Prins Philip uit hospitaal ontslaan

Prins Philip, hertog van Edinburg, verlaat Dinsdag die hospitaal. (Foto: Daniel Leal-Olivas/AFP)

Koningin Elizabeth II se 99-jarige man, prins Philip, is Dinsdag uit ʼn hospitaal in Londen ontslaan ná behandeling van vier weke lank wat groot kommer oor sy gesondheid veroorsaak het.

Die hertog van Edinburg, soos hy amptelik bekend staan, is Dinsdag gesien waar hy die private King Edward VII-hospitaal agterin ʼn swart BMW verlaat.

Buckinghampaleis het bevestig dat die hertog ontslaan is en na Windsorkasteel, wes van Londen, teruggekeer het. Prins Philip en die koningin woon sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie in isolasie daar.

Paleisamptenare het gesê die hertog is vir ʼn ongespesifiseerde infeksie behandel en het ʼn “suksesvolle operasie vir ʼn bestaande toestand ondergaan”.

In ʼn verklaring van die paleis bedank Philip die medici wat hom by die King Edward VII- en St. Bartholomew-hospitaal help behandel het, asook almal wat beterskapwense gestuur het.

Die prins is volgens bronne heel opgeruimd.

Sy maand lange behandeling by die twee hospitale was Philip se langste hospitalisasie tot nog.

Die hertog is na ʼn spesialiseenheid by die St. Bartholomew-hospitaal oorgeplaas vir ʼn hartoperasie voordat hy op 5 Maart weer na die private hospitaal teruggekeer het.

Hy is aanvanklik op 16 Februarie op aanbeveling van sy dokter opgeneem nadat die prins gesê het hy voel olik. Buckinghampaleis het aanvanklik gesê Philip gaan na verwagting vir ʼn paar dae behandel word, maar het benadruk dat sy siekte nie Covid-19-verwant is nie.

Die paleis het later gesê hy word vir infeksie behandel sonder om enige verdere besonderhede te verskaf.

Weens sy ouderdom – Philip word 100 in Junie – was daar die afgelope ruk groot kommer oor die hertog se gesondheid, veral te midde van die herrie wat gewoed het oor die onderhoud wat sy kleinseun, prins Harry en sy vrou, Meghan, vroeër met die kletskoningin Oprah Winfrey gevoer het.

In die onderhoud onthul Meghan onder meer dat ʼn lid van die koninklike familie die egpaar gevra het watter velkleur hul ongebore baba gaan hê.

Die koningin het in reaksie op die bewerings van rassisme in ʼn verklaring gesê mense se herinneringe oor hoe haar kleinseun en sy vrou – Meghan se ma is swart en haar pa is wit – behandel is voordat hulle hul koninklike pligte laat vaar het, “kan verskil”.

Harry se broer, prins William, het in antwoord op vrae van verslaggewers later ontken dat die familie rassisties is.

Daar was ook kritiek oor die tydsberekening van die onderhoud omdat prins Philip in daardie stadium steeds in die hospitaal was.

ITV, wat die onderhoud in Brittanje uitgesaai het, het voor die tyd gesê hy sal die onderhoud uitstel as die hertog se toestand versleg, maar dit is uiteindelik wel op die geskeduleerde tyd uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Fubar

Goeie nuus. Bly die hertog is weer by sy familie.

Pooksy

Gogga maak baba bang. Maar baie bly hy is gesond. Baie goeie ouderdom.

Realis Thailand

Dis darem een man wie nooit sy mond gehou het as hy iets wou se
Hoop hy herstel en gee die ponie pers nog verder hel met sy uitsprake

Yvonne

Ratel taai