Probleme kan kom ná die verkiesingsuitslae in Tanzanië

Argieffoto

Argieffoto

Die Chama Cha Mapinduzi- party (CCM of rewolusionêre party) se presidensiële kandidaat, John Magufuli, is Donderdagaand aangewys as die wenner in Tanzanië se presidentsverkiesing.

Magufuli het 58% van die stemme op hom verenig. Vier opposisiepartye het saamgespan teen die CCM as die Ukawa-koalisie. Hul kandidaat, Edward Lowassa, het 40% van die stemme op hom verenig. Die opposisie het inderdaad sy beste vertoning ooit teen die regerende party gelewer.

Die verkiesing was omstrede nadat stemme op die eiland Zanzibar, wat ʼn semi-outonome gebied is, ongeldig verklaar is deur die Tanzaniese verkiesingskommissie. Die verkiesingskommissie het aangedui dat daar ongerymdhede op Zanzibar voorgekom het. Dit is nie duidelik of daar ʼn nuwe ronde verkiesings op dié eiland gaan plaasvind nie. Lowassa het intussen aangedui dat daar kullery in die verkiesing plaasgevind het, en dít regoor Tanzanië.

Die vorige president, Jakaya Kikwete, het onlangs sy twee termyne van vyf jaar elk uitgedien en die CCM het Magufuli aangewys as sy kandidaat. As minister van werke sedert 2010 was Magufuli ʼn relatief onbekende kandidaat en min is oor sy beleidsrigting bekend.

Lowassa, ʼn voormalige eerste minister wat ʼn paar maande gelede van die CCM weggebreek het, het egter gehoop om die verkiesing te wen. Lowassa glo egter hy het wel die verkiesing gewen en dit kan tot onstabiliteit lei as die opposisie nie die uitslag binnekort aanvaar nie.

Die Europese Unie (EU), die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en die Afrika-Unie (AU) het egter die verkiesing as “grootliks vry en regverdig” onderskryf.

Tanzanië het sy onafhanklikheid in 1964 gekry en is só genoem nadat Tanganjika en Zanzibar, die twee semi-outonome gebiede, verenig is. Die eerste president was Julius Nyerere. Nyerere was bekend vanweë sy instelling van ʼn ongenaakbare, sosialistiese beleid, die sogenaamde “ujamaa”-beleid. Ujamaa het neergekom op sosialistiese beheer oor die landbou en nasionalisering van myne en nywerhede. Dit was rampspoedig en Tanzanië het eers ná Nyerere se aftrede in 1985 op ʼn meer oop ekonomiese stelsel besluit.

Nyerere het ook verskeie ANC-kampe en -missies van die 1960’s tot in 1992 gehuisves. Die huidige Suid-Afrikaanse president, Jacob Zuma, sowel as die adjunk-president, Cyril Ramaphosa, het op ʼn stadium in ANC-kampe in Tanzanië gewoon.

Die CCM (eers genoem Tanzania African National Union, TANU) was die enigste party wat toegelaat is in die eenpartystaat. ʼn Veelpartystelsel is eers in 1995 ingestel, maar die CCM regeer en oorheers steeds die Tanzaniese politieke stelsel – nou al vir 51 jaar, die langste heerskappy van een party in Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Skaapkop ·

Ongeruimdhede m.w. ongerymdhede
Rondes m.w. rondtes
Sommer so met ‘n oogopslag

Peet Schabort ·

Dis ‘n goeie vraag veral siende die onvoorspelbaarheid komende van/uit Afrika.
‘Ongeruimdhede’ moet wees ‘ongerymdhede’ in die derde paragraaf.

Mariné Lourens ·

Dagsê Peet. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is gewysig. Groetnis, Mariné (nms Maroela Media)

stoney ·

Toe ek nog laas in die skoolbanke gesit het, het ons dit gespel as “ongerymdhede”. Belê asb in ‘n goeie woordeboek. Dit sal sulke blapse uitskakel.

vermeende ·

Tot nou is die enigste uitsondering in Afrika Botswana wat stabiel is. En so gaan dit ook hier in SA wees. Dit is ongehoord vir n politieke party in Afrika om demokraties verower te word en die uitslag te aanvaar, daar volg altyd bloed vergieting.

Rose ·

Ai, verwag darem dat spelfoute nagegaan sou word voor plasing…. “‘n nuwe ronde verkiesings..” Dalk rondte

Delia ·

Jy’s reg Rose…..mens sukkel maar soms, soos met ‘tromspeler’ en ‘dromspeler’, tromme en dromme….

Ben ☺☺☺ ·

Kan nie die kans mis nie….hulle leer by die beste spellers, die lesers…lol

Ben ☺☺☺ ·

wow !!! hulle het my kommentaar geplaas – ek moes iets verkeerd gedoen het…

nico ·

Kan al julle oud taal- onderwysers asb. meer kommentaar lewer op die inhoud. Dit is eintlik waaroor die berig gaan. Die feit dat regerende partye nooit in Afrika ‘n demokratiese verkiesing wen nie, voorspel niks goed vir SA. (Ongeag hoe mens dit spel.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.