Profiel: Die einde van die Mugabe-era

Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe saam met sy vrou Grace . Foto: GCIS

Robert Mugabe se bedanking kom ná ʼn week van onstuimigheid in Zimbabwe.

Die weermag se magsvertoon het uiteindelik daartoe gelei dat Mugabe die trekpas gekry het as leier van die Zanu-PF en daar met ʼn proses begin is om hom in ʼn staat van beskuldiging te plaas voor hy bedank het.

Robert Gabriel Mugabe is op 21 Februarie 1924 naby Kutama gebore, ʼn paar maande nadat Zimbabwe, toe nog Suid-Rhodesië, ʼn Britse kolonie geword het. Dit het gebeur nadat ʼn referendum gehou is om Suid-Rhodesië by Suid-Afrika in te lyf óf om dit ʼn selfregerende Britse kolonie te maak.

Mugabe se pa, Gabriel Matibiri, was ʼn skrynwerker, maar het in 1934 glo gaan werk soek in Bulawayo. Hy het glo weer getrou en met ʼn gesin begin in Bulawayo en Mugabe se ma, Bona, moes alleen na haar vier kinders omsien.

Mugabe was een van die min mense in Suid-Rhodesië wat behoorlike onderrig gekry het. Hy het by die elite St. Francis Xavier Kutama College skoolgegaan en later ʼn onderwyser geword. Hy het ʼn beurs ontvang en aan die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap gaan studeer. Hy het in 1951 sy BA-graad in geskiedenis en Engels behaal.

Mugabe het in 1957 na Ghana vertrek en daar as onderwyser begin werk. Hy het hier sy eerste vrou, Sally Hayfron, ontmoet. Mugabe is in 1960 terug na Suid-Rhodesië, glo om Hayfron aan sy ma voor te stel. Hy was glo erg ongelukkig oor die gebeure in die land destyds. Hy het na bewering baie gepraat oor die onafhanklikheid wat hy in Ghana ervaar het, en die beginsel van gelykheid gegrond op die beginsels van Marxisme. Dit was die ontstaan van Mugabe se lang en volhardende politieke loopbaan.

Robert Mugabe (Foto: ANA)

Mugabe is by die Nasionale Demokratiese Party betrek en later as sy sekretaris aangestel. Sy politieke loopbaan het tot gevolg gehad dat hy 11 jaar lank ʼn politieke gevangene was. Mugabe het later die Zimbabwe African National Union-beweging gelei en was een van die sleutelspelers in die Lancaster House-ooreenkoms wat gelei het tot die verkiesing in 1980 en ontstaan van ʼn demokratiese Zimbabwe.

Mugabe het hierna as eerste premier gedien en is in 1987 tot president verkies nadat ʼn nuwe grondwet van krag geword het. Sy vrou, Sally, is in 1992 dood en Mugabe is in 1996 met Grace getroud. Sy is 41 jaar jonger as Mugabe en het as sy sekretaresse gewerk. Sy is in Benoni, Suid-Afrika, gebore. Sy was destyds nog met Stanley Goreraza, ʼn vlieënier in die Zimbabwiese lugmag, getroud toe sy in ʼn verhouding met Mugabe betrokke geraak het. Grace se voorliefde vir inkopies en haar duur smaak het haar die bynaam “Gucci Grace” op die hals gehaal. Meer onlangs het die bynaam na “DisGrace” verander.

Mugabe is lank as ʼn held van Afrika se onafhanklikheidsbewegings beskou, maar die status het vinnig begin kwyn nadat hy die vervolging van talle wit boere en grondonteiening in Zimbabwe in 2000 toegelaat het. Talle mense het hulle lewe verloor en sy regime is wyd van korrupsie beskuldig. Die regime het verder berug daarvoor geword dat hulle hul politieke teenstanders vinnig en dikwels permanent snoer.

Zimbabwe het onder Mugabe se leiding tot hiperinflasie gesink nadat inflasie met meer as ʼn miljoen persent gestyg en ekonomiese groei tot minus 18% gekrimp het. Dit het miljoene Zimbabwiërs in erge armoede gedompel en die lewensverwagting in die land het van 61 tot 40 jaar verlaag.

Koningin Elizabeth het Mugabe in 1994 tot ʼn ridder geslaan vir die rol wat hy in die ontwikkeling en verbetering van diplomatieke en politieke bande tussen Zimbabwe en die Verenigde Koninkryk gespeel het. Die titel is in 2008 herroep. Mugabe is ook van sy pos as welwillendheidsambassadeur van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) onthef nadat die aanstelling wyd opslae gemaak het. Mugabe het 12 eregrade ontvang, maar vier grade is herroep ná die instellings hom van menseregtevergrype beskuldig het. Mugabe is ook berug vir sy openbare uitsprake.

