Private straler om hond uit NZ te “repatrieer”

Munchkin (Foto: AFP)

’n Australiese verloofde paartjie beplan om derduisende dollar op te dok om ’n private straler te huur sodat een van hulle saam met hul geliefde hond betyds vir Kersfees van Nieu-Seeland na Australië kan vlieg.

Munchkin is ’n optelhond van Bali wat vyf jaar gelede deur Tash Corbin en David Daynes van Australië aangeneem is. As gevolg van Australië se streng reëls rakende die invoer van troeteldiere kon die paartjie nog nie hul nuwe gesinslid by hulle aan huis verwelkom nie.

Sy het die afgelope drie jaar in Singapoer by verskeie pleeggesinne deurgebring nadat sy nie haar mediese toetse om Australië binne te gaan, geslaag het nie.

Corbin en Daynes het in 2019 na Nieu-Seeland verhuis nadat dié land Munchkin aanvaar het. Hulle het gehoop om tydelik in Nieu-Seeland te woon totdat Australië Munchkin se toegang tot dié land goedgekeur het.

Corbin het egter om mediese redes alleen teruggekeer na die gesin se huis in Australië terwyl Daynes saam met Munchkin vir die groen lig van Australië gewag het.

Corbin is nou al vyf maande van haar geliefde hond en verloofde geskei.

Australië het intussen eindelik Munchkin se toetrede tot die land goedgekeur, maar Covid-19 het nou weer ʼn stokkie voor die paartjie se planne gesteek om haar huis toe te neem, aangesien vlugte tussen dié twee lande opgeskort is.

Corbin het gevolglik besluit om ’n private straler teen sowat AU$45 000 (ongeveer R510 000), te huur om Munchkin en Daynes na Australië te vlieg. Die paartjie hoop om passasiers te kry om die private straler se koste te help dek.

“Die geld maak nie vir ons saak nie. Die belangrikste is dat ons as gesin saam Kersfees vier,” het Corbin gesê.

Met die beperkings wat weens die pandemie ingestel is, is daar min vlugte tussen Nieu-Seeland se Suideiland en lughawens naby die Sunshine Coast beskikbaar. Om boonop van Nieu-Seeland se Noordeiland te reis, waar daar tans ’n virus-uitbreking is, sou Daynes vir twee weke in kwarantyn geplaas moes word. Dit sou die gesin se tyd saam verkort.

Munchkin se aannemingsproses het die paartjie se sak reeds tot só ʼn mate geruk dat Corbin die hond “Million Dollar Munchkin” op sosiale media gedoop het.

“Ons het sowat drie jaar gelede ophou tel toe ons op $40 000 (R455 000) gestaan het.

“Ons het nooit aan die begin van hierdie proses verwag dat dit soveel sou kos of so lank sou neem nie.”

Corbin sê sy en Daynes is in ’n bevoorregte posisie om die fondse te hê en daar is “geen manier” dat sy haar geliefde vierpotige ooit kan agterlaat nie.

“Sy is nou ons familie. Ek is so lief vir haar en sy is so ’n wonderlike klein siel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Herman ·

Ek dink dit moet lees $45 000 en nie $450 000. Of anders moet dit R5 100 000 wees.

Sune van Heerden ·

Dagsê Herman

Dankie dat jy ons op die fout gewys het, dit moet inderdaad slegs $45 000 wees.
Ons het die berig gewysig.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Aai ·

As jy liefde het vir diere en jy het geld of mense dra by sien ek nie fout met dit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.