Prinses Diana se blitsige Escort opgeveil

Die veiling is gehou slegs ʼn paar dae voor die 25ste herdenking van die geliefde prinses Diana se dood (Foto: Facebook)

ʼn Ford Escort waarmee oorlede prinses Diana graag rondgerits het, is Saterdag vir £737 000, of sowat R14,5 miljoen, opgeveil.

Die veiling is gehou slegs ʼn paar dae voor die 25ste herdenking van die geliefde prinses se dood.

Die beskeie motor, wat nog maar net 24 961 myl (sowat 40 000 km) afgelê het, is by Silverstone Auctions in Warwickshire in Engeland opgeveil.

Volgens die afslaers het die veiling haas ongekende belangstelling van oor die wêreld gelok. Mense het vanuit Brittanje, Doebai en selfs die VSA aan die veiling deelgeneem.

ʼn Bieër van Alderley Edge, ʼn luukse dorpie in Noord-Engeland, het eindelik die meeste geld vir Diana se motor aangebied.

Die openingsbod was £100 000 (sowat R2 miljoen).

Diana het tussen 1985 en 1988 die swart Ford Escort RS Turbo S1 bestuur. Sy het verkies om in haar eie motor rond te blits, pleks daarvan om van die koninklike familie se veel meer statige Rolls-Royce- en Daimler-motors gebruik te maak.

Die Escort word nou nie juis as ʼn luukse motor beskou nie, maar was op sy dag ʼn topverkoper in die Verenigde Koninkryk. Volgens Auto Express is meer as 4,1 miljoen van die motors destyds verkoop.

Soortgelyke motors, met ʼn minder roemryke herkoms, word vir ongeveer £10 000 (sowat R197 000) verkoop.

Ford het dié motor egter volgens Diana se spesifikasies vervaardig. Volgens die afslaers is dit die enigste swart weergawe van die model. Die motor is aangepas deur kenmerke aan te bring soos ʼn tweede truspieëltjie en ʼn radio in die paneelkissie.

ʼn Ford-versamelaar het dit vantevore besit.

Diana is gereeld agter die stuurwiel afgeneem terwyl sy winkels en restaurante in Londen besoek het.

Nóg ʼn Ford Escort, wat prins Charles in 1981 as verlowingsgeskenk aan Diana gegee het, is verlede jaar vir £52 640 (sowat R1 miljoen) opgeveil en deur ʼn museum in Suid-Amerika opgeraap. Dit was voorheen in besit van ʼn Amerikaanse museum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Waarnemer ·

Is die koninklikes dan bankkrot dat hulle hul vloot motors opveil

Nommer 7 ·

Waarnemer, lees weer. Die motor se eienaar wat dit te koop aangebied het is ‘n versamelaar, nie die koninglike gesin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.