Prinses haar koninklike status kwyt ná ‘Japan se Harry en Meghan’ trou

Japan se voormalige prinses Mako, oudste dogter van kroonprins Akishino en prinses Kiko, en haar man, Kei Komuro, Dinsdag op ‘n mediakonferensie by die Grand Arc-hotel in Tokio om aan te kondig hulle is getroud. (Foto: Verskeie bronne/AFP)

Japan se prinses Mako is pas getroud met haar universiteitsliefde, Kei Komuro, en is in die proses haar koninklike status kwyt.

Volgens Japanse wetgewing verbeur vroue in die keiserlike familie hul status wanneer hulle met nie-adellikes trou. Mans in dié familie behou egter hul status sou hulle met nie-adellikes trou.

Prinses Mako het ook die tradisie van ʼn koninklike troue oorgeslaan en het ʼn betaling, wat vroue in die koningshuis aangebied word wanneer hulle die familie verlaat, van die hand gewys.

Sy is die eerste vrou in die koninklike familie om albei van die hand te wys.

Die egpaar sal na verwagting na die VSA verhuis, waar Komuro as ʼn prokureur werk. Dié skuif het onafwendbare vergelykings met die Britse koninklikes, Meghan Markle en prins Harry, tot gevolg gehad, en het die Japanse pasgetroudes die bynaam “Japan se Harry en Meghan” besorg.

Net soos Markle is Kumoru fyn dopgehou sedert sy verhouding met Mako bekend gemaak is. Hy is onlangs gekritiseer toe hy met ʼn poniestert na Japan teruggekeer het.

Sommige skinderblaaie en sosialemediagebruikers het gevoel dié haarstyl – wat as onkonvensioneel gesien word in Japan – was onwelvoeglik vir iemand wat met ʼn prinses gaan trou.

Daar was ook Dinsdag ʼn protes in ʼn Japanse park teen die paartjie se troue. Verskeie plakkate het geldelike kwessies opgehaal, spesifiek teenoor Komuro se ma.

‘Onvervangbaar’

Lede van die publiek het Dinsdag in Tokio, Japan, aan ‘n protesoptog deelgeneem teen die huwelik tussen Japan se prinses Mako en Kei Komuro. (Foto: Kazuhiro Nogi/AFP)

Mako het Dinsdag op ʼn mediakonferensie gesê sy het om verskoning gevra vir die “ongerief” wat haar troue ander mense besorg.

“Ek is jammer vir die ongerief en ek is dankbaar vir diegene wat volgehou het om my te ondersteun. Vir my is Kei onvervangbaar – om te trou was ʼn nodige keuse vir ons,” het sy gesê.

Komuro het op sy beurt gesê hy is lief vir Mako en wil die res van sy lewe saam met haar deurbring.

“Ek is lief vir Mako. Ons kry net een lewe en ek wil hê ons moet dit deurbring saam met die een vir wie ons lief is,” het hy volgens AFP gesê.

“Ek is hartseer dat Mako weens valse aantygings in ʼn slegte geestelike en fisieke toestand is.”

Mako het haar woning in Tokio omstreeks 10:00 verlaat om haar huwelik te laat registreer en het verskeie kere gebuig voor haar ouers, kroonprins Akishino en kroonprinses Kiko. Sy het ook haar jonger suster gedruk voor sy weg is, het die nuusbron Kyodo berig.

Daar was oor die jare buitensporige mediadekking van die paartjie, wat veroorsaak het dat die prinses aan posttraumatiese stres ly, het Imperial Household Agency (IHA) vroeër gesê.

Haar verhouding het deurlopend groot omstredenheid veroorsaak. Die voormalige prinses het in 2017 aan Komuro verloof geraak en die twee sou die volgende jaar trou.

Die troue is egter uitgestel weens bewerings dat Komuro se ma geldelike probleme het – sy moes glo ʼn lening by ʼn voormalige verloofde aangaan en het hom nooit terugbetaal nie.

Die paleis het enige aandeel hierin ontken, hoewel kroonprins Akishino gesê het dit is belangrik dat die geldelike kwessies opgelos word voordat die paartjie in die huwelik tree.

Volgens Rupert Wingfield-Hayes, woordvoerder vir BBC Tokio, is die ware rede vir die vyandigheid teenoor Komuro weens konserwatiewe Japannese wat glo hy is nie ʼn waardige eggenoot vir die niggie van ʼn keiser nie.

Komuro, wat ʼn werksaanbod van ʼn topprokureursfirma in New York ontvang het, kom uit ʼn nederige agtergrond en plaaslike poniekoerante delf al vir jare vir inligting oor sy familie, ook oor sy ma.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anonymouse ·

Ek wens ons wil in hierdie moderne eeu wegdoen met koningklikes. Almal van hulle. Om mense so te verafgod net omdat hulle uit die regte baarmoeder kom is uiters belaglik. Ek hoop diepaartjie wat die veragterlike instellings agterlaat, alle voorspoed toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.