Grace Mugabe (Foto: ANA)

Grace is in 2014 verkies tot leier van die Zanu-PF se vroueliga. Met die posisie en haar nabyheid aan Mugabe het sy presidensiële ambisie begin ontwikkel en vinnig aan ʼn politieke loopbaan begin bou. Sy het Mugabe onder meer oortuig om sy adjunkpresident Joice Mujuru in die pad te steek. Grace is gerugsteun deur haar invloedryke faksie in die Zanu-PF, bekend as die G40, en was instrumenteel in die uitroeiing van verskeie alternatiewe potensiële opvolgers vir haar man se presidentskap.

Die G40-faksie het egter meer aangevat as wat hulle kon hanteer toe hulle Mugabe vroeër oortuig het om adjunkpresident Emmerson Mnangagwa in die pad te steek. Dit was glo Grace se kans om adjunkpresident te word.

Dit is egter wat sy gedink het tot die weermag ʼn magsvertoon begin het wat uiteindelik daartoe gelei het dat sy en haar man van hul pligte in die Zanu-PF onthef is en in huisarres geplaas is. Mugabe is ʼn ultimatum gegee om te bedank of in ʼn staat van beskuldiging geplaas te word. Grace het glo te midde van al die drama na Namibië gevlug hoewel niemand weet waar sy haar tans bevind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Rianto ·

Hulle gaan die Bokke nou afrig. Kan wragtig nie slegter doen down as AC…

Valerie ·

Rianto, weet nie of ek moet lag of ween nie. Wat gaan met Bafana aan? Die Springbokke het darem hier en daar ‘n wedstryd gewen, maar die sokkerspelers verbaas my. So, gee my maar Federer enige dag. Dis omstrent wat ek van sport af weet.

Ridder ·

Die koningin moes net harder geslaan het met mugabe se ridderskap destyds dan sou latere probleme nie gebeur het . . .

Andre ·

Mugabe was net die ‘oortjies van die seekoei’!

Onsigbaar onder die water hang daar steeds die ‘vet logge lyf’ van ‘n enorme seekoei naamlik Zanu PF.

Die ‘oortjies’ was vir 37 jaar bó die water gehou deur die “gevaarlikste wilde dier’ in Afrika.

Hoewel Mugabe nou verwyder is bly die gesiglose massamoordenaars van Zanu PF steeds in beheer in Zimbabwe.

So daar is nog geen rede tot blydskap nie vir Zimbabwiërs.

Alvorens die opposisie MDC Party van Morgan Tsvangirai die regering oorneem dreig daar steeds ‘n bose, gevaarlike ‘seekoei’ wat geen respek het vir menseregte of demokrasie nie.

Spaar die feesviering tot later.

Valerie ·

Wow, die diktator (en meer) Mugabe het oorgeneem toe ek in die destydse Std 9 was. oor die jare heen het ek wonderlike Zimbabwiërs (Rhodesians) ontmoet, wit en swart, wat met heimwee terugverlang het na hul eier land. Ek hoop hulle kan nou terugkeer (sonder om gedwing te word behalwe as hul hier onwettig is, obviously) en daar die eens pragtige en skatryk land optel en heelmaak.

Een man het die plek verwoes, en een man verwoes Suid-Afrika, en Zuma moet waai . . . dit is die laaste kans vir hierdie eens magtige skip om weer boontoe toe beur. Elke mens soek sy eie plekkie, of dit nou hier is, in Zim, of on Ierland. Ek hoop regtig dinge verbeter vir Zim.

Ashley ·

Aitsa, die vabond is geleerd en al!! Nogal daar by julle graad gevang. Dok DF Malan draai sekerlik nou in die grafkelder om op n ander sy. Hy was mos aan diens in 1951.

Theresa B ·

LOL!! Dankie Rianto en Ridder. Hoe lekker lag ek nou. (Ek wonder net wat het van “Mammie” geword en wat het sy nou te sê? Arme Robert gaan seker nou ‘n snotklap kry by haar.

Johann ·

Nou wonder my logika bloot hardop: presies waar in die tragiese verhaal van verval en vergryp pas die EFFfers se komplimente en ere huldeblyk aan BOBs NOT Ur Uncle se legacy?

Tanya Crouse ·

Ek is dankbaar dit sy val tot dusver sonder bloed/geweld is. Die toekoms sal wys of die Zimbabwiese bevolking (Die man in die straat) iets hieruit geleer het en in vrede ‘n groot verandering teweeg bring.

Henk ·

Waarom word daar NOOIT NERENS berig van die 20 000 tot 25 000 Matabeles wat Mugabe laat uitmoor het in die vroee 80’s omdat hulle hom teengetsaan het nie? Waarom is die saak nog NOOIT voor die wereldhof geplaas nie?

Theresa ·

Wragtie hoogtyd. Maar soos almal waarsku – daar is steeds wrede mense wat hopelik nie gaan wen nie – dat iemand wat regverdig is en voorspoedige denkrigtings vir ALMAL in gedagte het, aan bewind kom. En miljoene mense terug na hul land kan gaan om ‘n nuwe begin te maak. Ten minste is dit al ‘n stappie vorentoe.

Neels ·

Gaan lees die biografie van die nuwe president van Zim. Emerson Mnangagwa.Eyeopener. Ook van ou Gracie! En sommer ook van Mugabe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.