‘Profeet’ in hof oor verkragting

Walter Magaya van PHD Ministries en sy vrou, Tendai Katsiga-Magaya (Foto: Walter Magaya, Facebook)

Walter Magaya van PHD Ministries en sy vrou, Tendai Katsiga-Magaya (Foto: Walter Magaya, Facebook)

Walter Magaya, stigter en leier van die Prophetic Healing and Deliverance (PHD)-bediening in Zimbabwe, het Saterdag in die hof verskyn op aanklag van verkragting.

Magaya is Vrydagaand in hegtenis geneem op aanklag dat hy ʼn 25-jarige universiteitstudent in Junie verlede jaar verkrag het. Na bewering het Magaya die vrou na sy huis in Mt Pleasant in die hoofstad genooi. Sy is glo alleen in ʼn kamer gelos waarna Magaya nakend teruggekeer het en haar verkrag het. Volgens die klagstaat het Magaya ook nie beskerming gebruik nie en hy het haar ná die beweerde aanval glo $200 gegee. Sy het ʼn maand later vir haar kêrel daarvan vertel.

Magaya het voor magistraat Vakai Chikwekwe in die Harare-magistraatshof verskyn. Hy is vrygelaat op borgtog van $2 000 en moes sy paspoort indien. Hy moet ook drie maal per week by die polisie aanmeld.

Die staat, wat deur Gwinyayi Shumba verteenwoordig word, het nie die aansoek om borgtog teengestaan nie.

Magaya word deur Everson Chatambudza verteenwoordig. Die saak is tot 15 September uitgestel.

ʼn Bron in die polisie het aan African News Agency gesê die inhegtenisneming kom in opdrag van pres. Robert Mugabe.

Magaya is bekend binne die streek en hy het talle volgelinge. Hy het al toere na Suid-Afrika en Botswana onderneem met ʼn groot geselskap van meer as 15 busse en verskeie motors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Drieks ·

Ek glo hierdie man gaan verwoes word deur Mugabe. Gelukkig gaan Mugabe en Zuma eendag bekend wees vir die swakste president ooit.

Ander Koos ·

Net weer nog ‘n sogenaamde “geestelike” wat godsdiens vir eie gewin gebruik. Mense kan gerus vir hulleself dink en ophou om allerhande snert te glo. ” Man’s imagination will always convert the magic of God to his own purpose” Dr. BJF Laubacher 1897-1984.

Koos ·

Die is net nog ‘n geval wat regter Mabel kan gebruik om haar teorieë te bewys.

elizabeth ·

En? Hoekom nuus oor dit uit Zim?
Ons kry genoeg van dit in ons eie land.
Nog n sg “engel”..siek lot

snoefie ·

hoekom n maand wag voordat sy haar kerel vertel het? hoekom n jaar wag voordat sy hom aangekla het? iets ruik af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.