Prins Philip Saterdag gegroet

Honderde ruikers blomme en huldeblyke vir prins Philip buite Buckingham-paleis in Londen. Philip is Vrydag in die ouderdom van 99 dood. (Foto: Tolga Akmen/AFP)

Die begrafnis van prins Philip, koningin Elizabeth II se man, sal Saterdag plaasvind, het Buckingham-paleis bekend gemaak. Dit sal weens die Covid-19-pandemie ʼn veel eenvoudiger en kleiner seremonie wees.

Die aankondiging oor die begrafnis is gedoen terwyl die egpaar se oudste seun en troonopvolger, prins Charles (72), ʼn hartroerende huldeblyk aan sy “liewe papa” gelewer het en gesê het die koninklike familie mis hom ongelooflik baie.

“My liewe papa was ʼn baie spesiale mens en ek dink hy sou verstom gewees het deur al die reaksie en die hartroerende dinge wat oor hom gesê is. En daarvoor is ons, my familie, diep dankbaar,” het hy gesê.

“Dit gaan ons bemoedig tydens hierdie verlies en besondere hartseer tyd.”

Die hertog van Edinburg – die 94-jarige koningin se eggenoot van 73 jaar – het Vrydag vreedsaam gesterf net twee maande voor sy 100ste verjaardag. Dit was die begin van ʼn agt dae lange nasionale routydperk.

Paleisamptenare sê die begrafnis sal regstreeks uitgesaai word en vind Saterdag 17 April om 16:00 (SA tyd) by die St. George-kapel by Windsor-kasteel, wes van Londen, plaas.

Dit sal voorafgegaan word deur ʼn nasionale minuut van stilte.

Die regering se inperkingsregulasies beperk roubeklaers tot net 30 mense en daar was sedertdien sterk gefokus op wie deel van die verkleinde gastelys gaan wees. Daar is veral bespiegel oor prins Harry wat vroeër sy koninklike pligte laat vaar en saam met sy Amerikaanse vrou, Meghan, na die VSA verhuis het.

Paleisamptenare het bevestig Harry sal die begrafnis bywoon, maar die swanger Meghan bly weens mediese redes tuis.

Die paartjie het die afgelope ruk ʼn vlaag beskuldigings teen die koninklike familie gemaak, waaronder beskuldigings van rassisme, asook dat hulle versuim het om Meghan met haar geestesgesondheidsprobleme te help.

Die Britse eerste minister Boris Johnson sal nie die begrafnis bywoon nie, het Downingstraat gesê.

“Die eerste minister wou deurlopend doen wat in die beste belang van die koninklike huishouding is en om soveel as moontlik familielede toe te laat om die begrafnis Saterdag by te woon,” het ʼn woordvoerder gesê.

Kanonsaluut

Kanonsalute het Saterdag deur die Verenigde Koninkryk (VK) gedawer terwyl die gewapende magte statig hulde aan die hertog gebring het.

Die gekoördineerde 41-ronde-saluut aan die voormalige koninklike vlootbevelvoerder is afgevuur teen een per minuut vanaf 12:00 Londense tyd in die stede Londen, Edinburg, Cardiff en Belfast, asook by vlootbasisse, op oorlogskepe ter see en in die Britse grondgebied in Gibraltar.

Soortgelyke salute – die meeste ingevolge militêre protokol – is ook in Canberra en Wellington afgevuur. Die koningin is ook die staatshoof in Australië en Nieu-Seeland.

By die Londense Tower het ʼn skare van meer as 100 omstanders ʼn eerbiedige stilte gehandhaaf terwyl hulle gekyk het hoe die kanonskote gevuur is.

By verskeie sportbyeenkomste is oomblikke van stilste gehandhaaf.

Die dood van die hertog, die langs dienende gemaal in Britse geskiedenis, word bestempel as ʼn enorme verlies vir die koningin.

Vlae halfstok

Vlae by regeringsgeboue hang halfstok en sal ook só hang tot na Philip se begrafnis.

Die goed geoefende protokol vir die hertog se dood – met die kodenaam Forth Bridge – is inderhaas hersien weens die Covid-19-pandemie en alle openbare byeenkomste waar skares kan saamdrom, is geskrap.

Die parlement word Maandag teruggeroep sodat wetgewers hulde kan bring, maar die hertog sal nie in staatsie lê nie en daar gaan ook nie ʼn weermagoptog wees nie.

Britse televisiekanale het Vrydag hul tydgleuwe skoongemaak vir spesiale uitsendings oor Philip se lewe, hoewel die BBC sê hy het klagtes ontvang oor die groot hoeveelheid nuusdekking.

Westminster-abdy, waar die egpaar in 1947 getrou het, het sy klok Vrydag 99 keer gelui, een keer vir elke jaar van die prins se lewe.

Huldeblyke, blomme

Koningin Elizabeth II en haar man, prins Philip. (Foto: Tower of London/Twitter)

Duisende huldeblyke van oor die wêreld het ingestroom – van politieke en geloofsleiers, tot ander koninklikes, staatshoofde en alledaagse mense.

Philip het in 2017 sy openbare verpligtinge laat vaar en het destyds, in die ouderdom van 96, gesê hy het nou sy deel gedoen.

Die egpaar het die afgelope jaar, weens die Covid-19-pandemie, hoofsaaklik in afsondering by die Windsor-kasteel gewoon.

Mense het Saterdag steeds hulde buite Buckingham-paleis gebring, ten spyte van versoeke van die koningshuis dat mense weens die pandemie nie saamdrom nie.

Honderde blomme wat buite die koningin se amptelike woning in Londen neergelê is, is intussen na Windsor geskuif, oënskynlik om verdere samedromming te verhoed.

ʼn Aanlyn boek van medelye op die koninklike familie se amptelike webwerf is beskikbaar gestel in die plek van die gewone openbare huldeblyke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SomeOne ·

dis hartroerend maar ook deel van ons elkeen se lewe, riv, prins philip

Korrelkop ·

Net 30 mense…. wel, hy wou in elk geval nie ‘n groot gedoente gehad het nie. Dalk tyd vir die antie om ook te groet. Charlie wag darem nou al baie lank.

Charles ·

Hoop maar sy wens om na sy dood as ń dodelike virus terug te keer om oorpopulasie te stuit word nie bewaarheid nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.