy groot bydrae te sê gehad. “Hy was, om dit eenvoudig te stel, al die jare lank my krag en behoud.”

Duisende huldeblyke is reeds aan die “Ysterhertog” gebring – en van bykans elke uithoek van die aarde.

Prins Harry en sy vrou, Meghan, gebruik hul webwerf in hierdie stadium uitsluitlik om hulde aan Philip te bring.

Philip se dood het dadelik tot bespiegeling gelei of die glanspaartjie na Engeland gaan terugkeer vir die begrafnis van Harry se oupa.

Meghan is swanger met die egpaar se tweede kind en die twee, ook bekend as hertog en hertogin van Sussex, woon nou in Los Angeles nadat hulle verlede jaar afstand van hul koninklike pligte gedoen het.

Hulle het nog nie ʼn openbare aankondiging gedoen of hulle die begrafnis gaan bywoon nie. Indien hulle dit wel doen, sal dit hul eerste terugkeer na Brittanje wees sedert die opspraakwekkende onderhoud met die Amerikaanse kletskoningin Oprah Winfrey.

Miljoene mense het na die onderhoud gekyk waarin Meghan onder meer aanvoer ʼn lid van die koninklike familie het oor die velkleur van die toe nog ongebore Archie, die egpaar se oudste seun, gespekuleer.

Die onderhoud het die grootste krisis sedert Diana, prinses van Wallies, se dood in 1997 vir die koninklike familie veroorsaak.

Dit het ook vrae laat ontstaan oor hoe Harry en Meghan deur sy familie ontvang sou word indien hulle Brittanje besoek.

Meghan verwag ʼn dogtertjie teen Mei of Junie, wat dalk ʼn reis na Engeland kan bemoeilik.

Prins Harry het glo ʼn gemoedelike verhouding met sy grootouers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elsabe ·

Ek hoop MM bly by haar huis. Sy hoort nie daar nie. Harry behoort alleen na Britanje gaan vir die begrafnis, om te treur en om te lap aan die geskeurde verhoudings met sy familie.

La-di-da ·

Ek is doodseker prins Harry sal die begrafnis bywoon. Sy vrou kan maar gerus by die huis bly nadat sy so gekerm het oor hoé sleg die koninklike familie haar behandel het. Ek voel eintlik jammer vir Harry wat in hierdie omstandighede weer sy familie in die oë moet kyk, na daardie gewraakte onderhoud!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.