Prinses Charlene terug by gesin

Prinses Charlene saam met haar man prins Albert II en die tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella (Foto: Princess Caroline of Monaco and Her Family, Facebook)

Prinses Charlene (44) van Monaco, vrou van prins Albert II, is weer met haar gesin in Monaco herenig ná afwesigheid van byna ʼn jaar.

Die paleis het Saterdagmiddag in ’n verklaring bevestig dat die ma van die tweeling prins Jacques en prinses Gabriella teruggekeer het huis toe en sal voortgaan met haar herstel. Die paleis sê Charlene het nou kalmte en vrede nodig en die gesin se privaatheid moet gerespekteer word.

“Die volgende paar weke behoort prinses Charlene in staat te stel om haar gesondheid verder te versterk voordat sy haar amptelike pligte en verpligtinge geleidelik hervat,” lui die verklaring.

Maroela Media het vroeër berig Charlene het in Maart verlede jaar na Suid-Afrika gereis vir haar bewaringswerk met renosters. Hoewel sy oorspronklik net vir tien dae in die land sou bly, was sy vir byna agt maande lank in die land gestrand nadat sy ʼn ernstige oor-, neus- en keelinfeksie opgedoen het.

Sy het sedert November behandeling vir uitermatige uitputting en ander gesondheidsprobleme by ʼn private instansie buite die prinsdom gekry nadat sy uit Suid-Afrika na Monaco teruggekeer het.

Luidens die paleis se verklaring sien Charlene daarna uit om weer haar pligte te volvoer sodra sy weer heeltemal op die been is.

Charlene se terugkeer na Monaco is net betyds vir prins Albert se 64ste verjaardag Dinsdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

fs ·

Sy is skreeu maer! Oorgroot klere en juwele kan nie die benerige voorkoms verberg nie — hoop sy herstel gou en kom sommer weg uit daardie stresvolle verneuker se paleis

Chris dupreez ·

Op die foto lyk sy baie ongelukkig, glad nie stralend nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.